YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 7

7
Die einde kom
1Ek het gehoor die Here sê vir my: 2“En jy, mens, jy moet luister na wat Ek sê oor die land Israel. Ek, die Here wat Here is, sê:
“Die einde kom, die einde van die hele land.
3Die einde is nou hier vir julle almal in die land,
want Ek is baie kwaad vir julle.
Ek sal julle straf oor die dinge
wat julle gedoen het,
Ek haat die dinge wat julle gedoen het,
Ek sal julle straf.
4Ek sal julle nie vergewe nie
en Ek sal nie jammer wees vir julle nie.
Ja, Ek sal julle straf
oor wat julle gedoen het,
oor die dinge wat Ek haat,
en julle sal weet dat Ek die Here is.”
5Die Here, Hy wat Here is, sê:
“Dit sal sleg gaan, baie sleg.
Dit sal nou gebeur.
6Dit is die einde wat kom.
Die einde kom!
Dit begin nou kom oor julle!
Kyk, dit is klaar hier!
7Die slegste dinge sal gebeur
met julle wat in die land woon,
die tyd het gekom, die dag is naby!
Niemand op die berge sal weet
wat om te doen nie,
en niemand sal skree
omdat hy bly is nie.
8Ek is baie kwaad vir julle
en Ek sal julle nou straf.
Ek sal julle straf oor wat julle
gedoen het,
oor die slegte dinge wat julle gedoen het,
dinge wat Ek haat.
9Ek sal julle nie vergewe nie
en Ek sal nie jammer wees vir julle nie.
Ek sal julle straf oor wat julle gedoen het,
oor die dinge wat Ek haat,
julle sal weet dit is Ek, die Here,
wat julle straf.
10Die dag is hier, dit het gekom.
Die slegste dinge sal gebeur.
Die mense wat regeer,
word nog meer wreed,
hulle is hoogmoedig.
11Hulle het slegte dinge gedoen
aan mense
en hulle het sleg regeer.
Hulle het gesê niemand mag kla
oor hulle nie.
Daar sal niks oorbly van hulle almal nie,
niks van alles wat hulle gesê het nie.
12Die tyd het gekom, die dag is hier.
Mense wat koop, moenie bly wees nie,
en mense wat verkoop,
moenie jammer wees nie,
want die Here sal hulle almal straf.
13Want die mense wat verkoop het,
sal nie die goed terugkry
wat hulle verkoop het nie,
ook nie as hulle en die mense
wat gekoop het,
nog almal lewe nie.
Ek het vir die profeet gewys
wat met hulle almal sal gebeur,
en dit sál gebeur.
Hulle het verkeerd gedoen
en hulle sal nie aanhou lewe nie.
14Hulle het die ramshoring geblaas
en alles gereedgemaak,
maar niemand sal oorlog kan maak nie,
want Ek is kwaad en Ek sal hulle straf.
15Buite sal daar oorlog wees,
in die huise sal daar pes en honger wees.
Mense wat in die veld is,
sal sterf in die oorlog.
Mense wat in die stad is,
sal sterf van die pes
en van honger.
16Die mense wat na die berge vlug
en vry wegkom,
sal almal sit en kla soos die duiwe
in die valleie,
elkeen sal kla oor wat hy
verkeerd gedoen het.
17Hulle hande sal slap hang,
niemand sal iets kan doen nie,
hulle water sal teen hulle knieë afloop,
want hulle sal baie bang wees.
18Hulle sal rouklere aantrek
en hulle koppe kaal skeer,
hulle sal so bang wees dat hulle
niks kan doen nie.
19Hulle sal hulle silwer weggooi
op die paaie,
hulle goud sal vir hulle
niks beteken nie,
hulle silwer en hulle goud
sal hulle nie kan red
wanneer die Here kwaad is
en vir hulle straf nie.
Hulle sal dit nie kan eet
sodat hulle nie meer honger is nie.
Dit is die silwer en die goud
wat hulle sonde laat doen het.
20Hulle het hoogmoedig geword
oor die tempel wat so mooi was,
en hulle het beelde daarin gesit,
lelike beelde wat Ek haat.
Daarom sê Ek die tempel is onrein.
21Ek sal die tempel gee
vir mense uit ander lande.
Hulle sal vat wat hulle wil hê,
die slegte mense van die aarde
sal die goed vat en hulle sal
die tempel ontwy.
22Ek sal maak of Ek hulle nie sien nie,
en hulle sal my kosbare tempel ontwy,
wilde mense sal in die tempel kom
en hulle sal dit ontwy.
23Jy moet kettings gereed hou
om gevangenes vas te bind.
Hoekom?
Omdat die mense wat regters moes wees,
moordenaars is,
hulle doen slegte dinge
aan die mense in die stad.
24Ek sal die slegste volke bring,
en hulle sal die huise vir hulleself vat.
Ek sal die hoogmoedige mense
wat regeer, laat sterf.
Die vyande sal hulle tempels ontwy.
25Wanneer dit so sleg gaan met hulle,
dan sal hulle vrede soek maar hulle sal
dit nie kry nie.
26Wanneer baie slegte dinge
met hulle gebeur,
en hulle hoor dat nog slegte dinge kom,
dan sal hulle vir die profete vra:
‘Het die Here nie vir julle iets gewys nie?’
En hulle sal vir die priesters vra:
‘Wat wil die Here hê?’
Maar die priesters sal nie weet nie,
en die leiers sal nie kan sê
wat hulle moet doen nie.
27Die koning sal ook nie weet
wat om te doen nie,
die man wat regeer, sal te bang wees
om iets te doen.
Die mense in die land sal so bang wees
dat hulle hande sal bewe.
Ek sal hulle straf oor die dinge
wat hulle gedoen het,
Ek sal dieselfde met hulle doen
wat hulle met ander mense gedoen het.
Dan sal hulle weet dat Ek die Here is.”

Currently Selected:

Esegiël 7: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy