YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 40

40
Josef sê wat die skinker en die bakker se drome beteken
1Ná 'n tyd het 'n skinker en 'n bakker van die farao van Egipte iets teen die farao gedoen wat verkeerd was. 2Die farao was baie kwaad vir hierdie twee amptenare. Hulle was die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers. 3Die farao het hulle laat toesluit in die huis van die hoof van die wagte wat hom opgepas het. Dit was dieselfde plek waar Josef 'n gevangene was.
4Die hoof van die farao se wagte het Josef gekies en aangestel om ook vir die skinker en die bakker kos te bedien. Hulle was lank in die tronk. 5Een nag het die skinker en die bakker gedroom. Elkeen se droom het iets beteken. 6Toe Josef die volgende oggend by hulle kom, het hy gesien dat hulle bekommerd is. 7Hy vra toe vir die amptenare: “Hoekom lyk julle vandag so bekommerd?”
8Hulle het vir hom gesê: “Ons altwee het gedroom, en daar is niemand wat vir ons kan sê wat ons drome beteken nie.”
Josef het vir hulle gesê: “Net God kan sê wat drome beteken. Vertel vir my wat julle gedroom het.”
9Die hoof van die skinkers vertel toe sy droom vir Josef en hy sê: “Ek het gedroom ek sien 'n wingerdstok voor my. 10Daar was drie ranke aan die wingerdstok. Daar het knoppies op die ranke gekom, dit het bloeisels geword en baie gou was daar trosse ryp druiwekorrels. 11Ek het die farao se beker in my hand gehou, en ek het van die druiwe geneem en dit uitgedruk in die farao se beker. Toe het ek die beker vir die farao gegee.”
12Josef sê toe vir hom: “Ek sal vir jou sê wat jou droom beteken: Die drie ranke beteken drie dae. 13Oor drie dae sal die farao aan jou dink en hy sal jou werk vir jou teruggee. Jy sal weer die farao se wyn skink en sy beker vir hom gee soos voorheen toe jy sy skinker was. 14Maar jy moet aan my dink wanneer dit goed gaan met jou. Jy moet asseblief iets doen om my te help. Vertel vir die farao van my, sodat hy my uit hierdie tronk kan laat haal. 15Hulle het my weggevat uit die land van die Hebreërs. Ek het nie daar of hier iets gedoen wat verkeerd is nie, maar hulle het my in die tronk toegesluit.”
16Toe die hoof van die bakkers hoor Josef het gesê die skinker se droom beteken dat dit goed sal gaan met hom, sê hy vir Josef: “Ek het ook gedroom. Ek het gedroom daar was drie mandjies op my kop. 17In die boonste mandjie was daar lekker gebakte kos vir die farao. Maar die voëls het die kos uit die mandjie opgevreet toe die mandjie nog op my kop was.”
18Toe sê Josef vir hom: “Ek sal vir jou sê wat jou droom beteken: Die drie mandjies beteken drie dae. 19Oor drie dae sal die farao aan jou dink. Hy sal jou uit die tronk laat kom en hy sal jou aan 'n boom laat ophang. Die voëls sal kom en hulle sal jou vleis van jou liggaam afvreet.”
Die skinker vergeet van Josef
20Drie dae later het die farao verjaar en hy het 'n groot fees gehou vir al sy mense. Hy het toe gedink aan die hoof van die skinkers en aan die hoof van die bakkers en hy het hulle uit die tronk laat kom. 21Hy het die hoof van die skinkers weer aangestel om sy skinker te wees, sodat hy weer die wyn kon skink in die farao se beker en dit vir hom kon gee, 22maar hy het die hoof van die bakkers laat ophang, soos Josef vir hulle gesê het. 23Die hoof van die skinkers het nie toe aan Josef gedink nie, hy het vergeet van hom.

Currently Selected:

Genesis 40: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy