YouVersion Logo
Search Icon

ESTER 2

2
Ester word koningin
1Toe koning Ahasveros se woede hierna tot bedaring kom, het hy Vasti begin mis. Hy het onthou wat sy alles gedoen het. Hy het nagedink oor wat hy oor haar besluit het.
2Die amptenare wat in sy persoonlike diens was, sê toe vir hom: “Laat ons na mooi meisies vir die koning soek. 3Hy moet agente aanstel om in al die provinsies van sy koninkryk mooi meisies te werf vir die koning se harem in die vestingstad Susan. Hegai, die hoof-haremopsigter, moet dan toesien dat hulle skoonheidsbehandeling ontvang. 4Die meisie wat vir die koning die mooiste is, moet in Vasti se plek koningin gemaak word.”
Die koning het van hierdie idee gehou. Hy het toe so gemaak.
5In die vestingstad Susan was daar ’n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was ’n seun van Jaïr, die seun van Simi, die seun van Kis. 6Sy familie was tussen die ballinge wat koning Nebukadnesar van Babel saam met koning Jojagin#2:6 Sy Hebreeuse naam was Jekonja. van Juda uit Jerusalem weggevoer het. 7Mordegai het sy niggie Hadassa grootgemaak. Haar ander naam was Ester. Sy was ’n weeskind. Nadat haar pa en ma dood is, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Sy was buitengewoon mooi.
8Nadat die koning se besluit bekendgemaak is, is Ester ook saam met baie ander meisies onder Hegai se sorg in die stad Susan in die koning se paleis geplaas.
Die koning kies Ester
9Hegai was baie in sy skik met Ester en hy het haar baie goed behandel. Hy het gesorg dat sy goeie skoonheidsbehandeling kry en die regte dieet volg. Hy het sewe van die beste kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en hulle na die beste deel van die koning se harem verskuif. 10Ester het vir niemand gesê van watter volk sy kom, of wie haar familie is nie. Mordegai het haar verbied om dit te doen.
11Mordegai het elke dag in die voorhof van die harem gaan rondstaan om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur.
12Voordat dit ’n meisie se beurt was om na die koning te kom, moes sy volgens voorskrif eers twaalf maande lank skoonheidsbehandeling kry. Sy is ses maande lank met mirre-olie behandel en ses maande lank met lekkerruikkruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna kon sy voor koning Ahasveros gaan verskyn. 13Elke meisie kon, wanneer dit haar beurt was om voor die koning in sy paleis te verskyn, uit die harem kies wat sy wou aantrek. 14Elke meisie is in die aand na die koning se paleis toe geneem en die volgende oggend teruggeneem na ’n ander deel van die koning se harem. Dit was onder die sorg van Saäsgas, die haremopsigter oor die byvroue. Sy kon nooit weer na die koning toe teruggaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en spesifiek vir haar gevra het.
15Toe kom Ester se beurt, die dogter van Abigajil, die oom van Mordegai wat haar as sy eie dogter aangeneem het. Sy het vir niks meer gevra as wat Hegai, die hoof van die koning se harem, vir haar aanbeveel het nie. Almal wat haar gesien het, was opgewonde oor haar. 16Ester is na koning Ahasveros se koninklike paleis gevat in die tiende maand, die maand Tebet#2:16 Of vroegwinter., in die sewende regeringsjaar van die koning.
17Die koning het Ester meer liefgehad as enige van die ander jong meisies. Sy was meer na sy sin as enigeen van die ander. Hy het toe die koningin se kroon op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti. 18Ter ere van Ester het die koning ’n groot onthaal gereël vir al sy hoë amptenare en almal wat in sy diens was. Hy het daarvan ’n vakansiedag in al die provinsies gemaak. Hy het rojaal geskenke vir almal uitgedeel.
Mordegai voorkom ’n moord
19In die tyd toe die jong meisies na die tweede harem oorgeplaas is, is Mordegai as amptenaar van die koning aangestel. 20Ester het nog steeds stilgebly oor haar familie en haar volk. Sy het nog steeds gedoen wat Mordegai vir haar sê, soos toe sy nog ’n kind by hom in die huis was.
21In die tyd dat Mordegai aan diens was in die poort van die paleis, het die twee haremamptenare Bigtana en Teres, wat diens as deurwagte gedoen het, kwaad geword vir die koning. Hulle het saamgesweer om koning Ahasveros te vermoor. 22Mordegai het daarvan gehoor en vir koningin Ester daarvan laat weet. Ester het dit toe namens Mordegai aan die koning gaan oorvertel. 23Toe die gerug ondersoek word, is gevind dat dit waar is. Die twee mans is toe opgehang. Die gebeurtenis is voor die koning in die geskiedenisboek van sy regering opgeteken.

Currently Selected:

ESTER 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy