YouVersion Logo
Search Icon

HANDELINGE 25

25
Paulus verskyn voor Festus
1Drie dae na sy aankoms in die provinsie het Festus van Sesarea af opgegaan Jerusalem toe. 2Die priesterhoofde en die leiers van die Jode het toe ’n verslag teen Paulus by hom ingedien. Hulle het ’n beroep op hom gedoen 3en van hom die guns gevra om Paulus Jerusalem toe te laat kom. (Hulle het ’n hinderlaag beplan om hom op pad permanent uit die weg te ruim.)
4Festus het egter geantwoord dat Paulus in Sesarea aangehou word, en dat hy self van plan was om binnekort daarheen terug te vertrek. 5“Dié onder julle,” het hy gesê, “wat die bevoegdheid daartoe het, kan dan saam met my gaan. As die man iets onwettigs begaan het, kan julle hom aankla.”
6Hy het ongeveer agt dae, hoogstens tien, in Jerusalem deurgebring en toe afgegaan Sesarea toe. Die volgende dag het hy gereël dat die hof sit en Paulus laat haal. 7Toe Paulus in die hof verskyn, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van ’n hele klomp ernstige dinge beskuldig. Hulle kon egter niks bewys nie. 8Paulus het hom toe verdedig: “Ek het niks teen die Joodse wet of die tempel of die keiser oortree nie.”
9Maar Festus wou iets vir die Jode doen en sê toe vir Paulus: “Wil jy opgaan Jerusalem toe en dáár voor my oor hierdie dinge verhoor word?”
10Paulus antwoord hom: “Nee! Voor die keiserlike regbank staan ek tereg. Dít is waar ek verhoor moet word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed. 11As ek skuldig is en dinge gedoen het wat die dood verdien, probeer ek die dood nie ontduik nie. Aangesien alles waarvan hulle my beskuldig egter blote versinsels is, kan niemand my sommer maar net aan hulle uitlewer nie. Ek appelleer na die keiser!”
12Festus het die saak met sy raad bespreek en toe geantwoord: “Jy het na die keiser geappelleer; na die keiser toe sal jy gaan!”
13’n Paar dae later het koning Agrippa en Bernice in Sesarea aangekom om Festus te verwelkom. 14Hulle het ’n hele paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak met die koning bespreek: “Hier is ’n gevangene wie se verhoor Feliks ná sy vertrek aan my oorgelaat het. 15By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde#25:15 Of oudstes. van die Jode my oor hom ingelig en van my ’n skuldigbevinding teen hom gevra. 16Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om iemand sommer net as guns uit te lewer nie. Die beskuldigde moet eers geleentheid kry om homself persoonlik in die teenwoordigheid van sy aanklaers te verdedig.
17“Toe hulle vir die verhoor hierheen gekom het, het ek dus geen tyd gemors nie en die volgende dag die hofsitting gereël en die man laat haal. 18Sy aanklaers het om hom gestaan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ék verwag het nie. 19Hulle het dit gehad oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor ’n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe. 20Ék het geen idee gehad hoe om hierdie tipe saak te ondersoek nie, en het hom daarom gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word. 21Maar Paulus het geappelleer om onder arres te bly met die oog op ’n beslissing deur Sy Edele die Keiser. Ek het toe beveel dat hy onder arres bly totdat ek hom keiser toe kan stuur.”
22“Ek sou self ook graag die man wou hoor,” sê Agrippa toe vir Festus.
Festus het geantwoord: “Môre sal jy hom hoor!”
Paulus stel sy saak voor Agrippa
23Die volgende dag het Agrippa gekom, en Bernice ook, met groot vertoon. Hulle het die saal binnegekom in geselskap van die generaals en die vooraanstaande inwoners van die stad. Op Festus se bevel is Paulus ingebring. 24Toe sê Festus: “Koning Agrippa en al die mans hier saam met ons teenwoordig, julle sien hierdie man teen wie die hele Joodse gemeenskap in Jerusalem en hier plaaslik ’n aanklag by my aanhangig gemaak het. Hulle het geskreeu dat hy nie langer behoort te lewe nie. 25My eie bevinding is egter dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie. Aangesien hy hom op Sy Edele die Keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.
26“Maar ek het nie iets spesifieks oor hom wat ek vir ons staatshoof kan skryf nie. Daarom het ek hom voor u gebring, en veral voor u, koning Agrippa, sodat ek ná die ondersoek iets kan hê om te skryf. 27Na my oordeel is dit heeltemal sinloos om ’n gevangene te stuur sonder om die aanklag teen hom duidelik aan te dui!”

Currently Selected:

HANDELINGE 25: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy