YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 11

11
Johannes die Doper se ernstige vrae oor Jesus
1Nadat Jesus hierdie instruksies aan sy twaalf dissipels gegee het, het Hy daarvandaan vertrek om in die dorpe van Galilea onderrig te gee en te preek.
2Johannes het in die tronk gehoor wat Jesus doen – werke soos dié wat die verwagte Messias sou doen#11:2 Grondteks die werke van die Christus.. Hy stuur toe van sy dissipels om vir Jesus te vra: 3“Is U werklik die Messias wat sou kom, of moet ons tog iemand anders verwag?”
4Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien – 5blindes sien en verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word gesond#11:5 Grondteks gereinig. en dowes hoor, dooies word opgewek en armes hoor die Goeie Nuus. 6En sê vir hom: ‘Gelukkig is elkeen vir wie Ek nie ’n struikelblok is nie.’”
7Ná hulle vertrek het Jesus met die skare oor Johannes begin praat. “Wat het julle verwag toe julle uitgegaan het om hierdie man in die woestyn te gaan sien? Tog seker nie iemand wat soos ’n riet deur die wind heen en weer gewaai word nie? 8Tog seker ook nie iemand wat in weelderige klere uitgevat is nie? Die mense wat so aantrek, woon immers in paleise, nie in die woestyn nie. 9Het julle nie veel eerder uitgegaan omdat julle ’n profeet verwag het nie? Natuurlik! Ek verseker julle, hy was selfs meer as ’n profeet. 10Dit is hý van wie in die Skrif geskryf staan:
‘Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit.
Hy sal die pad vir jou
gereedmaak.’#11:10 Mal 3:1.
11“Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is selfs die onbelangrikste mensie in God se koninkryk nog belangriker as hy! 12Vandat Johannes die Doper begin preek het tot nou toe is God se koninkryk besig om vir homself ’n pad oop te breek en mense wat al hulle kragte daarop toespits, maak dit hulle eie#11:12 Of geweldenaars probeer dit met alle mag verower.. 13Al die profete en die wet, tot Johannes self, het geprofeteer aangaande die huidige tyd. 14As julle bereid is om te aanvaar wat Ek vir julle sê – hý is die Elia wat sou kom. 15Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê!
16“Waarmee sal Ek vandag se mense vergelyk? Hulle is soos kinders wat op die dorpsplein speel en mekaar verwyt 17deur te sê:
‘Ons het vir julle
’n bruilofslied gespeel,
maar julle wou nie dans nie.
Ons het vir julle ’n begrafnislied
gesing,
maar julle het geweier
om te huil.’
18“Want Johannes het soos ’n askeet gelewe – hy het dikwels gevas en nie wyn gedrink nie. Toe het julle gesê: ‘Hy is van ’n bose gees besete.’ 19Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink wyn – en julle sê: ‘Hy’s ’n vraat en ’n dronklap, ’n vriend van die slegste soort sondaars#11:19 Grondteks van die tollenaars en sondaars..’ Ja, die toets vir die wysheid is die resultate wat dit voortbring.”
Jesus spreek die onboetvaardige dorpe aan
20Jesus het die dorpe waar die meeste van sy wonderdade plaasgevind het, ernstig aangespreek omdat hulle hulle nie bekeer het nie: 21“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! Want as in die nie-Joodse stede Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal sakke aangetrek en as op hulle koppe uitgegooi het om te wys dat hulle tot inkeer gekom het. 22Ek verseker julle dat dit vir Tirus en Sidon makliker sal wees op die oordeelsdag as vir julle. 23En jy, Kapernaum,
jy dink tog seker nie
jy sal hemelhoog
verhoog word nie?
Die realiteit is dat jy
in die doderyk sal beland.
“Want as in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit tot vandag toe bly voortbestaan het. 24Ek verseker jou, dit sal vir die land Sodom makliker wees op die oordeelsdag as vir jou.”
Kom na My toe!
25Toe het Jesus hierdie gebed gebid:
“Vader, Here van die hemel
en die aarde,
Ek sê vir U dankie
dat U die insig in hierdie dinge
van die slimmes en intelligentes
weerhou het
en dit oopgemaak het vir hulle
wat soos kinders geword het.
26Ja, Vader, want U verkies
hierdie manier van doen!
27“My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader. En niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekendmaak.
28“Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. 29Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry. 30Want my juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra.”

Currently Selected:

MATTEUS 11: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy