YouVersion Logo
Search Icon

2 KORINTIËRS 5

5
Hierdie tydelike tentwoning word vervang deur ’n permanente blyplek by God
1Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ’n tentwoning is, afgebreek word, ons ’n permanente blyplek by God het, ’n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan. 2In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek. 3As ons tog maar net met klere aan, en nie kaal nie, voor God sal mag staan!
4Terwyl ons nog in die aardse tentwoning bly, kry ons swaar en kreun ons omdat ons nie gestroop wil word van ons aardse woning nie, maar met die hemelse woning beklee wil word.
So sal wat sterflik is, verteer word deur die eintlike lewe. 5Hy wat ons hiervoor gereedgemaak het, is God. Hy het aan ons die deposito van die Gees as waarborg gegee.
6Ons is dus altyd vol moed omdat ons weet dat alhoewel ons nog in die liggaam woon, ons eintlike woning by die Here is; 7want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie. 8Ons hou moed, maar sou liewer uit die liggaam wil verhuis om by die Here te gaan woon.
9Ons streef in elk geval daarna, of ons nou ook al hier tuis is of nie, om Hom tevrede te stel. 10Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was.
Die liefde van Christus maak gelowiges sy ambassadeurs
11Omdat ons soveel ontsag vir die Here het, probeer ons mense oorreed. Ons opregte bedoelings is aan God bekend en ek vertrou dat julle in julle gewetens ook daarvan oortuig sal wees.
12Ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar gee net vir julle aanleiding om op ons trots te wees sodat julle iets mag hê teenoor hulle wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie. 13As dit lyk asof ons buite ons sinne was, was dit ter wille van God; en as ons by ons volle verstand is, is dit ter wille van julle. 14Die liefde van Christus dring ons. Omdat ons geoordeel het dat Een vir almal gesterf het, glo ons dat ons almal ons ou, sondige lewe afgesterf het. 15Hy hét vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie meer vir hulself moet leef nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.
16Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ’n menslike maatstaf nie. Al het ons Christus ook vroeër volgens ’n menslike maatstaf beoordeel, oordeel ons nou heeltemal anders oor Hom. 17Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!
18Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Hierdie boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig.
20Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ’n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God!
21God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons hegte verhouding met Christus, deur God vrygespreek kan word.

Currently Selected:

2 KORINTIËRS 5: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy