YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 21

21
Jesus verskyn aan sewe dissipels
1Daarna het Jesus weer aan sy dissipels by die Meer van Tiberias#21:1 ’n Ander naam vir die Meer van Galilea. verskyn. Dit het só gebeur. 2Die volgende dissipels was daar saam: Simon Petrus en Tomas (wat ook Didimus genoem is), Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus, en nog twee ander.
3Simon Petrus sê vir hulle: “Ek gaan visvang.” Hulle sê vir hom: “Ons gaan ook saam met jou.” Hulle het in die skuit gaan klim, en het daardie nag niks gevang nie.
4Net ná dagbreek het Jesus daar op die strand gestaan, maar sy dissipels was nie daarvan bewus dat dit Hý is nie. 5Hy vra toe vir hulle: “Kinders, het julle nie iets om te eet nie?”
Hulle antwoord vir Jesus was net: “Nee.”
6Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die boot uit en julle sal vis kry.” Hulle het die net toe uitgegooi, en kon dit nie weer intrek nie as gevolg van die groot hoeveelheid vis.
7Die lieflingdissipel sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy klere aangetrek, want hy was halfpad kaal, en hy het in die water gespring. 8Die ander dissipels het solank met die bootjie nadergekom, want hulle was nie ver van die land af nie, ongeveer 100 meter, en hulle het die net met visse land toe gesleep.
9Toe hulle aan land kom, sien hulle ’n vuurtjie met ’n vis wat daarop lê, en daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle: 10“Bring van die vis wat julle so pas gevang het.” 11Simon Petrus het in die boot geklim en die net aan land getrek. Dit was vol groot visse, 153 van hulle. Al was daar só baie, het die net nie geskeur nie.
12Jesus het hulle uitgenooi: “Kom kry ontbyt.” Nie een van sy dissipels het dit gewaag om Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het net geweet dat dit die Here is. 13Jesus het nadergekom, die brood geneem en aan hulle uitgedeel, net so ook die vis.
14Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek#21:14 Of tussen die dooies uit opgewek. is.
Petrus ontvang ’n lewensopdrag
15Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies#21:15 Of meer as hulle.?”
Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”
Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.”
16Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”
“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus.
Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.”
17’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”
Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”
Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape. 18Ek verseker jou, toe jy nog jonger was, het jy self jou klere vasgegordel en het jy rondgegaan waar jy ook al wou; wanneer jy egter oud is, sal jy jou hande uitstrek en iemand anders sal jou klere vasgordel en jou bring waar jy nie graag sal wil wees nie.” 19Dit het Jesus gesê om te sinspeel op die soort dood waarmee Petrus God sou verheerlik.
Nadat Hy dit gesê het, sê Jesus vir Petrus: “Volg My as my dissipel!” 20Toe Petrus omdraai, sien hy dat die lieflingdissipel Jesus volg. Dit is hy wat by die paasete tot baie na aan Jesus se bors oorgeleun en gevra het: “Here, wie is die een wat U gaan uitlewer?”
21Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: “Wat van hom, Here?”
22Jesus reageer daarop: “As Ek wil hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat het dit met jou te doen? Volg jý My!” 23Hierdie gerug het toe onder die gelowiges rondgegaan dat daardie dissipel nie sal sterf nie. Jesus het egter nie vir Petrus gesê dat daardie dissipel nie sal sterf nie, maar eintlik net: “As Ek wou hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat gaan dit jou aan?”
24Hierdie dissipel is die een wat oor al hierdie dinge getuig en dit neergeskryf het, en ons is oortuig dat sy getuienis betroubaar is.
25Daar bestaan nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. As hulle egter een vir een opgeskryf moes word, dink ek sou die wêreld nie plek hê vir al die boeke wat geskryf word nie.

Currently Selected:

JOHANNES 21: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy