YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 1

1
Die Woord ... self God!
1Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God,
en die Woord was self God.
2Hy was reeds in die begin
by God.
3Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het nie een ding
wat bestaan,
ontstaan nie.
4In Hom was daar lewe,
en dié lewe het gedien as die lig
vir die mense.
5Die lig skyn in die duisternis,
ja – die duisternis het dit nie
uitgedoof nie!
6Daar was ’n man, gestuur deur God, met die naam Johannes. 7Hy het gekom met die doel om ’n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo. 8Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig.
9Hy wat die betroubare lig is, wat elke mens verlig, was op pad na die mensewêreld. 10Maar toe Hy wel in die wêreld was – dié wêreld wat deur Hom ontstaan het – het die mensdom Hom tog nie erken nie.
11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. 12Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore.
14En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid#1:14 Of genade. en waarheid.
15Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hy is die Een wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Hy wat ná my kom, het reeds voor my bestaan omdat Hy groter is as ek.’”
16Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade#1:16, 17 Of onverdiende goedheid. ontvang. 17Die wet is deur middel van Moses gegee; die genade#1:16, 17 Of onverdiende goedheid. en waarheid het deur Jesus Christus gekom.
18Niemand het God nog ooit gesien nie. Sy enigste Seun wat self ook God en baie na aan die Vader is, het Hom aan ons kom bekendmaak.
Johannes die Doper: ’n stem wat roep in die woestyn
19Dit is die getuienis van Johannes toe die Joodse leiers uit Jerusalem priesters en Leviete na hom gestuur het om hom uit te vra: “Wie is jy nou eintlik?”
20Toe het Johannes getuig en dit nie ontken nie, maar voluit bely: “Ék is nie die Messias nie.”
21En hulle antwoord hom toe: “Nou wie is jy dan? Is jy Elia?”
“Nee, ek is nie,” sê Johannes.
“Is jy dan die profeet?”
“Beslis nie!” het hy geantwoord.
22Hulle het toe vir hom gesê: “Wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord kan gee aan hulle wat ons gestuur het. Wat het jy dan oor jouself te sê?”
23Sy reaksie was:
“Ek is ’n stem
wat roep
in die woestyn:
‘Maak die pad van die Here
reguit.’”#1:23 Jes 40:3.
Só het die profeet Jesaja mos reeds gesê.
24Dié wat gestuur is, het uit die geledere van die Fariseërs gekom.
25Hulle het toe verder by hom navraag gedoen: “Waarom doop jy dan as jy nie die Messias of Elia of die profeet is nie?”
26Johannes se reaksie was: “Ek doop met water, maar hier tussen julle staan daar Iemand wat julle nie nou ken nie. 27Dit is Hy wat ná my kom. Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.” 28Hierdie gebeure het afgespeel in Betanië, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.
Die Lam van God uitgewys
29Die volgende dag sien Johannes dat Jesus na hom toe aangestap kom. Hy sê toe: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. 30Dit is Hý van wie ek gesê het: ‘Ná my kom Iemand wat voor my reeds bestaan het. Hy is baie belangriker as ek.’ 31Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.”
32Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit. 33Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ 34Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God#1:34 Sommige manuskripte God se uitverkore Een. is.”
Twee dissipels van Johannes die Doper word Jesus se eerste dissipels
35Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, saam met twee van sy dissipels. 36Toe Jesus by hulle verbyloop, het Johannes betekenisvol na Hom gekyk en gesê: “Kyk, dáár is die Lam van God!” 37Sy twee dissipels het Johannes dit hoor sê en Jesus dadelik begin volg. 38Jesus het omgedraai en gesien hulle volg Hom. Hy sê toe vir hulle: “Wat soek julle?”
Hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – as dit vertaal word, beteken dit “leermeester” – “waar gaan U tuis?”
39Hy antwoord hulle: “Kom kyk self en julle sal sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis was. Dit was omtrent vieruur die middag. Hulle het toe die res van daardie dag by Hom gebly.
40Andreas, Simon Petrus se broer, was een van die twee dissipels wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. 41Hy kry toe eers sy eie broer Simon, en sê vir hom: “Ons het die Messias (wat as dit vertaal word ‘Gesalfde’ beteken) gekry.”
42Hy het Simon na Jesus toe geneem. Jesus het betekenisvol na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal van nou af Sefas (wat as ‘Petrus’ vertaal word) genoem word.”
43Die volgende dag wou Jesus na Galilea toe vertrek. Hy loop eers vir Filippus raak en sê vir hom: “Volg My!” 44Filippus het van Betsaida af gekom, Andreas en Petrus se tuisdorp.
45Op sy beurt loop Filippus vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het die persoon gevind oor wie Moses in die wet en die profete geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef, wat van Nasaret af kom.”
46Natanael se reaksie was: “Hoe kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
“Kom kyk self,” het Filippus hom uitgenooi.
47Toe Jesus Natanael sien aangestap kom, sê Hy oor hom: “Kyk daar – ’n opregte Israeliet, ’n man van suiwer inbors.”
48Natanael reageer toe vraend: “Van waar ken U my?”
“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom gesit het, het Ek jou al gesien.”
49Toe reageer Natanael: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”
50Jesus se antwoord aan hom was: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom sien sit het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”
51Jesus het ook vir hom gesê: “Ek verseker julle: julle gaan die hemel wyd oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na My, die Seun van die Mens, toe.”#1:51 Vgl Gen 28:10-17.

Currently Selected:

JOHANNES 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy