YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 7

7
Moenie met ’n vergrootglas na ander se foute kyk nie
1“Hou op om ’n oordeel oor ander uit te spreek. Dan sal God ook nie ’n oordeel oor julle uitspreek nie. 2Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel. Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir júlle gebruik word.
3“En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie? 4Of hoe sal jy vir jou medemens sê: ‘Kom, laat ek daardie splintertjie uit jou oog haal,’ terwyl daar ’n yslike stomp in jou eie oog sit? 5Jou skynheilige, haal eers die stomp uit jou eie oog uit. Dan sal jy ook duidelik kan sien om die splinter uit jou medemens se oog te haal.
6“Moenie wat heilig is vir onheilige mense gee nie. Hulle sal dit nie respekteer nie. Hulle sal soos honde omspring en julle verskeur. Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie. Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.”
Wees seker van gebedsverhoring
7“Hou aan met vra#7:7 Of bid. en God sal vir julle gee. Hou aan met soek en julle sal kry. Hou aan klop en God sal die deur vir julle oopmaak. 8Elkeen wat so volhardend vra, ontvang; en wie aanhou soek, kry; en vir elkeen wat aanhou klop, sal God oopmaak. 9Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie. 10Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie. 11As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!”
Die goue lewensreël
12“Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen. Dit is die kern van die wet en die profete.”
Die twee lewenspaaie
13“Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan. 14Hoe nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!”
Loop wakker vir vals profete
15“Pas op vir die vals profete#7:15 Of die mense wat ’n vals boodskap verkondig.. Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammetjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe. 16Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie. 17’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte. 18’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie. 19Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20“So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”
Vroom praatjies tel nie in God se koninkryk nie
21“Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was. 22Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in u Naam gepreek#7:22 Of geprofeteer. en in u Naam bose geeste uitgedryf en in u Naam baie wonders verrig!’ 23Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie. Gaan weg van My af! Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.’”
Bou op ’n soliede fondament
24“Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ’n verstandige persoon wie se huis op rots gebou is. 25Al val daar ’n stortbui, en al kom die vloedwater af, en al woed daar stormwinde teen die huis, sal dit nie inmekaarstort nie, want sy fondament is stewig op die rots vas. 26Maar elkeen wat na my woorde luister en dit nie doen nie, sal wees soos ’n dwaas wie se huis op die sand gebou is. 27Wanneer daar ’n stortbui val, en die vloedwater afkom, en die stormwinde waai, sal daardie huis heeltemal inmekaarstort.”
28Toe Jesus sy rede voltooi het, was die skare diep onder die indruk van sy onderrig. 29Dit was immers gesagvol – heeltemal anders as dié van hulle eie skrifkenners.

Currently Selected:

MATTEUS 7: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy