YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 13

13
’n Boodskap oor Babilon
1Jesaja seun van Amos het hierdie boodskap oor die vernietiging van Babel gekry:
2“Kyk hoe die vlae waai
terwyl die vyand aanval.
Moedig hulle aan, Israel!
Waai vir hulle
terwyl hulle optrek
teen Babilon
om die paleise te verwoes
van die hoës en magtiges.
3“Ek, die Here, het hierdie taak
vir my heilige leër opgelê.
Hulle sal bly wees
wanneer Ek verhoog word.
Ek het hulle geroep
om my woede af te koel.”
4Hoor die geraas op die berge!
Luister hoe die weermagte opruk!
Dit is die geraas en geroep
van baie nasies.
Die Here, die Almagtige,
het hulle hiernatoe gebring
om ’n leër te vorm.
5Hulle kom van veraf lande.
Hulle is die Here se wapens.
Hulle sal die hele land vernietig.
6Skreeu van angs,
want die Here se tyd het gekom,
die tyd dat die Almagtige
verwoes.
7Elke arm hang
verlam van vrees.
Selfs die sterkstes se harte
smelt inmekaar 8van vrees.
Vrees gryp hulle
met verskriklike pyne,
soos van ’n vrou
wat geboorte skenk.
Hulle kyk hulpeloos vir mekaar
terwyl die vlamme
van die brandende stad
op hulle gesigte weerkaats word.
9Kyk,
die Dag van die Here kom,
die verskriklike dag
van sy gramskap
en sy gloeiende toorn.
Die land sal verwoes word
en ook alle sondaars.
10Die lug sal donker word
bokant hulle.
Die sterre, son en maan
sal geen lig gee nie.
11“Ek, die Here,
sal die wêreld straf
oor sy boosheid
en bose mense vir hulle sonde.
Ek verpletter die arrogansie
van trotse mense
en die verwaandheid
van die magtiges.
12Min mense sal oorleef
teen die tyd
dat Ek my werk voltooi.
Mense sal so skaars wees
soos goud,
skaarser as goud uit Ofir.
13Want Ek sal die hemel skud
en die aarde
sal uit sy plek verskuif
wanneer die woede
van die Here,
die Almagtige, kom,
in die tyd van my
brandende toorn.”
14Almal sal hardloop
tot hulle uitgeput is,
op pad na hulle eie lande toe,
soos bokke wat gejag word,
soos skape sonder ’n herder.
15Enigeen wat gevang word,
sal met die swaard
doodgesteek word.
16Hulle babas sal voor hulle oë
doodgeslaan word.
Hulle huise sal geplunder,
hulle vroue verkrag word.
17“Ek wek die Mediërs op
teen Babel,
en geen bedrag silwer of goud
kan hulle omkoop nie.
18Die soldate sal die jong manne
met pyle platskiet.
Hulle sal geen genade hê
vir hulpelose babas,
en geen simpatie toon
met kinders nie.”
19Babilon, jy is die glorierykste
van die koninkryke,
die blom van Galdese kultuur.
Jy sal soos Sodom en Gomorra
verwoes wees
as God jou vernietig het.
20Die stad sal nooit weer
herrys nie.
Geslagte sal kom en gaan,
maar die land
sal nooit weer bewoon word nie.
Arabiere sal nooit weer
daar tent opslaan nie,
en skaapwagters
sal hulle kudde
nie daar laat oornag nie.
21Net woestyndiere
sal in die puinhope rondloop.
Die huise sal vol uile wees.
Volstruise
sal tussen die ruïnes bly.
En wilde bokke
sal daar ronddans.
22Hiënas sal in die vestings roep,
en jakkalse sal in die paleise
hulle lêplek maak.
Babilon se dae is getel.
Sy tyd van verwoesting is naby.

Currently Selected:

JESAJA 13: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy