YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 29

29
Egipte sal 'n plek word waar nie mense woon nie
1Die Here het met my gepraat. Dit was in die tiende jaar, in die tiende maand, op die twaalfde dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my: 2“Mens, jy moet jou gesig draai na die farao toe, die koning van Egipte. Jy moet 'n boodskap van My vir hom bring en vir almal in die land Egipte. 3Jy moet praat en vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Farao, koning van Egipte, Ek is jou vyand. Jy is die groot watermonster wat in sy eie rivier lê en wat sê: ‘Dit is my rivier, ék het dit gemaak.’ 4Ek sal ysterhoeke aan jou kakebeen sit en Ek sal die visse in jou rivier laat vassit aan jou skubbe. Dan sal Ek jou uit jou rivier optrek saam met al jou rivier se visse wat vassit aan jou skubbe, 5en Ek sal jou en die visse van jou rivier in die woestyn weggooi. Jy sal op die grond val, en niemand sal jou stukke bymekaarmaak en op een plek sit nie. Ek gee jou vir die wilde diere en die voëls, hulle sal jou opvreet. 6Almal wat in Egipte woon, sal weet dat Ek die Here is. Die volk Israel het gedink die Egiptenaars sal hulle help, maar die Egiptenaars was soos 'n kierie van riet vir die volk Israel. 7Toe Israel die kierie vat, toe breek die kierie en dit sny sy skouer. Toe Israel op die kierie wou rus, toe breek die kierie stukkend en hulle kon nie regop staan nie.”
8Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal nou oorlog na jou land stuur omdat dit gebeur het. Ek sal al die mense en die diere in Egipte laat sterf. 9Egipte sal 'n plek word waar daar nie mense woon nie, die land sal net hope klippe wees. Hulle sal weet dat Ek die Here is, want die farao het gesê: ‘Dit is mý rivier, dit is ék wat hom gemaak het.’ 10Daarom is Ek jou vyand en jou rivier se vyand. Ek sal Egipte verwoes, niemand sal daar kan woon nie, van die stad Migdol tot by die stad Sewene en tot by die grens van die land Kus. 11Mense of diere sal nie weer deur die land loop nie, nie een nie, en 40 jaar lank sal niemand daar woon nie. 12Ek sal Egipte 'n land laat word waar niemand kan woon nie, 'n land tussen ander lande waar ook niemand woon nie. Ek sal die stede van Egipte plekke maak waar niemand kan woon nie, sy stede sal wees tussen ander stede wat hope klippe geword het. Daar sal 40 jaar lank niemand in Egipte woon nie, Ek sal die Egiptenaars na al die kante toe jaag tussen die ander volke in en Ek sal hulle in ander lande laat woon.”
13Die Here, Hy wat Here is, sê: “Maar wanneer die 40 jaar verby is, dan sal Ek die Egiptenaars bymekaarmaak tussen die volke waar hulle moes gaan woon, 14en Ek sal dinge verander vir Egipte. Ek sal hulle terugbring na die land Patros, die land waar hulle voorheen gewoon het. Daar sal hulle 'n klein, onbelangrike volk wees. 15Hulle sal die onbelangrikste van al die lande wees en hulle sal nie weer probeer om te regeer oor ander lande nie. Ek sal hulle so klein maak dat hulle nie weer oor ander volke sal kan regeer nie. 16Die volk Israel sal nie weer wil hê dat Egipte hulle moet help nie. Israel sal onthou hoe verkeerd hulle gedoen het toe hulle gevra het dat Egipte hulle moet help. Hulle sal weet dat Ek die Here is.”
Die Here gee die land Egipte vir die koning van Babel
17Die Here het met my gepraat. Dit was die 27ste jaar, in die eerste maand, op die eerste dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my: 18“Mens, koning Nebukadnesar van Babel het sy soldate baie hard laat werk toe hy die stad Tirus oorwin het. Elke soldaat se kop was kaal en sy skouer was stukkend. Maar Nebukadnesar en sy soldate het nie uit Tirus 'n beloning gekry vir die harde werk wat hulle teen die stad gedoen het nie.”
19Die Here, Hy wat Here is, sê: “Daarom gee Ek nou die land Egipte vir koning Nebukadnesar van Babel. Hy sal die goed van Egipte wegdra, hy sal alles vat wat hy daar kry. Dít sal die beloning wees vir sy soldate. 20Ek gee die land Egipte vir koning Nebukadnesar, dít sal sy beloning wees omdat hy vir My gewerk het.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
21“Daardie dag sal Ek begin om vir Israel weer sterk te maak. Ek sal vir jou, Esegiël, weer sê om met hulle te praat, en hulle sal weet dat Ek die Here is.”

Currently Selected:

Esegiël 29: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy