YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 68

68
Toon u mag, o Here
1Vir die koorleier: Van Dawid. ’n Lied.
2God sal opstaan
en sy vyande verstrooi.
Laat dié wat Hom haat,
voor Hom vlug.
3Soos wind rook wegblaas,
so blaas U hulle weg.
Soos was in vuur smelt,
só vergaan goddeloses
voor God.
4Maar die vromes
sal verheug wees,
hulle sal bly wees voor God,
hulle sal jubel
van vreugde.
5Sing tot God, lofsing sy Naam!
Huldig Hom
wat ry op die wolke.
Sy Naam is Here
jubel voor Hom!
6’n Vader vir wese,
’n beskermer van weduwees;
dít is God
in sy heilige woning.
7God gee aan die eensame
’n tuiste;
dié wat gevange is,
lei Hy na vryheid,
maar opstandelinge woon
in ’n verlate woestyn.
8O God, toe U u volk
uitgelei het,
toe U deur die woestyn
getrek het,
Sela
9het die aarde gebewe
en die hemele het laat reën
voor U,
die God van Sinai,
voor God, die God van Israel.
10O God,
U het oorvloedige reëns gestuur
om u uitgedorde erfdeel
te verkwik.
11Daar het u volk
hulle gaan vestig.
In u goedheid het U, o God,
ook vir die armes voorsien.
12Die Here het bekendgemaak:
“’n Menigte vroue bring
die goeie nuus.
13Konings en leërs het gevlug.”
Hulle het gevlug,
en vroue het tuis
die buit verdeel.
14Waar julle eers
by skaapkrale gewoon het,
is julle nou oordek
met silwer en goud
soos ’n duif hom toemaak
met sy vlerke.
15Toe die Almagtige
die konings verstrooi,
het ’n sneeustorm
op Salmonsberg gewoed.
16Basanberg is ’n godeberg,
’n berg met hoë spitse
is Basanberg.
17Berg met hoë spitse,
hoekom kyk jy met afguns
na die berg wat God
as woning gekies het,
daar waar die Here
vir altyd sal woon?
18Met derduisende skitterende
strydwaens van God
het die Here vanaf Sinaiberg
na sy heiligdom toe gekom.
19Toe U opgegaan het
na die hoogte,
het U krygsgevangenes
weggevoer.
Mense het vir U
geskenke gegee,
selfs dié wat teen U
in opstand was.
Nou sal die Here God
onder ons kom woon.
20Prys die Here
wat ons dag na dag
in sy arms dra.
Hy is die God
van ons verlossing.
Sela
21God is vir ons
die God wat verlos!
Die oppermagtige Here het beheer
oor die dood.
22Immers, God self verpletter
die koppe van sy vyande,
die koppe van hulle
wat in sonde volhard.
23Die Here sê:
“Ek sal my vyande bring
uit Basan;
Ek sal hulle bring
uit die dieptes van die see.
24Julle sal hulle bloed
van julle voete afwas,
en die bloed van julle vyande
sal julle honde oplek!”
25U feesoptog is in sig,
o God,
die optog van my God en Koning
is op pad
na sy heiligdom.
26Vooraan is die sangers,
agter hulle, die musikante.
Saam met hulle is jong meisies
wat op tamboeryne speel.
27Prys God
in die vergaderings;
prys die Here,
die bron van Israel.
28Kyk, Benjamin, die jongste,
is die aanvoerder.
Dan volg die baie heersers
van Juda
en die heersers van Sebulon
en Naftali.
29Toon u mag, o God.
Toon u krag, o God,
soos U dit voorheen
vir ons gedoen het.
30Ter wille van u tempel
in Jerusalem
sal konings vir U
geskenke bring.
31Bestraf vir Egipte,
die ondier
tussen die riete,
wat soos troppe bulle
tussen kalwers
ander vertrap
ter wille van geld.
Verstrooi die nasies
wat hulle
verheug in oorlog.
32Uit Egipte
kom kosbare geskenke;
met uitgestrekte hande
bid Kus tot God.
33Koninkryke van die aarde,
sing tot eer van God.
Sing lofsange
tot eer van die Here,
Sela
34sing tot eer van Hom
wat deur die oeroue hemel ry
terwyl sy magtige stem
weerklink.
35Verkondig God se mag,
sy majesteit oor Israel,
sy mag oor die wolke.
36God wek ontsag
in sy heiligdom.
Hy is die God van Israel.
Vir sy volk gee Hy
mag en sterkte.
Laat God verheerlik word.

Currently Selected:

PSALMS 68: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy