YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 109

109
Tree tog op, Here!
1Vir die koorleier. ’n Dawidspsalm.
O God, vir wie ek prys,
moenie stilbly nie,
2want bose en vals mense
kla my aan
en vertel leuens oor my.
3Hulle omring my
met woorde van wraak
en sonder rede val hulle my aan.
4As antwoord op my liefde
is hulle my aanklaers,
en dit terwyl ek vir hulle bid!
5Hulle vergeld my kwaad vir goed
en haat vir die liefde
wat ek gee.
6Stel ’n bose persoon aan
teen hom
en ’n aanklaer aan sy regterkant.
7Wanneer hy geoordeel word,
laat hy skuldig bevind word,
en sy gebede
as sonde gereken word.
8Laat sy dae min wees;
laat iemand anders
sy plek inneem.
9Mag sy kinders wese word
en sy vrou ’n weduwee;
10mag sy kinders
as bedelaars rondswerf,
en kos soek tussen die bouvalle
van hulle wonings.
11Laat skuldeisers beslag lê
op al sy besittings,
en vreemdelinge alles vat
waarvoor hy hard gewerk het.
12Mag niemand
vir hom goed wees
of sy weeskinders bejammer nie.
13Mag al sy afstammelinge sterf,
en hulle naam
in een geslag uitgewis word.
14Mag die Here nooit
sy voorouers se sondes
vergeet nie;
mag sy moeder se sondes
nooit uitgevee word nie.
15Laat hierdie sondes voortdurend
voor die Here wees,
maar laat sy kinders
se nagedagtenis
uitgewis word
uit die geheue van mense.
16Hy was nie goed
vir ander mense nie,
maar het die arm en behoeftige,
ook dié wat moedeloos is,
tot die dood toe vervolg.
17Hy het daarvan gehou
om te vervloek;
laat hy dit nou self ervaar.
Ander het hy nooit geseën nie;
laat seën vir hom
ook veraf wees.
18Vervloeking was vir hom
soos klere,
soos water vir sy liggaam,
soos olie vir sy beendere.
19Mag sy vervloeking wees
soos klere wat hy dra,
soos ’n gordel
wat hy altyd aanhet.
20Mag dit die Here se beloning
vir my aanklaers wees,
vir hulle wat slegte dinge
van my sê.
21Maar mag U,
oppermagtige Here,
met my handel
tot eer van u Naam!
Red my, want u getrouheid
is so goed.
22Ek is arm en in nood,
en my hart is hewig ontsteld
binne-in my.
23Soos ’n skadu wat lank word,
so kwyn ek weg.
Ek is soos ’n sprinkaan
wat afgeskud word.
24My knieë is swak
omdat ek vas;
ek is net vel en been.
25Mense spot met my;
as hulle my sien,
skud hulle die kop.
26Help my, Here my God!
Red my
op grond van u troue liefde.
27Laat hulle sien
dat dit u werke is,
dat U dit self gedoen het, Here.
28Hulle vervloek my,
maar U sal my seën!
My aanvallers
sal beskaam word,
maar u dienaar sal bly wees!
29Laat my aanklaers
met skande bekleed wees,
toegewikkel in oneer
soos met klere.
30Ek sal aanhou
om die Here te dank,
Hom prys
te midde van ’n menigte.
31Want Hy staan
langs die behoeftige,
gereed om hom te red
van hulle wat veroordeel.

Currently Selected:

PSALMS 109: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy