YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 65

65
Ek sal hulle straf oor hulle sondes
1Die Here sê:
“Ek wou mense help,
mense wat My nie gevra het nie,
Ek het mense na My toe gebring,
mense wat My nie gesoek het nie.
Hulle was mense
wat My nie aanbid het nie,
maar Ek het vir hulle gesê:
‘Hier is Ek, hier is Ek.’
2Ek het my hande na hulle toe
uitgesteek, elke dag,
maar hulle was opstandige mense,
hulle het 'n pad geloop
wat nie goed is nie,
hulle het gedoen wat hulle wil.
3Hulle was mense
wat My hartseer gemaak het,
hulle was altyd teen My.
Hulle het vir afgode offers gebring,
hulle het wierook gebrand
op plat klippe.
4Hulle bly in die nag in grafte,
hulle kruip daar weg.
Hulle eet varkvleis,
daar is onrein vleis in hulle borde,
5maar hulle sê:
‘Moenie naby ons kom nie,
moenie aan ons raak nie,
want ons is gewyd.’
Hierdie mense is soos rook
in my neus,
soos 'n vuur wat die hele dag
aanhou brand.
6Ek het dit opgeskryf.
Ek sal nie stilbly nie,
Ek sal hulle straf.
Ek sal hulle straf 7oor hulle eie sondes
en oor die sondes van hulle voorvaders
wat op die berge wierook gebrand het
en My beledig het.
Ek sal hulle straf oor hulle sondes
wat hulle voorheen gedoen het.”
Ek sal nie almal weggooi nie
8Maar die Here sê ook:
“Wanneer iemand druiwekorrels
in 'n druiwetros kry
wat wyn kan word,
dan sê hy: ‘Moenie dit weggooi nie,
ons moet dit hou.’
Ek sal dieselfde doen met my dienaars,
Ek sal nie almal weggooi nie.
9Ek sal vir Jakob, vir Juda,
'n nageslag gee wat my berg kan kry.
Die berg sal behoort aan die mense
wat Ek gekies het en wat My dien,
hulle sal daar woon.
10My mense sal vra
wat Ek wil hê hulle moet doen,
en hulle skape en bokke en beeste
sal in Saron en in die Akor-vallei
wei en genoeg eet.
11-12“Maar julle wat weggegaan het
van die Here,
julle wat my gewyde berg vergeet het,
Ek sal julle straf,
want julle het offers gebring
vir die afgode Gad en Meni,
Ek het julle geroep,
maar julle het nie geantwoord nie.
Ek het gepraat,
maar julle het nie geluister nie.
Julle het gedoen
wat verkeerd is,
julle het gekies om dinge te doen
waarvan Ek nie hou nie.
Julle sal moet sterf.
Julle sal moet kniel
sodat mense julle kan doodmaak.”
13Ja, die Here sê:
“My dienaars sal kos hê om te eet,
maar júlle sal honger wees,
my dienaars sal water hê om te drink,
maar júlle sal dors wees,
my dienaars sal feesvier,
maar júlle sal ver weg bly staan.
14My dienaars sal juig,
want hulle sal gelukkig wees,
maar júlle sal skree en vra
dat iemand julle moet help,
julle sal huil, want julle sal ongelukkig wees
en baie pyn hê.
15Ek, die Here, sal julle doodmaak,
maar Ek sal vir my dienaars
'n nuwe naam gee.
Die mense wat Ek gekies het
om Myne te wees,
sal julle name gebruik
as hulle mense wil vervloek.
16Elkeen in die land wat bid
dat dit met hom goed moet gaan,
elkeen wat iets belowe,
sal my Naam noem,
want Ek is die God
wat doen wat Ek belowe.
Dit sal nie weer so sleg gaan
met hulle nie,
Ek dink nie meer aan die dinge
wat voorheen gebeur het nie.”
'n Nuwe hemel en 'n nuwe aarde
17“Ek sal nou 'n nuwe hemel
en 'n nuwe aarde maak.
Niemand sal weer dink
aan hierdie hemel en aarde
wat nou hier is nie,
niemand sal dit onthou nie.
18Maar julle moet vrolik wees
en altyd juig oor wat Ek nou wil doen,
want Ek sal nou 'n nuwe Jerusalem maak,
'n Jerusalem wat juig.
Sy mense sal vrolik wees.
19Ek sal ook juig oor Jerusalem,
Ek sal vrolik wees oor my volk,
want hulle sal nie meer
huil en skree nie,
hulle sal nie vra dat iemand
hulle moet help nie.
20Kinders sal nie jonk sterf nie,
almal sal oud word.
As iemand sterf
wanneer hy 100 jaar is,
dan sal mense sê hy was jonk.
Maar as 'n sondaar 100 jaar oud word,
dan sal dit die hele 100 jaar
sleg gaan met hom.
21My mense sal self woon
in die huise wat hulle bou,
en hulle sal self die druiwe eet
van die wingerde wat hulle plant.
22Ander mense sal nie in hulle huise woon
en hulle druiwe eet nie.
Ek het my mense gekies
om aan My te behoort,
hulle sal so oud word soos bome,
en hulle sal self die vrugte eet
van die bome wat hulle geplant het.
23Hulle sal nie werk totdat hulle moeg is
en niks kry daarvoor nie,
en hulle sal nie kinders kry
met wie dit sleg sal gaan nie,
want Ek sal dit goed laat gaan
met hulle en met hulle kinders.
24Ek sal hulle antwoord
voordat hulle My roep.
Hulle sal net begin bid,
dan sal Ek doen wat hulle vra.
25Wolwe en lammers sal saam wei,
leeus sal gras vreet soos beeste,
en die slange se kos sal stof wees.
Hulle sal nie op my gewyde berg
iets verkeerd doen nie,
hulle sal niks breek nie.”
Dit sê die Here.

Currently Selected:

Jesaja 65: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy