YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 16

16
1“Ek het hierdie dinge nou vir julle uitgespel sodat julle nie struikel nie. 2Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom ’n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink hy bewys ’n besondere guns aan God. 3Hulle sal hierdie dinge doen omdat hulle nie My of die Vader geken het nie. 4Ek het dit nou vir julle gesê sodat, wanneer hulle uur ook al slaan, julle moet onthou dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die heel begin af vir julle gesê nie omdat Ek nog heeltyd saam met julle was.”
Jesus se weggaan is tot die dissipels se voordeel
5“Nou is Ek op pad terug na Hom toe wat My gestuur het; tog vra niemand van julle vir My: ‘Waarheen gaan U?’ nie. 6Omdat Ek dit egter vir julle gesê het, het hartseer julle harte oorweldig. 7Laat Ek julle egter die waarheid vertel: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Raadgewer#16:7 Of Helper., die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek die Raadgewer na julle toe stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sy sonde, van God se regverdige oordeel#16:8 Of van geregtigheid., en dat die oordeel hier is. 9Van sonde, omdat die wêreld nie in My glo nie; 10van God se regverdige oordeel, omdat Ek teruggaan na die Vader toe en julle My nie meer sien nie; 11van veroordeling, omdat die regeerder van hierdie wêreld reeds veroordeel is.
12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. 13Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel. 14Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal meedeel. 15Alles waaroor die Vader beskik, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: ‘Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle meedeel.’”
Blywende blydskap maak die tydelike hartseer draaglik
16“Nog net ’n kort tydjie, en julle sien My nie meer nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien.”
17Sommige van sy dissipels het toe vir mekaar gesê: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog net ’n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’? 18Hierdie ‘kort tydjie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit tog? Ons verstaan nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê.
19Jesus het agtergekom dat hulle Hom daaroor wou uitvra, en Hy sê toe vir hulle: “Probeer julle onder mekaar agterkom wat Ek bedoel het met: ‘Nog ’n kort tydjie, dan sien julle My nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’? 20Ek verseker julle, julle sal huil en treur, maar die wêreld sal juig. Julle sal baie hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. 21’n Vrou het pyn wanneer sy geboorte skenk omdat haar tyd gekom het. Wanneer die baba egter gebore is, onthou sy nie meer die swaarkry nie vanweë die groot blydskap dat daar ’n mens in die wêreld gekom het. 22Julle ondervind ook nou hartseer. As Ek julle egter weer sien, sal julle harte oorloop van blydskap, en niemand sal dié blydskap weer van julle af wegneem nie. 23En op daardie dag sal julle My niks meer uitvra nie. Ek verseker julle, wat julle ook al van die Vader vra in my Naam, sal Hy aan julle gee. 24Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Hou aan bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volledig kan wees.
25“Dit het Ek met behulp van beeldspraak aan julle verduidelik. Daar kom ’n tyd wanneer Ek nie meer met behulp van beeldspraak met julle sal praat nie, maar openlik die Vader aan julle sal verkondig. 26Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Ek sê nie dat Ek die Vader sal raadpleeg oor julle nie, 27want die Vader self het julle lief omdat julle My lankal reeds liefgehad het, en vas glo dat Ek van God af gekom het. 28Ek het van die Vader af gekom en bevind My nou in hierdie wêreld. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader toe.”
29Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik, en U doen dit sonder enige beeldspraak. 30Ons besef ook nou dat U alles weet en niemand hoef U verder uit te vra nie. Daardeur is ons oortuig dat U van God af gekom het.”
31Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? 32Kyk, daar kom ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaargedryf sal word, elkeen op sy eie, terwyl julle My alleen agterlaat. Tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. 33Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Currently Selected:

JOHANNES 16: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy