YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 14

14
Die volk Israel moet hulle afgode los
1Party van die leiers van Israel het na my toe gekom en hulle het voor my kom sit. 2Ek hoor toe die Here sê vir my: 3“Mens, hierdie manne is lief vir hulle afgode. Hulle sonde is soos 'n klip waaroor hulle val. Ek wil nie hê hulle moet vir My iets vra nie, niks nie. 4Daarom, jy moet met hulle praat, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: As iemand van die volk Israel lief is vir sy afgode, dan moet hy weet dat sy sonde soos 'n klip is waaroor hy val. As hy dan na die profeet toe kom, dan sal Ek, die Here, hom self antwoord. Ek, die Here, sal self elke persoon antwoord soos Ek hom moet antwoord wanneer hy sy baie afgode dien. 5Ek sal dit doen sodat almal van die volk Israel sal skrik wanneer hulle hoor wat Ek vir hulle sê, almal wat weggegaan het van My om hulle afgode te dien. 6Daarom, jy moet vir die volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Julle moet terugkom, julle moet julle afgode los, julle moet al die slegte dinge los wat Ek haat. 7Want Ek, die Here, sal self elkeen van die volk Israel antwoord. Ek sal ook die vreemdeling wat in die land Israel woon, antwoord. Ek sal hom antwoord wanneer hy weggaan van My en lief is vir sy afgode. Sy sonde is soos 'n klip waaroor hy val, maar dan kom hy na die profeet toe om te vra wat Ek wil hê. 8Ek sal 'n vyand wees vir iemand wat dit doen. Die mense sal na hom kyk en hulle sal oor hom praat. Ek sal hom afsny van my volk. Julle sal weet dat Ek die Here is. 9En wanneer 'n profeet lieg en dinge sê, dan is dit Ek wat vir daardie profeet gesê het wat hy moet sê. Ek sal my hand teen hom uitsteek en hom straf, Ek sal hom wegvee uit my volk Israel. 10Die vals profete sal die straf vir hulle sonde kry, die persoon wat dinge vir My kom vra en die profeet sal dieselfde straf kry. 11Dan sal die volk Israel nie weer weggaan van My nie en hulle sal hulleself nie weer onrein maak met al hulle sondes nie. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
12Ek het gehoor die Here sê vir my: 13“Mens, wanneer die mense in 'n land sonde doen teen My en ontrou word, dan sal Ek hulle kos laat opraak en Ek sal hulle honger laat word. Ek sal die mense en die diere in die land laat doodgaan. 14As daardie drie manne, Noag, Daniël en Job, nou in die land was, dan sou hulle net hulle eie lewens gered het omdat hulle reg gedoen het.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
Die Here sal oorlog, honger, wilde diere en pes na die land stuur
15Die Here het gesê: “Ek sal wilde diere in die land bring en hulle sal die land verwoes sodat niemand daar kan woon nie. Niemand sal deur die land kan loop nie omdat daar wilde diere is. 16As daardie drie manne, Noag, Daniël en Job, nou in die land was, dan sou hulle nie hulle seuns of dogters kon red nie, hulle sou net hulleself kon red. Niemand sal in die land kan woon nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
17Die Here het ook gesê: “As Ek nie wilde diere bring nie, dan sal Ek oorlog in daardie land bring en Ek sal sê daar moet oorlog in die hele land wees, Ek sal die mense en die diere in die land laat doodgaan. 18En as daardie drie manne nou in die land was, dan sou hulle nie hulle seuns of hulle dogters kon red nie. Hulle sal net hulleself kan red. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
19“En as Ek nie wilde diere of oorlog bring nie, dan sal Ek pes in daardie land stuur en Ek sal die land swaar straf, almal sal sterf. Ek sal die mense en die diere in die land laat doodgaan. 20As Noag, Daniël en Job nou in die land was, dan sou hulle nie een seun of dogter kon red nie. Hulle sal net hulleself kan red omdat hulle reg gedoen het. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
21Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Dit alles sal gebeur wanneer Ek Jerusalem straf. Ek sal my vier swaar strawwe na Jerusalem stuur. Dit is: oorlog en honger en wilde diere en pes. Ek sal die mense en die diere in die stad laat doodgaan. 22Maar luister, party mense in die stad sal aanhou lewe. Daar sal seuns en dogters uit die stad na julle toe kom, en julle sal sien hoe hulle gelewe het en wat hulle gedoen het. Dan sal julle weet hoekom Ek dit sleg laat gaan het met die stad, julle sal weet hoekom Ek alles laat gebeur het. 23Wanneer julle sien hoe hulle gelewe het en wat hulle gedoen het, dan sal julle verstaan hoekom Ek alles gedoen het wat Ek in Jerusalem gedoen het.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Currently Selected:

Esegiël 14: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy