YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 12

12
Maria gooi lekkerruik-olie op Jesus se voete
(Ook Matt 26:6-12; Mark 14:3-8; Luk 7:36-39,46)
1Ses dae voor die Paasfees het Jesus na Betanië gegaan. Betanië was die plek waar Lasarus gewoon het. Jesus het voorheen vir Lasarus weer laat lewe nadat Lasarus gesterf het.
2Die mense het vir Jesus 'n ete gemaak. Marta het die kos bedien en Lasarus was een van die mense wat saam met Jesus geëet het. 3Maria het 'n halwe liter lekkerruik-olie gebring. Die olie was baie duur, want dit was regte nardus-olie. Maria het die olie op Jesus se voete gegooi en sy het toe Jesus se voete afgedroog met haar hare. Die hele huis het lekker geruik.
4Judas Iskariot was een van Jesus se dissipels. Hy was die dissipel wat later vir Jesus verraai het. Hy het gesê: 5“Maria het nou hierdie duur olie gemors. Ons kon dit verkoop het vir 300 silwer geldstukke en dan kon ons die geld vir die arm mense gegee het.”
6Maar Judas was nie regtig bekommerd oor die arm mense nie. Hy was 'n dief. Hy het die sak gedra waarin Jesus en die dissipels se geld was en hy het baie maal van die geld gesteel. 7Jesus het gesê: “Nee, Judas, los vir Maria! Sy het die olie gebêre om My nou te salf soos die mense My sal salf wanneer hulle My begrawe. 8Die arm mense sal altyd by julle wees, maar Ek sal nie altyd by julle wees nie.”
Die Joodse leiers besluit hulle wil vir Lasarus doodmaak
9Baie Jode het gehoor dat Jesus in die dorpie Betanië is. Hulle het toe na Betanië gegaan. Hulle wou vir Jesus sien, maar hulle wou ook graag vir Lasarus sien. Dit is Lasarus wat dood was, maar Jesus het hom weer laat lewe. 10Die priesterleiers het besluit om Lasarus ook dood te maak, 11want baie van die Jode het gehoor dat Jesus vir Lasarus weer laat lewe het, en hulle het in Jesus geglo. Hulle het nie meer soos die ander Jode gedink nie.
Jesus ry op 'n donkie in Jerusalem in
(Ook Matt 21:1,4-5,7-9; Mark 11:1,7-10; Luk 19:28,35-38)
12Die volgende dag het die mense gehoor dat Jesus na Jerusalem kom. Daar was baie mense in Jerusalem om die Paasfees te vier. 13Hulle het takke van palmbome geneem en hulle het na Jesus toe gegaan. Hulle het hard geskree:
Prys God!
Prys die Man wat kom.
Die Here het Hom gestuur,
Hy is die Koning van Israel.
14Jesus het 'n jong donkie gekry en Hy het op die donkie gaan sit. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is:
15 Sion, jy moenie bang wees nie,
want jou Koning kom na jou toe,
Hy ry op 'n jong donkie.
16Jesus se dissipels het nie dadelik verstaan wat gebeur het nie. Hulle het later verstaan toe God gewys het Jesus is ook God. Hulle het toe teruggedink aan die dag toe Jesus op 'n jong donkie in Jerusalem ingery het en hulle het verstaan dat die mense gedoen het soos daar in die Ou Testament oor Jesus geskryf is.
17Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep het en hom weer laat lewe het, het oral vertel wat Jesus gedoen het. 18Daarom het baie mense na Jesus toe gegaan toe Hy na Jerusalem gekom het. Hulle het gehoor dat Jesus hierdie wonderteken gedoen het. 19Die Fariseërs het vir mekaar gesê: “Kan julle sien, ons kry niks reg nie. Al die mense gaan saam met Jesus!”
Jesus se tyd het gekom
20Daar was ook Grieke wat gekom het om God op die Paasfees te aanbid. 21Die Grieke het na Filippus toe gekom en hulle het vir hom gesê: “Meneer, ons wil graag vir Jesus sien.”
Filippus het van die stad Betsaida in die provinsie Galilea gekom. 22Filippus het na Andreas toe gegaan en hy het vir Andreas gesê die Grieke wil vir Jesus sien. Andreas en Filippus het gegaan en hulle het vir Jesus gesê die Grieke wil Hom sien. 23Jesus het vir hulle gesê: “Die tyd het gekom. Nou sal God wys dat Ek, die Seun van die mens, ook God is. 24Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer 'n mens 'n koringkorrel in die grond saai, dan gaan dit dood, en daarna groei die koring en dit dra baie koringkorrels. Maar as die koringkorrel nie in die grond val en doodgaan nie, dan word dit nie baie nie. 25As iemand dink sy eie lewe is baie belangrik, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand besef dat sy lewe op aarde nie belangrik is nie, dan sal hy sy lewe hou, hy sal altyd aanhou lewe. 26Almal wat My dien, moet doen wat Ek doen, en hulle moet aanhou om die dinge te doen wat Ek doen. My Vader sal sê almal wat My dien, is belangrik.”
Die Vader sê Hy sal wys dat Hy God is
27Jesus het gesê: “Ek is nou baie bekommerd en ontsteld. Wat moet Ek vir my Vader vra? Moet Ek vir Hom vra dat my tyd van swaarkry nie sal kom nie? Nee, Ek het na die wêreld gekom om swaar te kry.”
28Jesus het gebid en gesê: “Vader, wys dat U God is!”
Toe het God uit die hemel gesê: “Ek het gewys dat Ek God is en Ek sal dit weer doen.”
29Die mense wat daar was, het dit gehoor. Party het gesê: “Ons hoor donderweer,” en ander mense het gesê: “'n Engel het met Jesus gepraat.”
30Jesus het vir hulle gesê: “God het uit die hemel gepraat, nie sodat Ék sy stem kan hoor nie, maar sodat júlle sy stem kan hoor. 31Nou sal God die mense van die wêreld oordeel. Nou sal Hy die Satan, die leier van die mense van hierdie wêreld, oorwin. 32Wanneer Ek hoog bo die grond is, dan sal Ek almal nader trek na My toe.”
33Toe Jesus gesê het Hy sal hoog bo die grond wees, het dit beteken Hy sal aan 'n kruis hang. 34Die mense het vir Jesus gesê: “Ons het in die Ou Testament gelees dat die Christus vir altyd op die aarde sal bly, maar jy sê die Seun van die mens sal hoog bo die grond wees. Wie is die Seun van die mens? Van wie praat jy?”
35Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die Lig. Die Lig sal nog net 'n kort tydjie by julle wees. Wanneer dit lig is, moet julle aanhou werk. Dan, wanneer dit donker word, sal julle nie skrik nie. Wanneer 'n mens in die donker werk, weet hy nie wat hy doen nie. 36Ek is die Lig en Ek is nou hier by julle. Julle moet in My glo, dan sal julle kinders van die lig wees.”
Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy weggegaan, en hulle kon Hom nie kry nie.
Party mense glo nie in Jesus nie, maar ander glo in Hom
37Die mense het baie wondertekens gesien wat Jesus gedoen het, maar hulle het nie in Jesus geglo nie. 38Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het:
Here, niemand het geluister
na wat ons sê nie,
niemand het besef hoe sterk
die Here is nie.
39Jesaja het ook gesê hoekom hulle nie kon glo nie. 40Hy het gesê:
God het die mense se oë
blind gemaak,
Hy het hulle harte hard gemaak.
Daarom kon hulle oë nie sien nie,
en hulle harte kon nie verstaan nie,
en hulle het nie begin lewe
soos God wil hê nie.
Daarom sal Ek hulle nie
gesond maak nie, sê God.
41Jesaja het dit alles gesê, want hy het gesien Jesus is God. Hy het van Jesus gepraat. 42Baie mense het in Jesus geglo, ook party van die leiers, maar hulle het dit vir niemand vertel nie. Hulle was bang dat die Fariseërs sal sê hulle mag nooit weer in die sinagoge kom nie. 43Daardie leiers wou meer belangrik wees vir mense as vir God.
Jesus praat oor die mense wat glo en die mense wat nie glo nie
44Jesus het hard gesê: “Iemand wat in My glo, glo nie net in My nie, hy glo ook in God wat My na die wêreld gestuur het. 45Ja, as iemand My sien, dan sien hy ook vir God wat My na die wêreld gestuur het. 46Ek het gekom om 'n lig vir die mense van die wêreld te wees. Daarom sal elkeen wat in My glo, nie meer in die donker lewe nie. 47Ek het nie gekom om die mense van die wêreld te oordeel nie. Ek het gekom om hulle te red. Daarom, wanneer mense hoor wat Ek sê, maar hulle doen nie wat Ek sê nie, sal Ék hulle nie oordeel nie, 48die woorde wat Ek gesê het, sal hulle oordeel op die laaste dag. Hulle glo nie in My nie en hulle luister nie na wat Ek sê nie. 49Die dinge wat Ek gesê het, kom nie van My nie. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, het vir My gesê presies wat Ek moet sê. 50Ek weet die dinge wat die Vader vir My gesê het om te doen, laat mense vir altyd lewe. Daarom sê Ek wat die Vader vir My gesê het.”

Currently Selected:

Johannes 12: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy