YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 46

46
God praat weer met Jakob
1Jakob het weggegaan uit Kanaän saam met al sy mense. Hy het by die stad Berseba gekom en hy het offers gebring vir die God van sy pa Isak. 2Jakob het in die nag gedroom dat God hom roep en sê: “Jakob!”
En Jakob het geantwoord: “Hier is ek!”
3Toe sê God: “Ek is God, die God van jou pa Isak. Gaan na die land Egipte en moenie bang wees nie. Ek sal jou nageslag in Egipte baie maak. Hulle sal 'n groot volk word. 4Ek sal saam met jou gaan na Egipte en Ek sal jou ook later weer laat terugkom hiernatoe. Wanneer jy sterf, sal Josef jou oë toemaak.”
5Jakob het toe weggegaan uit Berseba. Sy seuns het hulle pa en hulle kinders en hulle vroue op die waens laat ry wat die farao vir hulle gestuur het.
6Hulle het hulle diere saamgeneem en al die goed wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het. Jakob en sy hele nageslag saam met hom het na Egipte gegaan en hulle het daar aangekom. 7Jakob het sy hele familie saamgeneem na Egipte: sy seuns, sy kleinseuns, sy dogters en sy kleindogters.
Die nageslag van Jakob wat na Egipte gegaan het
8Hier is die name van die Israeliete, Jakob se seuns, wat na Egipte gegaan het: Jakob se oudste seun was Ruben. 9Ruben se seuns was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi.
10Simeon se seuns was Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul. Saul se ma was 'n vrou van die land Kanaän.
11Levi se seuns was Gerson, Kehat en Merari.
12Juda se seuns was Er, Onan, Selag, Peres en Serag. Er en Onan het in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul.
13Issaskar se seuns was Tola, Puwwa, Jasub en Simron.
14Sebulon se seuns was Sered, Elon en Jagleël.
15Dit was die seuns van Lea wat sy vir Jakob in Paddan-Aram gekry het. Sy het ook 'n dogter gehad, haar naam was Dina. Hulle almal saam was 33 mense.
16Gad se seuns was Sifjon, Gaggai, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli.
17Aser se seuns was Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria. Hulle suster se naam was Serag. Beria se seuns was Geber en Malkiël.
18Dit was die seuns van Silpa, die slavin wat Laban vir sy dogter Lea gegee het. Hulle almal saam was 16 mense.
19Jakob se vrou Ragel het twee seuns gehad. Hulle was Josef en Benjamin.
20Josef het getrou met Asenat. Sy was die dogter van Poti-Fera, die priester van die stad On. Sy het in Egipte twee seuns gekry vir Josef. Hulle was Manasse en Efraim.
21Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard.
22Dit was die seuns wat Ragel vir Jakob gekry het. Hulle almal saam was 14 mense.
23Dan het een seun gehad. Sy naam was Gussim.
24Naftali se seuns was Jagseël, Guni, Jeser en Sillem.
25Dit was die seuns van Bilha, die slavin wat Laban vir sy dogter Ragel gegee het. Hulle was almal saam sewe mense.
26Die kinders en kleinkinders van Jakob wat saam na Egipte gegaan het, was almal saam 66. Die vroue van Jakob se seuns het ook saamgegaan, maar hulle het nie getel hoeveel vroue daar was nie.
27Josef het ook nog twee seuns gehad wat in Egipte gebore is. Daar was 70 mense in Jakob se familie wat na Egipte gegaan het.
Jakob sien weer vir Josef
28Jakob het vir Juda gestuur om voor hom na Josef toe te gaan om vir hom te sê dat hulle na die land Gosen kom. Hulle het in Gosen aangekom, 29en Josef het gesê sy slawe moet sy oorlogkar bring. Hy het daarop gery om sy pa Jakob te gaan ontmoet. Toe hy sy pa sien, het hy sy arms om hom gesit en hy het lank by sy pa gestaan en huil.
30Toe sê Jakob vir Josef: “Nou is ek tevrede, nou kan ek sterf. Ek het jou weer gesien, ek het gesien jy lewe nog.”
31Josef het vir sy broers en vir sy hele familie gesê: “Ek sal nou vir die farao vertel dat my broers en my familie van Kanaän gekom het en dat hulle hier aangekom het. 32Ek sal vir hom sê julle is veeboere, julle boer met beeste, skape en bokke, en julle het alles saamgebring wat julle het. 33Wanneer die farao julle roep en vir julle vra watter werk julle doen, 34dan moet julle sê: ‘Ons is nog altyd veeboere, vandat ons klein was. Ons oupas en pa's was ook veeboere.’ Julle moet sê julle is veeboere, dan sal die farao sê julle mag in Gosen woon. Die Egiptenaars hou niks van veeboere nie en hulle wil nie naby veeboere woon nie.”

Currently Selected:

Genesis 46: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy