YouVersion Logo
Search Icon

1 Korintiërs 15

15
God het vir Christus weer laat lewe
1Vriende, ek wil hê julle moet die goeie boodskap baie goed verstaan, die goeie boodskap wat ek vir julle gebring het. Julle het die boodskap geglo, julle is seker dat die boodskap waar is, 2en dit red julle. Maar dan moet julle aanhou om die goeie boodskap te glo soos ek dit vir julle gebring het. As julle iets anders glo, dan beteken dit niks dat julle glo nie. 3Die belangrikste dinge wat ek vir julle geleer het, het die ander apostels vir my geleer, en dit is: Christus het ons sondes weggeneem toe Hy gesterf het. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is. 4Christus is begrawe, en God het Hom op die derde dag weer laat lewe. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is. 5Christus het verskyn aan Sefas, en daarna het Hy ook verskyn aan die twaalf apostels. 6Daarna het Hy aan meer as 500 gelowiges op dieselfde tyd verskyn. Baie van hulle lewe vandag nog, maar party het klaar gesterf. 7Daarna het Christus aan Jakobus verskyn, en toe aan al die apostels. 8Laaste het Hy aan my verskyn. Ek was glad nie belangrik nie. 9Ek is die minste belangrik van al die apostels. Ek is nie goed genoeg om 'n apostel te wees nie, omdat ek voorheen baie slegte dinge gedoen het aan die mense van die kerk van God. 10Maar God was genadig vir my, daarom is ek nou 'n apostel. Ja, God was genadig vir my, ek het daarna harder gewerk as al die ander apostels. Maar dit is nie ék wat so goed was nie, dit was Gód wat so genadig was vir my en wat altyd saam met my was. 11Dit maak nie saak wie vir julle preek nie, ek of die ander apostels. Die belangrikste is dat ons almal dieselfde boodskap bring en dat julle dit geglo het.
God laat die mense wat dood is, weer lewe
12Ons, die apostels, bring die boodskap dat God vir Christus weer laat lewe het. Hoekom sê party van julle dat die dooie mense nie weer sal lewe nie? 13As die dooie mense nie weer sal lewe nie, dan het God ook nie vir Christus weer laat lewe nie. 14En as God nie vir Christus weer laat lewe het nie, dan beteken ons boodskap niks, en dan beteken julle geloof ook niks. 15Dan is ons ook vals getuies van God, omdat ons vertel dat God vir Christus weer laat lewe het. Want as die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie, dan is dit nie waar dat God vir Christus weer laat lewe het nie. 16Ja, ek sê dit weer: As die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie, dan het God ook nie vir Christus weer laat lewe nie. 17En as God nie vir Christus weer laat lewe het nie, dan beteken julle geloof niks, dan is julle nog nie vry van julle sondes nie. 18Dan het die mense wat aan Christus behoort het en gesterf het, verlore gegaan. 19As ons hoop dat Christus ons red net vir hierdie lewe op die aarde, dan moet al die mense baie jammer wees vir ons.
20Maar nee, God het vir Christus weer laat lewe, dit is seker. Christus is die eerste Een van almal wat gesterf het, en God het Hom weer laat lewe. 21'n Mens, Adam, het gesterf, en van toe af het almal in die wêreld gesterf. Maar nou het God 'n ander Mens, Christus, weer laat lewe, en daarom sal al die gelowiges wat gesterf het, ook weer lewe. 22Ons is almal die nageslag van Adam, daarom sterf ons almal. Maar ons behoort ook aan Christus, en daarom sal God ons ook almal weer laat lewe. 23Elkeen kry 'n beurt. Christus is die Eerste, God het vir Christus weer laat lewe. Later, wanneer Christus weer kom, sal die mense wat aan Hom behoort, ook weer begin lewe. 24Daarna sal die einde kom. Die einde is wanneer Christus alles waaroor Hy regeer, vir God die Vader gee, en wanneer Christus almal en alles sal oorwin wat oor die wêreld wil regeer. 25Want Christus moet regeer. Hy sal regeer totdat God Hom laat wen het teen al sy vyande. 26Die laaste vyand wat oorbly, is die dood. Maar Christus sal die dood ook oorwin. 27Ja, in die Ou Testament is geskryf:
God het alles vir Hom gegee
sodat Hy daaroor kan regeer.
Maar wanneer God sê: “Christus moet oor alles regeer,” dan moet ons dit reg verstaan. Dit beteken nie dat Christus ook oor God regeer nie, want God is die Een wat alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer. 28Wanneer God alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer, dan sal Christus, die Seun, Homself ook vir God gee. Julle moet onthou, God is die Een wat alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer. Daarom sal God aan die einde ook oor Christus regeer, en dan sal God oor alles en almal regeer.
29Daar is iets anders waaroor ons ook moet dink. Party mense laat hulle doop, en dan sê hulle dat hulle dit doen vir die mense wat gesterf het en wat hulleself nie kon laat doop nie. Maar hoekom doen hulle dit as die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie? 30En ook, as die mense wat dood is, nie weer sal lewe nie, hoekom doen ons elke dag vir God dinge waaroor ander mense ons wil doodmaak? 31My vriende, daar is elke dag mense wat my wil doodmaak. Dit is waar, en dit is ook waar dat ek trots is op julle. Ek is trots op julle omdat Christus Jesus ons Here my werk by julle geseën het. 32Ek het in Efese geveg teen mense wat soos wilde diere was en wat my wou doodmaak. Het dit vir my gehelp? Nee, as die mense wat dood is, nie weer sal lewe nie, dan moes ek ook gesê het:
Kom ons eet en drink,
want môre sterf ons.
33Julle moenie verkeerd dink nie. Julle moet onthou wat die spreekwoord sê:
As jy verkeerde maats het,
dan word jy 'n slegte mens.
34Julle moet verander, julle moet ophou om sonde te doen. Party van julle dink verkeerd wanneer julle oor God dink. Ek sê dit omdat ek wil hê julle moet skaam word.
Hoe lyk die liggame van die mense wat weer lewe?
35Party mense vra: “Hoe sal dit wees wanneer die mense wat dood is, weer lewe? Hoe sal hulle liggame lyk?” 36Hoekom vra mense hierdie dom vrae? Kyk wat gebeur wanneer 'n mens saad plant. Die saad moet eers sterf voordat dit weer lewe. 37En wanneer 'n mens saad plant, dan lyk die saad nie soos die plant wat later begin groei nie. 'n Mens plant 'n koringkorrel of iets anders. 38Maar God gee vir die saad 'n plant of 'n liggaam soos Hy besluit het. Hy gee vir elke soort saad 'n ander liggaam. 39Al die plante of liggame lyk nie dieselfde nie. Daar is liggame van mense, liggame van diere, van voëls, en van visse. 40En daar is ook hemelse liggame, die son, die maan en die sterre, en daar is liggame van dinge op die aarde. Hemelse liggame is baie mooi, maar dit is anders mooi as die liggame op die aarde. 41Die son, die maan en die sterre is almal mooi, maar hulle is nie dieselfde nie. Ja, daar is baie sterre, en elke ster is mooi, maar hulle is nie dieselfde nie.
42So sal dit ook wees wanneer God die mense wat dood is, weer laat lewe. Die mense begrawe 'n liggaam soos hulle 'n koringkorrel in die grond plant, en die liggaam word stof, maar God laat 'n liggaam lewe wat nie stof kan word nie. 43Die mense begrawe 'n liggaam wat lelik is, maar God laat 'n liggaam lewe wat mooi is. Die mense begrawe 'n liggaam wat swak is, maar God laat 'n liggaam lewe wat sterk is. 44Die mense begrawe 'n liggaam wat nie alles kan doen wat God wil hê nie, maar God laat 'n liggaam lewe wat alles kan doen wat God wil hê. As daar 'n liggaam is wat nie alles kan doen wat God wil hê nie, dan moet daar ook 'n liggaam wees wat alles kan doen wat God wil hê. 45In die Ou Testament is geskryf:
Adam, die eerste mens,
het iemand geword wat lewe.
Maar die laaste Adam, Christus, het iemand geword wat geestelike lewe gee. 46Julle moet onthou, die liggaam wat alles kan doen wat God wil hê, is nie eerste nie. Die liggaam wat nie alles kan doen wat God wil hê nie, is eerste, daarna kom die ander liggaam. 47God het die eerste mens gemaak van die stof van die aarde. Maar die tweede Mens kom uit die hemel. 48Die mense van stof is soos Adam, hy was die eerste mens van stof. Die mense van die hemel is soos Christus, Christus is die Mens uit die hemel. 49Nou is ons soos die mens van stof, maar eendag sal ons wees soos die Mens uit die hemel. 50Vriende, julle moet dit weet: Ons kan nie eendag wees daar waar God Koning is terwyl ons die liggame het wat ons nou het nie. Nee, 'n liggaam wat stof word, kan nie 'n liggaam word wat altyd sal lewe nie. 51Nou gaan ek iets vir julle vertel wat niemand voorheen geweet het nie. Ons sal nie almal sterf nie, maar God sal ons almal verander. 52Dit sal baie vinnig gebeur, so vinnig soos 'n mens jou oog knip. Dit sal gebeur wanneer die laaste trompet blaas. Die trompet sal blaas, en dan sal God die mense wat dood is, weer laat lewe. Hulle liggame sal nooit stof kan word nie. God sal ons ook verander, ons wat nog sal lewe wanneer Christus weer kom. 53Want hierdie liggaam kan stof word, maar God moet vir ons 'n ander liggaam gee wat nie stof kan word nie. Hierdie liggaam kan sterf, maar God moet vir ons 'n ander liggaam gee wat nie kan sterf nie. 54-55Wanneer God dit alles gedoen het, wanneer Hy vir ons 'n liggaam gegee het wat nie stof kan word en wat nie kan sterf nie, dan sal die woorde waar word wat in die Ou Testament geskryf is:
God het die dood
heeltemal oorwin.
Dood, dink jy dat jy altyd
sal oorwin?
Nee, jy sal nie.
Dood, dink jy dat jy sal aanhou
om mense te laat sterf
soos wanneer bye mense
doodsteek met hulle angels?
Nee.
56Die dood kry sy angel van die sonde. En die sonde kry sy krag van die wette. 57Maar ons moet vir God dankie sê. Hy het ons laat oorwin omdat ons aan ons Here Jesus Christus behoort. 58My vriende, ek is baie lief vir julle. Ons Here Jesus Christus lewe weer, daarom moet julle aanhou glo. Julle moet ook nie verkeerde dinge glo nie. Julle moet hard werk vir die Here, want julle weet: As julle vir die Here werk, dan sal julle nooit jammer wees daaroor nie.

Currently Selected:

1 Korintiërs 15: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy