YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 13

13
Lot gaan weg van Abram
1Abram het uit Egipte weggegaan na die Suid-land, hy en sy vrou en alles wat hy gehad het. Lot het saam met hom gegaan.
2Abram was baie ryk. Hy het baie diere en silwer en goud gehad. 3Hy het elke dag verder getrek totdat hy weer by dieselfde plek gekom het waar hy voorheen sy tente opgeslaan het. Dit was tussen die stede Bet-El en Ai.
4Dit was die plek waar hy voorheen 'n altaar gebou het. Abram het die Here daar aanbid.
5Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook skape en bokke, beeste en tente gehad. 6Daar was nie genoeg grond vir Abram en Lot saam nie. Hulle kon nie bymekaar woon nie, want hulle het te veel diere en ander goed gehad. 7Abram en Lot se skaapwagters het met mekaar gestry en rusie gemaak. In daardie tyd het die Kanaäniete en Feresiete ook in die land gewoon.
8Abram sê toe vir Lot: “Ek en jy moenie met mekaar stry en rusie maak nie, en ook nie my skaapwagters met joune nie, want ons is familie. 9Die hele land lê oop voor jou. Ons moet weggaan van mekaar. As jy links gaan, dan sal ek regs gaan, of as jy regs gaan, dan sal ek links gaan.”
10Lot het rondgekyk en gesien daar is baie water by die stad Soar in die suide van die Jordaan-vallei. Dit het gelyk soos 'n tuin van die Here, en soos in Egipte. Dit was voordat die Here vir Sodom en Gomorra verwoes het. 11Lot het toe die Jordaan-vallei vir homself gekies en hy het oos getrek. So het Lot weggegaan van Abram.
12Abram het in Kanaän gewoon en Lot het by die stede in die suide van die Jordaan-vallei gaan woon. Hy het tot by die stad Sodom getrek en sy tente daar opgeslaan. 13Die mense van Sodom was baie sleg en hulle het baie sonde gedoen.
Die Here belowe om vir Abram die land en 'n groot nageslag te gee
14Nadat Lot weggegaan het van Abram, het die Here vir Abram gesê: “Kyk rondom jou. Kyk noord, kyk suid, kyk oos, kyk wes. 15Die hele land wat jy sien, sal Ek vir jou en vir jou nageslag gee, vir altyd. 16Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof op die aarde. As iemand die stof op die aarde kan tel, dan sal hy jou nageslag ook kan tel. 17Jy mag nou deur die hele land trek, want Ek gee dit vir jou.”
18Abram het sy tente opgeslaan en hy het gaan woon by die bome van Mamre, by die stad Hebron. Abram het daar 'n altaar vir die Here gebou.

Currently Selected:

Genesis 13: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy