YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 28

28
Die koning van Tirus sal sterf
1Ek het gehoor die Here sê vir my: 2“Mens, jy moet vir die koning van die stad Tirus sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy was baie hoogmoedig, jy het gesê: ‘Ek is 'n god, ek woon in die middel van die see in die plek waar die gode woon.’ Maar jy is 'n mens, jy is nie 'n god nie. Jy het gemaak of jy 'n god is. 3Jy het meer wysheid gehad as Daniël, jy kon help met al die probleme. 4Jy het jou wysheid en verstand gebruik om ryk te word. Jy het jou stoorkamers vol goud en silwer gemaak. 5Jy het jou groot wysheid gebruik om goed te koop en te verkoop en jy het nóg ryker geword. Maar toe het jy hoogmoedig geword omdat jy ryk is.”
6Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy het gemaak of jy 'n god is, 7daarom sal Ek vreemde mense bring om jou aan te val. Hulle is wrede mense en hulle sal jou met hulle swaarde doodmaak, jy, die mooi en wyse koning. Hulle sal jou lig dof laat word. 8Hulle sal jou laat afgaan na die doderyk, jy sal in die middel van die see sterf soos iemand in 'n oorlog sterf. 9Sal jy dan nog sê dat jy 'n god is, daar voor die mense wat jou doodmaak? Sal jy dit sê wanneer hulle met jou doen wat hulle wil? Nee. Jy is 'n mens, jy is nie 'n god nie. 10Jy sal sterf, en niemand sal jou respekteer nie. Vreemde mense sal jou doodmaak, want Ek het gepraat.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
'n Klaaglied oor die koning van Tirus
11Ek het gehoor die Here sê vir my: 12“Mens, jy moet 'n klaaglied begin sing oor die koning van die stad Tirus. Jy moet vir hom sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy was op 'n baie mooi seël, jy was vol wysheid en jy was so mooi soos die mooiste mens. 13Jy was in Eden, die godetuin, en jou klere was van al die kosbare edelstene: karneool, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois en smarag. Ek het jou tamboeryne van goud gemaak en Ek het jou uit goud gesny. Dit is hoe Ek jou gemaak het. 14Jy het gelyk soos 'n gerub, jou vlerke was oop en jy moes die tuin beskerm. Ek het jou op die heilige godeberg gesit. Jy het daar tussen die blink edelstene geloop. 15Jy het heeltemal reg gelewe vandat Ek jou gemaak het. Maar toe het jy begin om verkeerd te doen. 16Jy het meer en meer goed gekoop en verkoop, maar jy het ook meer en meer slegte dinge aan jou mense gedoen. Jy het sonde gedoen, en daarom het Ek jou weggevat van die godeberg. Jy was die gerub wat die tuin moes beskerm, maar Ek het jou weggevat tussen die blink edelstene. 17Jy het hoogmoedig geword omdat jy mooi was, jy het jou wysheid verloor toe die lig om jou geskyn het. Ek het jou op die grond gegooi voor die konings en Ek het jou daar laat lê sodat hulle jou kon sien. 18Jy het baie verkeerde dinge gedoen, jy was baie onregverdig toe jy goed gekoop en verkoop het. So het jy jou tempels ontwy. Daarom het Ek vuur in jou laat kom, en dit het jou gebrand, jy het as geword op die grond. Almal kon dit sien. 19Al die volke wat jou geken het, het geskrik toe hulle sien wat gebeur het met jou. Jy het baie wreed gesterf, jy sal nooit weer lewe nie.”
Vyande sal die stad Sidon aanval
20Ek het gehoor die Here sê vir my: 21“Mens, jy moet jou gesig na die stad Sidon draai, en jy moet my boodskap teen die stad bring. 22Jy moet sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Sidon, Ek is nou jou vyand. Ek sal vir die mense in jou wys dat Ek die Koning is. Ek sal hulle straf en Ek sal vir hulle wys dat Ek die heilige God is, dan sal hulle weet dat Ek die Here is. 23Ek stuur pes in die stad. Die bloed sal vloei in die strate. Vyande sal die stad aanval van al die kante, en die dooie mense sal op die strate lê. Die mense van die stad sal weet dat Ek die Here is. 24Die volke rondom die volk Israel het gewys dat hulle dink Israel is nie belangrik nie, hulle was soos dorings wat aangehou het om vir Israel te steek. Wanneer Ek daardie volke straf, dan sal dit nie weer gebeur nie.”
Die volk Israel sal weer kom woon in die land
25Die Here, Hy wat Here is, sê: “Die volk Israel sal weer kom woon in die land wat Ek vir my dienaar Jakob gegee het. Ek sal die volk Israel bymekaarmaak oral tussen die volke waar hulle moes gaan woon, en Ek sal vir hulle wys dat Ek die heilige God is. 26Israel sal veilig in die land woon. Hulle sal huise bou en wingerde plant en hulle sal veilig woon. Dit sal gebeur wanneer Ek al die volke rondom hulle straf, die volke wat gewys het dat hulle dink Israel is nie belangrik nie. Israel sal weet dat Ek hulle God die Here is.”

Currently Selected:

Esegiël 28: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy