YouVersion Logo
Search Icon

MIGA 6

6
Klagte teen Israel
1Luister wat die Here sê:
“Staan op en stel jou saak
terwyl die berge
en die heuwels na jou luister.
2Berge, vaste fondamente
van die aarde,
luister na die klag van die Here!
Die Here maak ’n regsaak
teen sy volk.
Hy lê ’n klag teen Israel.
3“My volk,
wat het Ek julle aangedoen?
Waarmee het Ek julle oorlaai?
Antwoord My!
4Ek het julle tog uit Egipte
gebring,
julle uit slawerny gered.
Ek het Moses, Aäron en Mirjam
gestuur om julle te help.
5My volk, onthou julle nie
hoe koning Balak van Moab
probeer het
om ’n vloek op julle te plaas nie?
In plaas daarvan het Bileam,
Beor se seun, julle geseën.
Verder, onthou julle julle reis
van Sittim af Gilgal toe?
Ek, die Here, het alles in my
vermoë gedoen
om julle van my getrouheid te leer.”
6As ’n mens kom om die Here
te aanbid,
wat moet jy saambring?
Moet ons God aanbid deur
jaaroud kalwers te offer?
7Sal dit vir die Here
aanvaarbaar wees
as ons duisende ramme offer
of tienduisende strome
olyfolie aanbied?
Sal dit Hom bly maak
as ons ons oudste kinders offer
om te vergoed vir ons sonde?
8Nee, Hy het reeds gesê
wat reg is.
Die Here verwag van julle
om reg te laat geskied,
om liefde en trou te bewys,
en om nederig voor God
te lewe.
Jerusalem se skuld en straf
9Jerusalem, luister na die Here!
Verstandige mense
respekteer die Here se Naam.
“Neem kennis:
van die straf
en wie dit veroorsaak.
10Gaan julle ooit ophou
om deur kullery ryk te word?
In die huise
van die oneerlike mense
is vals maatbakke en -bekers.
11Sal Ek ’n man vryspreek
wat vals mate
en vals gewigte gebruik?
12Mense in die stad word ryk
deur geweld te gebruik.
Die inwoners is gewoond
om te lieg en te bedrieg.
13“Om dié rede
gaan Ek julle dodelik tref!
Ek gaan julle vernietig
oor al julle sondes.
14Julle sal eet,
maar nie versadig word nie.
Julle hongerpyne
sal nie weggaan nie.
Julle sal spaar,
maar niks bymekaarmaak nie.
Die bietjie
wat julle wel oorhou,
sal in gevegte tot niet gaan.
15Julle sal saai,
maar nie oes nie.
Julle sal olywe pars,
maar nie genoeg kry
om julle te salf nie.
Julle sal druiwe pars,
maar julle sal nie
die wyn drink nie.
16Julle gehoorsaam
net die wette van Omri
en volg al die gebruike
van Agab se familie na!
Ek sal van julle
’n voorbeeld maak
en julle verwoes.
Hulle sal julle inwoners spot,
ander volke sal julle minag.”

Currently Selected:

MIGA 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy