YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 36

36
Assirië val Juda binne
1In die veertiende jaar van koning Hiskia se regering het koning Sanherib van Assirië al die versterkte stede van Juda aangeval en dit verower. 2Toe het die koning van Assirië sy persoonlike verteenwoordiger met ’n groot leër uit Lakis gestuur om koning Hiskia in Jerusalem te konfronteer. Die Assiriërs was langs die kanaal wat water na die boonste dam lei, naby die pad waar klere gebleik is.
3Hier is ’n lys van amptenare wat uitgegaan het om die verteenwoordiger te ontmoet: Eljakim seun van Gilkija was administrateur van die paleis, Sebna was die sekretaris van die hof en Joag seun van Asaf was die koning se historikus. 4Die Assiriese koning se verteenwoordiger het hierdie boodskap vir koning Hiskia gestuur:
“So sê die groot koning, Assirië se koning: Waarop vertrou julle dat julle so vol selfvertroue is? 5Dink jy blote woorde kan militêre vaardigheid en mag vervang? Wie is jou bondgenote wat jou kan help, dat jy nou in opstand teen my gekom het? 6Sal Egipte jou help? As jy op Egipte leun, vind jy uit dis soos om op ’n stok te leun wat onder jou gewig breek en jou hand deurboor. Die farao van Egipte is geheel en al onbetroubaar.
7“Miskien sê jy: ‘Ons vertrou op die Here ons God!’ Maar is Hy nie die Een wat deur koning Hiskia beledig is nie? Het Hiskia dan nie sy heiligdomme en altare omgegooi en almal in Juda verplig om net by die altaar hier in Jerusalem te aanbid nie?
8“Ek sê jou wat: My meester, die koning van Assirië, gaan met jou ’n weddenskap aan. As jy 2 000 ruiters in jou hele weermag kan kry, gee hy jou 2 000 perde om op te ry! 9Hoe dink jy kan jy met jou klein weermag selfs die swakste afdeling van my meester se leër uitdaag? En tog vertrou jy op Egipte se hulp vir strydwaens en perde! 10Wat meer is, dink jy ek het jou land binnegeval en beset sonder dat die Here my beveel het? Die Here self het vir my gesê: ‘Gaan en vernietig daardie land.’”
11Daarop het Eljakim, Sebna en Joag vir die koning se verteenwoordiger gevra: “Praat asseblief tog met ons in Aramees. Ons verstaan dit goed. Moet asseblief nie in Hebreeus met ons praat nie, want die mense op die muur sal dit kan verstaan.”
12Maar Sanherib se verteenwoordiger het geantwoord: “My meester wil hê elkeen in Jerusalem moet dit hoor, nie net julle nie. Hy wil hê hulle moet weet dat as julle nie oorgee nie, ons hierdie stad sal beleër. Die mense sal so honger en dors word dat hulle hulle eie ontlasting sal eet en hulle eie urine sal moet drink!”
13Toe het hy regop gaan staan en in Hebreeus geskreeu sodat die manne op die muur dit duidelik kon hoor: “Luister na hierdie boodskap van die groot koning, Assirië se koning! 14So sê die koning: Moenie dat koning Hiskia julle om die bos lei nie! Hy sal nooit in staat wees om julle te red nie. 15Moenie dat Hiskia julle mislei om op die Here te vertrou nie. Hiskia sê: ‘Die Here sal ons red! Hierdie stad sal nooit in die hande van die koning van Assirië beland nie.’
16“Moenie na Hiskia luister nie! Hier is die voorwaardes wat die koning van Assirië bied: Maak vrede met my. Maak die hekke oop en kom uit. Dan sal ek toelaat dat elkeen van julle van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink, 17totdat ek kom om julle na ’n ander land te neem nes julle land. Dit is ’n land met ryk oeste van graan en wyn, volop brood en wingerde, ’n land van oorvloed.
18“Moenie dat Hiskia julle om die bos lei deur vir julle te sê: ‘Die Here sal ons red!’ nie. Het die gode van enige ander nasie al ooit hulle mense kon red van die koning van Assirië? 19Wat het gebeur met die gode van Hamat en Arpad? En wat van die gode van Sefarwajim? Het hulle Samaria bevry uit my hand? 20Watter god van enige nasie was al ooit in staat om sy volk te red uit die mag van die koning van Assirië? Noem net een! Wat laat julle dan dink dat die Here Jerusalem sal kan red!”
21Maar die manne het stilgebly en niks geantwoord nie. Want die koning het die opdrag gegee: “Moet hulle nie antwoord nie.”
22Daarna het Eljakim seun van Gilkija, die administrateur van die paleis, Sebna, die hof se sekretaris, en Joag seun van Asaf, die koninklike historikus, teruggegaan na Hiskia. Hulle het uit wanhoop hulle klere geskeur. Hulle het ingegaan om die koning te sien en hom vertel wat die Assiriese verteenwoordiger alles te sê gehad het.

Currently Selected:

JESAJA 36: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy