YouVersion Logo
Search Icon

Efesiërs 4

4
Al die gelowiges is saam soos een liggaam, want hulle behoort aan Christus
1Ek, Paulus, is in die tronk omdat ek die Here dien. Ek sê ernstig vir julle: God het julle gekies en julle behoort nou aan Hom. Daarom moet julle nou lewe soos mense wat aan Hom behoort. 2Julle moenie hoogmoedig wees en gou kwaad word nie. Julle moet geduldig wees, julle moet mekaar vergewe omdat julle lief is vir mekaar. 3Die Heilige Gees het julle saamgebind soos een liggaam. Julle moet baie hard probeer om te lewe soos mense wat een liggaam is, julle moet in vrede lewe. 4Julle is een, en soos 'n mens net een liggaam het, so het julle almal dieselfde Heilige Gees in julle harte. Want God het julle almal gekies, julle almal behoort aan Hom, en julle is nou almal seker dat God sal doen wat Hy belowe het. 5Julle het almal een Here, julle glo dieselfde dinge, julle is almal gedoop. 6Julle behoort almal aan dieselfde God. Hy is die Vader van almal. Hy regeer oor almal en oor alles, Hy laat almal en alles vir Hom werk, Hy is in almal.
7Christus het vir elkeen van ons die genadegawe gegee wat Hy vir ons wou gee. Die genadegawe wat Hy vir ons gegee het, is soos 'n present. 8Daarom lees ons in die Ou Testament:
Hy het opgegaan na die hemel
en Hy het gevangenes
saamgeneem,
Hy het vir die mense
presente gegee.
9Ons lees:
Hy het opgegaan.
Dit beteken Christus het eers afgekom ondertoe, na die aarde. 10Ja, Christus het afgekom na die aarde en toe het Hy weer teruggegaan na die hoogste hemel. Hy het dit gedoen sodat Hy oral en altyd kan regeer. 11En Christus het vir ons presente, genadegawes, gegee. Die genadegawes is die apostels, die profete, en die leiers wat die goeie boodskap bring of vir die gelowiges sorg of vir hulle leer. 12Christus wil hê hierdie mense moet God se mense help sodat hulle beter en beter vir God kan werk, en sodat die kerk sterker en groter kan word, die kerk wat soos Christus se liggaam is. 13Christus wil hê ons moet almal dieselfde dinge glo en ons moet Hom, die Seun van God, baie goed ken. Ons moet soos kinders wees wat grootgeword het en wat nou grootmense is, soos Christus wat is soos God wil hê Hy moet wees. 14Daar is mense wat skelm is, hulle wil hê ons moet dinge glo wat nie waar is nie. Hulle kom vertel vir ons dinge wat verkeerd is en hulle wil hê ons moet dit glo. Maar ons moenie dit glo nie, ons moenie soos kinders wees nie, of soos iets wat op die see ronddryf of wat in die wind heen en weer waai nie. 15Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar. So word ons meer en meer soos Christus, Hy is ons Hoof. 16Die kerk is soos 'n liggaam wat baie dele het, die dele is almal vas aan mekaar. Elke deel van die liggaam werk saam en help die liggaam om te groei en sterker te word. So laat Christus die kerk groei en sterker word. Dit gebeur wanneer ons lief is vir mekaar en vir mekaar help.
Gelowiges moet lewe soos nuwe mense
17Ek sê nou vir julle iets wat baie belangrik is vir die Here: Julle het voorheen gelewe soos die heidene lewe. Hulle dink en doen dinge wat niks beteken nie. Julle moenie soos hulle lewe nie. 18Die heidene lewe soos mense wat niks kan verstaan nie, hulle is ver van God en hulle het nie die ware lewe nie omdat hulle niks van God wil weet nie. Hulle harte is so hard soos klip. 19Hulle voel nie skaam wanneer hulle verkeerde dinge doen nie. Hulle doen meer en meer slegte dinge, omdat hulle altyd meer en meer wil hê.
20Maar julle het vir Christus leer ken en toe het julle geleer dat al daardie dinge verkeerd is. 21Ja, julle het gehoor van Hom, julle het geleer van Hom, julle weet Jesus is self die waarheid. 22Julle het geleer dat julle moet ophou om te lewe soos julle voorheen gelewe het. Toe was julle sleg en julle het die slegte dinge gedoen wat julle graag wou doen. 23Maar julle het geleer dat julle anders moet dink en nuwe mense moet word. 24Ja, God het julle verander en Hy het julle nuwe mense gemaak. Nou moet julle lewe soos nuwe mense. Julle moet waarlik lewe soos God wil hê en julle moet doen wat Hy wil hê.
Hoe gelowiges moet lewe
25Daarom moet julle ophou om vir mekaar te lieg. Julle moet die waarheid praat met mekaar, want ons behoort almal aan mekaar. 26 Wanneer julle kwaad word, dan moet julle nie sonde doen nie. Wanneer julle kwaad is vir mekaar, dan moet julle ophou om kwaad te wees voordat dit donker word. 27Julle moenie doen wat die duiwel vir julle sê nie. 28Die mense wat steel, moet ophou steel. Hulle moet self hard werk sodat hulle geld kan kry en ook vir die mense kan help wat baie min het. 29Julle moenie slegte dinge van mense sê nie, julle moet net dinge sê wat hulle geloof sterker sal maak en wat hulle sal help om te weet dat God goed is. 30Julle moenie die Heilige Gees van God hartseer maak nie. Die Heilige Gees wys dat julle aan God behoort en dat God julle eendag heeltemal vry sal maak. 31Julle moenie ander mense haat en net die slegte dinge onthou wat hulle gedoen het nie. Julle moenie kwaad word of mense straf of vir hulle skree of lelike dinge van hulle sê nie. Julle moet niks doen wat sleg is nie. 32Julle moet vriendelik wees met mekaar. Julle moet jammer wees vir mekaar en julle moet vir mekaar help. Christus het gesterf en God het julle vergewe. Daarom moet julle mekaar ook so vergewe.

Currently Selected:

Efesiërs 4: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy