YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 19

19
Jesus gaan tuis by Saggeus
1Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. 2En daar was iemand met die naam Saggeus; hy was ’n hooftollenaar en ’n ryk man. 3Hy het sy bes probeer om te sien wie Jesus is, maar hy kon nie vanweë die skare en omdat hy kort was. 4Hy het vooruit gehardloop om voor te kom en in ’n vyeboom geklim om Jesus te sien omdat Hy daar sou verbygaan.
5Toe Jesus by dié bepaalde plek kom, het Hy opgekyk in die boom en vir Saggeus gesê: “Saggeus, klim haastig af, want Ek moet nog vandag by jou tuisgaan.”
6Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus opgewonde ontvang. 7Almal wat dit gesien het, het geprotesteer en gesê: “Hy het jou werklik tuisgegaan by ’n sondige man!”
8Saggeus het egter openlik gereageer en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ’n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.”
9Jesus sê toe vir hom: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, omdat ook hierdie man ’n seun van Abraham is. 10Ek, die Seun van die Mens, het immers gekom om wat verlore is, te soek en te red.”
Tien slawe ontvang muntstukke om mee te woeker
11Nadat die mense na Jesus geluister het, het Jesus self voortgegaan om ’n volgende gelykenis vir hulle te vertel. Die aanleiding was dat Jesus naby Jerusalem was en die mense gedink het dat die koningsheerskappy van God skielik, ja, enige oomblik sou begin. 12Jesus het gesê: “’n Sekere man van hoë afkoms het na ’n afgeleë landgebied vertrek om ’n koningskap te bekom en dan weer terug te kom. 13Hy het sy tien slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Gaan doen besigheid daarmee totdat ek kom.’ 14Sy landgenote het hom egter gehaat en ’n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning oor ons hê nie.’
15“By sy terugkoms, nadat hy die koningskap ontvang het, het hy hierdie slawe aan wie hy die geld gegee het, geroep met die doel om agter te kom watter wins hulle gemaak het.
16“Die eerste het aangetree en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het ’n wins van tien muntstukke opgelewer.’ 17Sy reaksie was: ‘Knap gedaan, goeie slaaf; omdat jy in die geringste getrou was, kry jy nou beheer oor tien stede.’
18“Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’ 19Aan hierdie slaaf sê hy toe: ‘Jy kry beheer oor vyf stede.’
20“Nog een het gekom en gesê: ‘Meneer, kyk, hier is u muntstuk. Ek het dit in ’n doek gaan wegsteek. 21Ek was bang vir u omdat u ’n hardvogtige besigheidsman is. U eis wat u nie belê het nie, en oes waar u nie gesaai het nie.’
22“Hy sê vir hom: ‘Uit jou eie mond oordeel ek jou nou. Jy is ’n slegte slaaf! Jy was deeglik daarvan bewus dat ek ’n hardvogtige man is wat opvra wat ek nie belê het nie, en oes waar ek nie gesaai het nie. 23Waarom het jy nie dan maar my geld in ’n bank belê nie? Dan sou ek dit met rente by my terugkeer kon getrek het.’
24“Hy het toe aan die omstanders die opdrag gegee: ‘Vat die muntstuk van hom af weg, en gee dit aan die een wat die tien muntstukke het.’ 25Hulle antwoord hom: ‘Meneer, hy het dan alreeds tien muntstukke.’
26“Ek sê vir julle: ‘Aan elkeen wat het, sal gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook weggevat word wat hy besit. 27En daardie mense wat teen my vyandig was, wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle hier en maak hulle hier voor my oë dood.’”
Jesus gaan Jerusalem triomfantlik binne
28Nadat Jesus dit gesê het, het Hy voor die ander uit gegaan, op pad na Jerusalem toe.
29Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag: 30“Gaan na die dorpie daar oorkant; by die ingang sal julle ’n donkie kry wat vasgemaak is, waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hier. 31As enigiemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só sê: ‘Die Here het hom nodig.’”
32Die twee dissipels wat deur Jesus gestuur is, gaan kry toe alles net soos Hy vir hulle gesê het. 33Terwyl hulle besig is om die donkie los te maak, sê sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?”
34Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.”
35Hulle het die donkie na Jesus toe gebring. Hulle het hulle bo-klere op die donkie oopgesprei, en Jesus laat opklim.
36Terwyl Jesus vorentoe beweeg, het die mense hulle bo-klere op die pad oopgesprei. 37Toe Hy naderkom, reeds op die afdraand van die Olyfberg, het die groot skare dissipels God uit volle bors begin loof en prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. 38Hulle het gesing:
“Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here,
die Koning!
Vrede in die hemel
en heerlikheid
in die hoogste hemele!”#19:38 Ps 118:26; 148:1.
39Sommige van die Fariseërs uit die skare het vir Jesus gesê: “Leermeester, bestraf jou dissipels!”
40Jesus het gereageer: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”
Jesus huil oor Jerusalem
41Toe Hy naderkom en die stad voor Hom sien, het Jesus oor die stad begin huil.
42Hy het verder gesê: “As jy op hierdie oomblik maar net wou insien watter dinge vir jou vrede bring! Maar nou is dit weggesteek vir jou oë. 43Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante beleër. 44Hulle sal jou met die grond gelykmaak en jou inwoners#19:44 Grondteks en jou kinders in jou. uitwis. En hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly nie omdat jy die beslissende tyd van God se genadige besoek aan jou verwerp het.”
Jesus maak die tempel skoon
45Jesus het die tempelgebied ingegaan en die smouse begin uitjaag. 46Hy sê vir hulle: “Daar staan geskryf:
‘My huis moet ’n huis van
gebed wees,’#19:46 Jes 56:7; Jer 7:11.
maar julle het dit ’n grot
vir rowers gemaak.”
47Jesus was dag na dag in die tempel besig om onderrig te gee. Die priesterhoofde en die skrifkenners en ook die ander volksleiers het ’n rede gesoek om Hom om die lewe te bring. 48Hulle het egter niks gekry wat hulle in werking kon stel nie omdat die hele volk aan sy lippe gehang het.

Currently Selected:

LUKAS 19: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy