YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 12

12
Mense is baie belangriker as sabbatswette
1In dié tyd het Jesus op ’n Sabbatdag deur koringlande geloop. Sy dissipels het honger geword en begin om are te pluk en van die koring te eet. 2Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk wat doen jou dissipels. Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.”
3Jesus het hulle egter geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy mense honger geword het nie? 4Hoe hy selfs in die huis van God gegaan en hy en sy manne wederregtelik van die offerbrood geëet het wat vir die priesters gereserveer was. 5Of het julle nooit in die wet van Moses gelees dat die priesters wat op die Sabbatdag in die tempel diens doen en die Sabbat sodoende ‘ontheilig’, tog skotvry bly nie? 6Dít verseker Ek julle, Iemand groter as die tempel is hier by julle. 7As julle die Skrifwoord wat sê: ‘Ontferming is vir My belangriker as offers,’ werklik verstaan het, sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie. 8Ek, die Seun van die Mens, het immers ook seggenskap oor die Sabbat.”
Jesus genees ’n man met ’n misvormde hand
9Jesus het daarvandaan vertrek en in een van hulle sinagoges ingegaan. 10Daar sien Hy ’n man met ’n misvormde hand. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n mens iemand op die Sabbat gesond maak?” (Hulle het natuurlik gehoop Hy sou ja antwoord sodat hulle ’n klag teen Hom kon lê.)
11Daarop antwoord Hy hulle: “Sou enigeen van julle, as sy enigste skaap op die Sabbatdag in ’n sloot val, versuim om hom te gryp en uit te trek? Natuurlik nie! 12Hoeveel kosbaarder is ’n mens nie as ’n skaap nie! Daarom is dit mos niks meer as reg om op die Sabbat goed te doen nie.” 13Daarna sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.” Hy het dit uitgesteek, en dit het gesond geword. Dit was normaal net soos die ander een. 14Daarop het die Fariseërs uitgegaan en gaan beplan hoe hulle Jesus uit die weg sou ruim.
God het Jesus spesiaal uitgekies
15Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. ’n Groot skare het agter Hom aan gekom. Hy het al die siekes onder hulle gesond gemaak. 16Hy het hulle ernstig verbied om oral uit te basuin wie Hy is. 17So het die uitspraak van die profeet in vervulling gegaan:
18“Hier is my Dienskneg
wat Ek uitgekies het.
Hom het Ek lief.
Hy maak my hart baie bly.
Ek sal my Gees op Hom laat rus
en Hy sal my besluit
aan die nasies bekendmaak.
19Hy sal nie met mense stry
of ’n groot lawaai maak nie.
Hy sal nie sy stem
in die openbaar verhef nie.
20Hy sal dié wat reeds geknak is,
nie nog verder verbrysel nie
en die vonkie hoop
wat nog oorgebly het,
sal Hy nie uitblus nie,
totdat Hy my besluit laat seëvier.
21Ja, op Hom sal die nasies
hulle hoop vestig.”#12:18-21 Jes 42:1-4.
Jesus word beskuldig dat Hy met Satan saamwerk
22Hulle het ’n man na Hom toe gebring in wie daar ’n bose gees was. Die man was blind én stom. Jesus het hom gesond gemaak sodat hy kon sien en ook kon praat. 23Die hele menigte was verstom en het gesê: “Is Hy nie dalk tog die Seun van Dawid, die Messias, nie?”
24Toe die Fariseërs egter van die wonder hoor, het hulle geskimp: “Geen wonder dat hy bose geeste kan uitdryf nie. Hy kry sy krag immers van Beëlsebul, die baasduiwel.”
25Jesus het egter hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Enige koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde. En geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal bly staan nie. 26As Satan Satan uitdryf, is hy mos teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan kan staande bly? 27En as Ek met die krag van Beëlsebul die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Daarom sal hulle julle regters wees.
28“Maar as dit die Gees van God is wat My in staat stel om die bose geeste uit te dryf, moet julle besef dat die koningsheerskappy van God nou by julle is. 29Dis tog onmoontlik vir iemand om in ’n sterk man se huis in te gaan en hom van sy goed te beroof as hy daardie sterk man nie eers vooraf vasgebind het nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.
30“Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.
31“Dít verseker Ek julle: God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie. 32Enigiemand wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê – dit sal daardie persoon vergewe word. Maar wie die Heilige Gees belaster, sal nooit vergewe word nie, nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die toekomstige een nie.
33“’n Boom word aan sy vrugte geken. ’n Goeie boom kan nie anders as om goeie vrugte te dra nie. En ’n slegte boom kan nie anders as om slegte vrugte te dra nie.
34“Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. 35’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn. 36Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê. 37Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.”
Jona dien as wonderteken om te bewys dat Jesus van God af kom
38Daarop het sommige van die skrifkenners en Fariseërs Hom geantwoord: “Leermeester, ons wil graag ’n wonderteken van u sien om te bewys dat u van God af kom.”
39Jesus het egter geantwoord: “Dit is net slegte en goddelose mense wat ’n wonderteken as bewys wil hê. Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona.
40“Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees. 41Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie. 42Die koningin van Skeba#12:42 Grondteks Die koningin van die Suide. sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van ’n baie ver land gekom om na die wysheid van Salomo te kom luister. Iemand baie belangriker as Salomo is nou hier by julle; tog weier julle om na Hom te luister!
43“Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ’n rusplek, maar hy kry dit nie. 44Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’ Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant. 45Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in. Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin.
“Dieselfde sal gebeur met die slegte mense van vandag.”
Jesus se eintlike gesinslede
46Jesus was nog besig om met die skare te praat, toe staan sy ma en sy broers buitekant. Hulle wou met Hom praat. 47Iemand sê toe vir Jesus: “U ma en broers staan hier buite en hulle wil met U praat.”
48Hy antwoord die een wat met Hom praat: “Weet julle wie is my ma en wie is my broers?” 49Daarop wys Hy na sy dissipels en sê: “Daar is my ma en my broers. 50Elkeen wat aan die wil van my hemelse Vader gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”

Currently Selected:

MATTEUS 12: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy