YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 16

16
Hagar en Ismael
1Abram se vrou Sarai het nog nie vir hom 'n kind gekry nie. Sarai het 'n slavin uit Egipte gehad. Haar naam was Hagar. 2Sarai het vir Abram gesê: “Die Here het my nie kinders laat kry nie. Gaan slaap by my slavin. Miskien kry sy 'n kind, en dan sal dit my kind wees.”
Abram het geluister en gedoen wat Sarai gesê het. 3Abram het toe al tien jaar in Kanaän gewoon. Sy vrou Sarai het haar Egiptiese slavin Hagar geneem en vir haar man Abram gegee sodat Hagar ook sy vrou kon wees. 4Abram het seks gehad met Hagar, en sy het swanger geword. Toe Hagar sien sy is swanger, het sy gedink sy is beter as Sarai.
5Toe sê Sarai vir Abram: “Dit is nie reg nie en dit is jou skuld. Ek het my slavin vir jou gegee, maar toe sy swanger word, het sy begin dink sy is beter as ek. Die Here moet sê wie is reg en wie is verkeerd, ek of jy.”
6Toe sê Abram vir Sarai: “Dit is jou slavin. Jy mag met haar doen wat jy dink is goed.”
Sarai het toe slegte dinge gedoen aan haar slavin, so sleg dat die slavin weggeloop het.
7Die Engel van die Here het die slavin by 'n fontein in die woestyn gekry. Die fontein was langs die pad na die stad Sur. 8Die Engel vra toe vir haar: “Hagar, slavin van Sarai, van waar kom jy en waarnatoe gaan jy?”
En Hagar antwoord: “Ek is Sarai se slavin en ek vlug weg van haar.”
9Die Engel van die Here sê toe vir haar: “Jy moet teruggaan na Sarai toe en gehoorsaam wees aan haar. 10Ek sal jou nageslag baie groot maak. Hulle sal so baie wees dat niemand hulle sal kan tel nie.”
11Die Engel van die Here het ook vir haar gesê:
“Hagar, jy is swanger en jy sal
'n seun kry.
Jy moet hom Ismael noem,
want die Here het gehoor
jy kry swaar.
12Jou seun sal soos
'n wildedonkie wees.
Hy sal teen almal wees,
en almal sal teen hom wees.
Hy sal nie by sy familie woon nie.”
13Nadat die Here met Hagar gepraat het, het sy die Here aanbid. Sy het gesê: “U is die God wat my sien. Hier het ek ook die God gesien wat my gesien het.”
14Daarom noem hulle die fontein Lagai-Roï-fontein. Die fontein is tussen die stede Kades en Bered. 15Hagar het 'n seun gekry vir Abram. Abram het hom Ismael genoem. 16Abram was 86 jaar oud toe Ismael gebore is.

Currently Selected:

Genesis 16: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy