YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 1

1
Dawid hoor van Saul se dood
1In die tyd na Saul se dood het Dawid teruggekom van sy oorwinning oor die Amalekiete en het reeds twee dae lank in Siklag gebly, 2toe daar op die derde dag ’n man van Saul se kamp af aankom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop as teken van rou. Toe hy by Dawid kom, val hy in eerbied voor hom op die grond.
3“Waar kom jy vandaan?” vra Dawid hom.
“Ek het uit die kamp van Israel gevlug,” antwoord hy.
4“Wat het gebeur?” vra Dawid. “Vertel my hoe sake verloop het.”
Die man antwoord hom: “Die leër het op die vlug geslaan en talle van hulle het gesneuwel. Saul en sy seun Jonatan is ook dood.”
5“Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is?” vra Dawid vir die jong man.
6Hy antwoord: “Ek was toevallig op Gilboaberg toe ek sien Saul leun op sy spies terwyl die strydwaens van die vyand naderkom.
7“Saul het omgekyk en my gesien. Hy roep my toe om hom te kom help. ‘Wat kan ek doen?’ vra ek. 8Hy vra my: ‘Wie is jy?’ Ek het hom geantwoord: ‘Ek is ’n Amalekiet.’ 9Toe beveel hy my: ‘Kom nader en verlos my uit my ellende, want ek lewe nog, maar is ernstig beseer.’
10“Ek het hom toe uit sy lyding verlos en hom doodgemaak,” sê die Amalekiet vir Dawid, “want ek kon sien hy was dodelik gewond na sy val en dat hy nie meer lank sou kon lewe nie.
“Ek het sy kroon en een van sy armbande gevat om dit na u, my heer, te bring.”
11Toe Dawid dit hoor, het hy en sy manskappe hulle klere geskeur.
12Hulle het gerou en getreur en tot die aand toe gevas oor die dood van Saul en Jonatan en oor die volk van die Here en die krygsmanne van Israel omdat hulle gesneuwel het.
13Dawid vra toe vir die jong man wat die nuus gebring het: “Van waar is jy nou weer?”
Hy antwoord: “Ek is ’n vreemdeling, ’n Amalekiet.”
14“Was jy dan nie bang om die gesalfde van die Here dood te maak nie?” vra Dawid vir hom.
15Toe beveel Dawid een van sy manskappe: “Maak hom dood!” Die man het die Amalekiet aangeval sodat hy gesterf het.
16“Jy het jou eie doodsvonnis uitgespreek,” sê Dawid, “want jy het self erken: ‘Ek het die gesalfde van die Here doodgemaak.’”
Dawid se Booglied oor Saul en Jonatan
17Toe het Dawid ’n klaaglied vir Saul en Jonatan geskryf. 18Later het hy beveel dat dit vir almal in Juda geleer moes word. Dit staan bekend as die Booglied, en is opgeteken in Die boek van die Opregte#1:18 Grondteks Die boek van Jasjar..
19Die sieraad van Israel
is verslaan op die heuwels!
Hoe het die dapper helde geval!
20Vertel dit nie in Gat nie,
maak dit nie bekend
in die strate van Askelon nie;
anders sal die dogters
van die Filistyne
hulle verheug,
die dogters
van die onbesnedenes
sal jubel.
21Berge van Gilboa,
mag daar geen dou of reën
op julle hange wees nie,
want die skild van die dapperes
is daar geskend,
die skild van Saul
is nie met olie ingesmeer nie.
22Sonder die bloed
van die gesneuweldes,
sonder die vet
van die dapperes,
het die boog van Jonatan
nooit uit ’n geveg
teruggekom,
of die swaard van Saul
van die slagveld af nie.
23Saul en Jonatan,
geliefd en bemind,
was in lewe of dood
nie geskei nie.
Vinniger as arende was hulle,
sterker as leeus.
24Dogters van Israel,
treur oor Saul.
Hy het julle ryklik geklee
en goue ornamente gegee.
25Hoe het die dapper manne
in die geveg gesneuwel!
Op die hoogtes
is Jonatan verslaan!
26Ek is bedroef oor jou,
my broer Jonatan!
Jy was baie naby aan my.
Jou liefde
was vir my buitengewoon,
dit oortref die liefde van vroue!
27Hoe het die dapper manne
gesneuwel,
met hulle oorlogswapens
nog in die hand
het hulle gesterf!

Currently Selected:

2 SAMUEL 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy