YouVersion Logo
Search Icon

MIGA 2

2
Oordeel oor ryk onderdrukkers
1Verskriklike dinge
lê in die vooruitsig vir julle
wat snags op julle beddens lê
en bose planne bedink.
Vroegoggend staan julle op
en voer dit uit
omdat julle die mag het
om dit te doen.
2As julle ’n stuk grond wil hê,
lê julle beslag daarop.
As julle iemand se huis wil hê,
vat julle dit
van hulle af.
Nie eers iemand se familie
of erfgrond
is veilig nie!
3Maar die Here sê:
“Ek sal kwaad
met kwaad vergeld.
Daar is nie ’n kans
dat julle sal ontsnap nie!
Julle gaan ’n slegte tyd beleef,
niks gaan oorbly
van julle trots nie.”
4Daardie dag
sal julle vyande
met julle spot.
Hulle sal ’n treurlied sing en sê:
“Dit is verby met ons,
ons is
heeltemal geruïneer!
God het ons land
van ons af weggevat.
Hy het dit verdeel
onder die mense
wat ons verraai het.”
5Wanneer die land verdeel word,
sal die Here se mense
geen sê hê nie.
Ander mense
sal julle grense vasstel.
Ware en vals profete
6Die mense sê:
“Moenie sulke dinge kwytraak
of profeteer nie.
So ’n skande
sal nie oor ons kom nie!”
7Israel, behoort julle so te praat?
Sal die Here geduld hê
met sulke gedrag?
As julle doen wat reg is,
sal my uitsprake
vir julle aanvaarbaar wees.
8Maar nou is my eie mense
vyandig en opstandig.
Julle gryp mense
en skeur die klere af
van hulle wat rustig verbyloop
soos soldate op pad terug
van ’n veldslag af.
9Julle verdryf die vroue
van my volk
uit hulle gerieflike huise.
Julle ontneem hulle kinders vir altyd
van die seëninge,
van hulle godgegewe erfdeel.
10Staan op!
Maak dat julle wegkom!
Hierdie land
sal nie meer vir julle
’n rusplek wees nie.
Dit is besoedel,
in ’n ongeneeslike toestand!
11Die soort profeet
wat julle sou verkies,
is ’n profeet
wat leuens vertel
en vir julle sê:
“Ek sal julle vertel
van al die voordele
wat wyn en sterk drank
vir julle kan bring.”
Hoop op herstel
12“Eendag, Israel#2:12 Grondteks Jakob.,
sal Ek julle almal
terugbring.
Die oorblyfsels van Israel
sal Ek sekerlik
weer bymekaarbring.
Ek sal hulle bymekaarbring
soos skape in ’n kraal,
soos ’n trop skape in die veld.
Julle land sal weerklink
van die gedreun van mense.
13Julle leier
sal deur die linies breek
en julle uit ballingskap lei.
Hy sal julle lei
deur die poorte van die stede,
julle sal deur die poorte breek
op pad na julle eie land toe.
Julle koning
sal voor julle uit gaan.
Die Here self sal julle lei.”

Currently Selected:

MIGA 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy