YouVersion Logo
Search Icon

JONA 1

1
Opdrag aan Jona
1Die Here het die volgende boodskap vir Jona, die seun van Amittai, gegee: 2“Maak klaar en gaan na die groot stad Nineve toe! Praat ernstig met hulle, want Ek het hulle slegte lewenswyse raakgesien.”
3Maar Jona het in die teenoorgestelde rigting gegaan om van die Here af weg te kom. Hy het afgegaan na die kus toe, na die hawe Joppe. Daar het hy ’n skip gekry wat Tarsis toe sou vaar. Hy het ’n kaartjie gekoop en aan boord gegaan. Jona het gehoop dat as hy in ’n westelike rigting gaan, hy van die Here af sou wegkom.
Jona veroorsaak ’n seestorm
4Tydens die vaart het die Here skielik ’n sterk wind oor die see laat opkom. Daar het ’n hewige storm ontstaan en gedreig om die skip te laat sink. 5Uit vrees vir hulle lewens het die matrose tot hulle gode om hulp geroep. Hulle het van die vrag oorboord gegooi om die skip ligter te maak. Terwyl dit alles gebeur het, het Jona afgegaan na die vragruim van die skip en daar gelê en geslaap. 6Die kaptein van die skip het afgegaan na Jona toe en vir hom geskreeu: “Hoe kan jy in sulke omstandighede slaap? Staan op en bid tot jou god! Miskien sal hy ons genadig wees en ons lewens spaar.”
7Die matrose sê toe vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan vasstel wie hierdie krisis veroorsaak het.” Hulle het dit gedoen en Jona is uitgewys. 8Toe vra hulle hom: “Wat het jy gedoen om hierdie storm oor ons te laat losbars? Wie is jy en wat is jou beroep? Waar kom jy vandaan? Wat is jou nasionaliteit?”
9Jona het geantwoord: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die Here, die God van die hemel wat die see en die land gemaak het. 10Ek is besig om van die Here af weg te vlug.”
Toe het groot vrees die matrose beetgepak. Hulle het uitgeroep: “Hoekom doen jy dit?”
11Die storm het al hoe hewiger geword; daarom het hulle hom gevra: “Wat moet ons met jou doen sodat die see kan bedaar?”
12Jona het hulle geantwoord: “Gooi my in die see en dit sal kalm word. Ek weet ék is die oorsaak van hierdie groot storm.”
13Die matrose het egter nog harder geroei en die land probeer bereik. Hulle was nie suksesvol nie, want die see het net al hoe onstuimiger geword. 14Hulle het die Here aangeroep en gesê: “Ag, Here, moet tog nie dat ons weens hierdie man vergaan nie. Moet ons nie verantwoordelik hou vir sy dood nie. Here, U het gedoen soos U wou.”
15Toe het die matrose Jona opgetel en in die see gegooi. Die onstuimige see het dadelik kalm geword. 16Groot vrees vir die Here het die matrose aangegryp. Hulle het ’n offer vir die Here gebring en ’n belofte gemaak om Hom te dien.
17Toe stuur die Here ’n groot vis om Jona in te sluk. Jona was vir drie dae en drie nagte in die vis.

Currently Selected:

JONA 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy