YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 1

1
1Die Here het vir Jesaja gewys wat sal gebeur met Juda en Jerusalem. Dit was in die tyd toe vier konings ná mekaar koning van Juda was. Die konings was Ussia, Jotam, Agas en Hiskia. Jesaja was die seun van Amos.
My volk wil nie aan My behoort nie
2Die Here het gesê:
“Die hemel en die aarde moet luister en hoor wat Ek sê:
Ek het kinders grootgemaak en Ek het vir hulle geleer hoe om te lewe,
maar hulle wou nie luister na My nie.
3'n Bees weet aan wie hy behoort,
en 'n donkie weet waar sy eienaar vir hom kos gee,
maar die Israeliete wil nie naby My wees nie.
My volk wil nie aan My behoort nie.”
Jerusalem het alleen oorgebly
4Israeliete, dit sal sleg gaan met julle.
Julle is almal sondaars.
Julle het baie verkeerd gedoen, julle doen net slegte dinge.
Julle verwoes alles, julle wil nie naby die Here bly nie.
Die Heilige God van Israel was nie belangrik vir julle nie,
julle het weggegaan van Hom.
5Wil julle hê Ek moet julle nog meer straf?
Julle hou aan om ongehoorsaam te wees aan My.
Dit is soos wanneer 'n mens iemand baie geslaan het:
sy hele kop is stukkend en sy liggaam is baie swak.
6Van sy kop tot by sy tone is sy hele lyf vol seerplekke,
vol kneusplekke waar die persoon hom geslaan het.
Niemand het die seerplekke skoongemaak en toegedraai
en met olyf-olie sag gemaak nie.
7So het die vyande julle land verwoes en julle stede afgebrand.
Mense van ander lande eet julle kos en hulle verwoes alles,
en julle moet staan en kyk.
8Jerusalem het alleen oorgebly, en die vyande is rondom die stad.
Die stad is soos 'n afdak in 'n wingerd,
soos 'n huisie van takke in 'n komkommer-tuin.
9Julle sê: Die Here wat oor alles regeer, het ons nie almal laat sterf nie, Hy het 'n paar van ons laat oorbly. As Hy dit nie gedoen het nie, dan het die vyande ons verwoes, en dan was ons soos Sodom en Gomorra.
Julle moet leer om goed te doen
10Maar júlle is soos Sodom en Gomorra, julle, die leiers en die volk.
Julle moet luister na wat die Here nou vir julle sê, julle moet hoor wat Hy vir julle wil leer.
11Die Here sê:
“Hoekom bring julle vir My so baie offers?
Ek is moeg vir die ramme en die vet beeste wat julle offer,
Ek hou nie van bulle en lammers en bokke se bloed nie.
12Ek het nie gesê julle moet na my tempel kom
en die plek stukkend trap wanneer julle offers bring nie.
13Die presente wat julle vir My bring, beteken niks,
en die wierook ruik nie lekker vir My nie.
Julle moet ophou om dit te offer.
Julle vier feeste op die Nuwemaan-dag en die Sabbatdag,
julle kom by die tempel bymekaar.
Julle hou gewyde feesdae
maar dan doen julle slegte dinge.
Ek hou nie daarvan nie.
14Ek haat julle Nuwemaan-feeste en julle ander feeste.
Hulle is vir My soos swaar goed wat Ek moet dra,
en Ek is moeg om dit te dra.
15Ek sal nie luister wanneer julle bid
en julle hande na My toe uitsteek nie.
Ook wanneer julle baie bid,
sal Ek nie luister nie,
want julle is moordenaars.
16Julle moet julle was en julle skoonmaak,
dit is wat julle moet doen.
Julle moenie aanhou om slegte dinge te doen nie,
julle moet ophou om verkeerd te doen.
17Julle moet leer om goed te doen,
julle moet reg doen aan ander mense.
Julle moet die mense help wat swaarkry,
julle moet seker maak dat mense
reg doen aan weeskinders en weduwees.”
18Die Here sê: “Kom ons praat met mekaar.
Iets wat so rooi soos bloed is,
kan nie wit word soos sneeu of wol nie.
Mense wat groot sondaars is soos julle,
kan nie rein word nie. Maar Ék sál julle rein maak.
19As julle luister na My,
dan sal dit goed gaan met julle hier in die land.
20Maar as julle nie wil luister nie,
dan sal die vyande julle doodmaak.”
Dit is wat die Here gesê het.
Ek sal julle red as julle reg doen
21Die Here het ook gesê:
“Julle, die mense in hierdie stad, Jerusalem,
het gedoen wat Ek wil hê.
Julle het reg gedoen aan almal, julle was regverdig,
maar julle het ontrou geword, julle is nou moordenaars.
22Dit is soos wanneer iemand silwer smelt
en grond daarby gooi,
of dit is soos wanneer iemand water by bier gooi.
23Julle amptenare luister nie na My nie,
hulle is vriende van diewe.
Mense betaal hulle om verkeerd te doen.
Dan doen hulle nie reg in die poort nie.
Hulle luister nie wat die weduwees en weeskinders sê nie.
24Daarom praat Ek nou.
Ek is die Here, die Here wat oor alles regeer,
die sterk God van die Israeliete.
Ek sê:
Dit sal sleg gaan met julle almal wat nou my vyande is,
Ek sal julle straf.
25Ja, Ek sal julle vat en Ek sal julle reinig,
soos wanneer iemand silwer smelt
en hy haal die grond en die tin uit die silwer.
26Ek sal vir die stad weer goeie leiers gee om te regeer,
en ook goeie raadgewers.
Die mense sal sê: ‘Die stad is die Regverdige Stad,
die mense in daardie stad doen wat die Here wil hê.’
27Mense van Sion, Ek sal julle red as julle reg doen
en as julle verander en lewe soos God wil hê,
en as julle reg doen aan mense.
28Maar die mense wat nie luister nie en sonde doen
en nie by die Here wil bly nie,
hulle sal swaarkry en sterf.”
Julle offers vir die afgode sal julle nie help nie
29“Julle bring offers vir afgode
onder die groot bome,
en julle maak vir hulle tuine.
Maar dit sal julle niks help nie.
30Julle sal word soos 'n boom
wanneer sy blare droog word,
soos 'n tuin wat nie water kry nie.
31Julle sterkste leier
sal soos 'n stukkie tou word wat brand,
en sy afgode sal die vuur wees
wat hulle sal laat brand.
Dan sal hulle saam brand,
en niemand sal die vuur doodmaak nie.”

Currently Selected:

Jesaja 1: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy