YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 11

11
Jesus se riglyne vir gebed
1Eenmaal was Jesus êrens besig om te bid. Toe Hy klaar was, het een van sy dissipels na Hom gekom en gesê: “Here, leer ons om te bid, net soos Johannes sy dissipels geleer het.”
2Hy het geantwoord: “Dit is hoe julle moet bid:
‘Vader, laat u Naam geheilig word.
Laat u koningsheerskappy
begin.
3Gee ons die porsie brood
wat ons vir elke dag nodig het.
4En vergewe ons ons sondes,
net soos ons dié
wat teen ons gesondig het,
vergewe.
En bring ons nie
in die versoeking nie.’”#11:2-4 Sommige manuskripte het nog dele van die Ons Vader, soos in Matt 6:9-13.
5Toe, om hulle meer van gebed te leer, het Hy hierdie voorbeeld gebruik: “Gestel jy gaan in die middel van die nag na ’n vriend se huis om drie brode te leen en jy sê vir hom: 6‘’n Vriend van my het pas aangekom vir ’n besoek, en ek het niks vir hom om te eet nie,’ 7en hy sou uit sy slaapkamer antwoord: ‘Moet my nie pla nie. Die deur is gesluit vir die nag, en ons is almal in die bed. Ek kan jou nie nou help nie.’ 8Nee, Ek sê vir julle, al sou hy dit nie as vriend doen nie, as jy net lank genoeg aanhou klop, sal hy vanweë jou onbeskaamdheid#11:8 Of om skande te vermy. opstaan en vir jou gee wat jy nodig het.
9“En so sê Ek vir julle, hou aan vra, en vir julle sal gegee word wat julle vra. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou aan klop, en die deur sal oopgemaak word. 10Want enigeen wat vra, ontvang. Enigeen wat soek, vind. En die deur word oopgemaak vir enigeen wat klop.
11“Julle vaders – as julle kinders#11:11 Sommige manuskripte het ook nog vir brood vra, gee julle vir hulle ’n klip? Of as hulle ... vir ’n vis vra, gee julle dan vir hulle ’n slang? 12Of as hulle ’n eier vra, gee julle dan vir hulle ’n skerpioen? Natuurlik nie! 13As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”
Satan teenoor die Een wat sterker is
14Eendag het Jesus ’n bose gees uit ’n man uitgedryf wat nie kon praat nie, en die man se stem het teruggekeer. Die skare was verstom, 15maar sommige het gesê: “Geen wonder Hy kan bose geeste uitdryf nie. Hy kry sy krag van Satan#11:15 Grondteks Beëlsebul., die prins van bose geeste!” 16Om Jesus te toets het ander vir ’n wonderteken uit die hemel gevra om te sien of Hy van God kom.
17Hy het hulle gedagtes geken; daarom het Hy gesê: “Enige koninkryk wat teen homself stryd voer, is gedoem. En ’n verdeelde huis is ook gedoem. 18Julle sê mos Ek kry my mag deur die prins van bose geeste#11:18, 19 Grondteks deur Beëlsebul.. Maar as Satan teen homself veg deur My mag te gee om bose geeste uit te dryf, hoe kan sy koninkryk voortbestaan? 19En as Ek deur die prins van bose geeste#11:18, 19 Grondteks deur Beëlsebul. mag kry, wat van julle eie volgelinge? Hulle dryf ook bose geeste uit; dus sal hulle julle veroordeel vir wat julle gesê het. 20Maar as Ek bose geeste uitdryf deur die krag van God, dan het die koningsheerskappy van God tot by julle gekom. 21Want wanneer Satan#11:21 Grondteks die sterk een., wat ten volle gewapen is, sy paleis bewaak, is dit veilig – 22totdat iemand wat sterker is, hom aanval en oorweldig en sy wapens afneem en wat hy van ander gesteel het, uitdeel.
23“Enigiemand wat My nie help nie, weerstaan My; en enigiemand wat nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, is besig om hulle uitmekaar te jaag.”
’n Onrein gees keer terug
24“Wanneer ’n onrein gees iemand verlaat, gaan hy die woestyn in op soek na rus. Maar as hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek sal teruggaan na die persoon toe waar ek vandaan kom.’ 25Hy gaan dus terug en kry sy vorige tuiste uitgevee en skoon. 26Dan gaan haal hy sewe ander geeste erger as hyself, en trek in die persoon in en bly in hom. En so is daardie persoon slegter daaraan toe as voorheen.”
Wie werklik geseënd is
27Terwyl Hy praat, het ’n vrou in die skare uitgeroep: “God seën u moeder – die skoot waaruit U gekom het, en die borste wat U gevoed het!”
28Hy het geantwoord: “Maar nog meer geseënd is almal wat die woord van God hoor en dit uitleef.”
Die teken van Jona
29Terwyl die skare om Jesus saamdrom, het Hy gesê: “Dit is bose tye hierdie, en hierdie bose geslag hou aan om van My ’n wonderteken te vra. Maar die enigste teken wat Ek hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona. 30Wat met hom gebeur het, was ’n teken vir die mense van Nineve dat God hom gestuur het. Wat met My gebeur, sal ’n teken wees dat God My, die Seun van die Mens, na hierdie mense gestuur het.
31“Die koningin van Skeba#11:31 Of Die koningin van die Suide. sal in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want sy het van ’n ver land gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En nou is Iemand groter as Salomo hier – en hierdie geslag weier om na Hom te luister. 32Die mense van Nineve sal ook in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want hulle het tot inkeer gekom deur die prediking van Jona. En nou is Iemand groter as Jona hier – en hierdie geslag weier om tot inkeer te kom.”
Jou oog is die lamp vir jou liggaam
33“Niemand steek ’n lamp op en steek dit dan weg of sit dit onder ’n emmer nie. Inteendeel, dit word op ’n staander geplaas om lig te laat skyn vir almal wat die kamer binnekom. 34Jou oog is die lamp vir jou liggaam. ’n Skoon oog laat lig in jou liggaam inskyn. Maar ’n vuil oog sluit die lig uit en dompel jou in duisternis. 35Maak seker dat die lig wat jy dink jy het, nie dalk duisternis is nie. 36As jou hele liggaam met lig gevul is, sonder donker hoekies, sal jou hele lewe stralend wees asof ’n helder lig op jou skyn.”
Jesus striem die Joodse godsdiensleiers
37Toe Jesus klaar gepraat het, het een van die Fariseërs Hom na sy huis genooi vir ’n ete. Hy het dus ingegaan en sy plek aan tafel ingeneem.
38Sy gasheer was verbaas om te sien dat Hy plaasneem sonder om eers die seremoniële reiniging volgens Joodse gebruik na te kom.
39Toe het die Here vir hom gesê: “Julle, Fariseërs, is so versigtig om die buitekant van die koppie en bord skoon te maak, maar binne-in is julle nog smerig – vol inhaligheid en gemeenheid! 40Dwase! Het God nie die binne- sowel as die buitekant gemaak nie? 41Gee dus vir die behoeftiges wat binne die koppie en die bord is, en julle sal oral skoon wees.
42“Maar ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle is nougeset om ’n tiende van selfs die kleinste deel van julle inkomste te gee#11:42 Grondteks om tiendes te gee van kruisement, wynruit en elke soort kruie., maar julle vergeet heeltemal van regverdigheid en die liefde vir God. Julle moet regverdigheid en liefde beoefen, maar sonder om die tiendes na te laat.
43“Ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle hou van die ereplekke in die sinagoges en om eerbiedig gegroet te word wanneer julle deur die markpleine loop! 44Ja, ellende wag vir julle! Want julle is soos versteekte grafte in die veld. Mense loop daaroor sonder om te weet van die korrupsie waaroor hulle loop.”
45“Leermeester,” sê ’n wetskenner, “U beledig óns ook met wat U nou gesê het.”
46“Ja,” het Jesus geantwoord, “ellende wag ook vir julle, wetskenners! Want julle belas mense met onmoontlike godsdienstige eise, en julle lig nooit ’n vinger om die las te verlig nie.
47“Ellende wag vir julle! Want julle bou grafte vir die profete wat julle voorouers lank gelede vermoor het. 48So bevestig julle dat julle die dade van julle voorouers goedkeur. Húlle het immers die profete doodgemaak, maar júlle bou hulle grafte op.
49“Dít is wat God in sy wysheid oor julle gesê het#11:49 Grondteks Daarom het die wysheid van God gesê.: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, en hulle sal sommige doodmaak en ander vervolg.’
50“En julle van hierdie geslag sal verantwoordelik gehou word vir al God se profete van die skepping van die wêreld af – 51van die moord van Abel af tot die moord van Sagaria wat tussen die altaar en die heiligdom vermoor is. Ja, dit sal sekerlik teen julle gehou word.
52“Ellende wag vir julle, wetskenners! Want julle verberg die sleutel tot kennis vir die mense. Julle gaan self nie die koninkryk binne nie, en julle verhinder ander om in te gaan.”
53Toe Jesus uit die huis uitgaan, het die wetskenners en Fariseërs baie vyandig begin raak en Hom met vrae bestook oor ’n klomp goed 54in ’n poging om Hom te betrap op iets wat Hy verkeerd sê.

Currently Selected:

LUKAS 11: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy