YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 4

4
Die Seun van God word versoek
1Jesus het vol van die Heilige Gees die Jordaanrivier verlaat. Hy is deur die Gees na die woestyn toe gelei, 2waar die duiwel Hom vir 40 dae lank versoek het. Hy het die hele tyd niks geëet nie en aan die einde daarvan was Hy baie honger.
3Die duiwel het toe vir Hom gesê: “As jy die Seun van God is, verander hierdie klip in ’n brood.”
4Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee! Die Skrif sê: ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe.’”#4:4 Deut 8:3.
5Daarna het die duiwel Hom na ’n hoogte geneem en in ’n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys. 6Die duiwel het vir Hom gesê: “Ek sal vir jou die glorie en die mag oor al hierdie koninkryke gee, want hulle is myne om vir enigeen te gee vir wie ek wil. 7Ek sal dit vir jou gee as jy neerbuig en my aanbid.”
8Jesus het geantwoord: “Die Skrif sê:
‘Jy moet die Here jou God aanbid
en Hom alleen dien.’”#4:8 Deut 6:13.
9Toe het die duiwel Hom na Jerusalem geneem, na die hoogste punt van die tempel, en gesê: “As jy die Seun van God is, spring hier af! 10Want die Skrif sê:
‘God sal aan sy engele
opdrag gee
om jou te beskerm.’
11“En:
‘hulle sal jou
op die hande dra
sodat jy nie dalk jou voet
teen ’n klip stamp nie.’”#4:10-11 Ps 91:11-12.
12Jesus het hom geantwoord: “Die Skrif sê ook: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’”#4:12 Deut 6:16.
13Toe die duiwel Jesus klaar versoek het, het hy Hom verlaat tot die volgende geleentheid.
Jesus se tuisdorp verwerp Hom
14Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword. 15Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.
16Toe Hy kom in sy tuisdorp Nasaret waar Hy grootgeword het, het Hy soos gewoonlik op die Sabbat na die sinagoge gegaan en opgestaan om die Skrif te lees. 17Die boekrol wat Jesaja die profeet bevat, is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê:
18“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My aangestel het
om die Goeie Nuus
vir die armes aan te kondig.
Hy het My gestuur om aan te
kondig
dat gevangenes vrygelaat sal
word,
dat blindes sal sien,
dat onderdruktes bevry sal word
van hulle verdrukkers,
19en dat die tyd van die Here
se goedheid gekom het#4:18-19 Grondteks om die gunstige jaar van die Here aan te kondig. Jes 61:1-2..”
20Hy het die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge het stip na Hom gekyk. 21Toe sê Hy: “Hierdie Skrif is vandag bewaarheid onderwyl julle daarna geluister het!”
22Almal wat daar was, het goed van Hom gepraat en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. “Hoe is dit moontlik?” het hulle gevra. “Is hy dan nie Josef se seun nie?”
23Toe het Jesus gesê: “Miskien sal julle die spreekwoord vir My aanhaal: ‘Geneesheer, genees jouself’ met die bedoeling: ‘Waarom doen jy nie hier in jou tuisdorp die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het nie?’ 24Maar die waarheid is, ’n profeet word nie in sy tuisdorp aanvaar nie.
25“Daar was sekerlik baie weduwees in Israel wat hulp nodig gehad het in Elia se tyd toe dit drie en ’n half jaar nie gereën het nie en hongersnood in die land geheers het. 26Tog is Elia nie na enige van hulle gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat – ’n vreemdeling in die gebied van Sidon. 27Of dink aan die profeet Elisa wat Naäman die Siriër genees het, eerder as die baie mense in Israel wat aan ernstige velsiektes gely het.”
28Toe die mense in die sinagoge dít hoor, was hulle woedend. 29Hulle het opgespring, Hom omsingel en Hom uit die dorp geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was.
Hulle wou Hom oor die krans stoot, 30maar Hy het tussen die skare deurgeglip en weggegaan.
Jesus maak ’n man in die mag van ’n bose gees in Kapernaum gesond
31Jesus is toe na Kapernaum, ’n dorp in Galilea, en het die mense elke Sabbatdag daar in die sinagoge geleer. 32Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat.
33Op ’n dag toe Hy in die sinagoge was, het ’n man in wie daar die gees van ’n onrein demoon was, begin skree: 34“Gaan weg! Waarom pla jy ons, Jesus van Nasaret? Het jy gekom om ons te vernietig? Ek weet wie jy is: Die Heilige wat deur God gestuur is!”
35Jesus het hom kortgevat. “Bly stil!” het Hy vir die bose gees gesê. “Kom uit die man uit!” Die bose gees het die man daar voor almal op die vloer gegooi; toe het die bose gees uit hom gegaan sonder om hom verder seer te maak.
36Die mense het verbaas uitgeroep: “Watter gesag en mag het hierdie man se woorde nie! Selfs bose geeste gehoorsaam hom en vlug op sy bevel!” 37Die berig oor wat Jesus gedoen het, het soos ’n veldbrand deur die hele streek versprei.
Jesus maak Petrus se skoonma en baie ander siekes gesond
38Nadat Hy die sinagoge verlaat het, is Jesus na Simon#4:38 Dit is Petrus. se huis waar Simon se skoonma baie siek met ’n hoë koors was. “Maak haar asseblief gesond,” het almal gesmeek.
39Hy het by haar bed gaan staan, die koors bestraf, en sy het dadelik gesond geword. Sy het onmiddellik opgestaan en ’n maaltyd vir hulle voorberei.
40Met sononder daardie dag het almal hulle siekes na Jesus toe gebring. Ongeag watter siektes hulle gehad het, Jesus het hulle aangeraak en almal genees. 41Sommige was van bose geeste besete en die bose geeste het op sy bevel uitgekom terwyl hulle skree: “U is die Seun van God.” Maar omdat hulle geweet het dat Hy die Messias is, het Hy hulle tereggewys en verbied om daaroor te praat.
Jesus preek in die sinagoges
42Vroeg die volgende môre het Jesus na ’n verlate plek vertrek. Die skares het oral na Hom gesoek, en toe hulle Hom uiteindelik kry, het hulle Hom gesmeek om hulle nie te verlaat nie. 43Maar Hy het geantwoord: “Ek moet die Goeie Nuus van die koningsheerskappy van God in ander plekke ook verkondig, want dit is waarvoor Ek gestuur is.”
44Hy het dus voortgegaan om in die Joodse sinagoges te preek.

Currently Selected:

LUKAS 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy