YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 16

16
Paulus tref reëlings vir die Jerusalemkollekte
1Wat die geld betref wat ons vir die gelowiges in Jerusalem insamel, moet julle dieselfde reëling volg wat ek met die gemeentes in Galasië getref het. 2Op elke Dag van die Here#16:2 Grondteks elke eerste dag van die week. moet elkeen van julle na vermoë tuis iets opsy sit en dit spaar sodat daar nie eers insamelings plaasvind wanneer ek kom nie. 3Wanneer ek kom, sal ek die persone waarop julle besluit, met aanbevelingsbriewe stuur om julle gawe in Jerusalem af te lewer. 4As dit wenslik sou blyk dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.
5Ek sal na julle toe kom nadat ek deur Masedonië gereis het. Ek reis deur Masedonië 6en sal miskien by julle vertoef of dalk selfs oorwinter. Dan kan julle my help na my volgende bestemming, waar dit ook mag wees.
7Ek wil julle nie nou bloot in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om ’n rukkie by julle deur te bring as die Here my sal toelaat.
8Intussen bly ek in Efese tot Pinkster, 9want hier staan nou ’n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat op die evangelie reageer. Daar is egter ook baie teenstanders.
10As Timoteus by julle aankom, help hom om met volle vrymoedigheid by julle op te tree. Hy doen die Here se werk, net soos ek.
11Kyk dat niemand hom intimideer nie. En help hom om sy reis voorspoedig voort te sit op pad na my toe. Ek verwag hom saam met die ander broers.
12Wat ons broer Apollos betref – ek het sterk by hom aangedring om saam met die ander broers na julle toe te kom, maar hy het glad nie kans gesien om nou te kom nie. Hy sal kom wanneer die tyd daarvoor reg is.
13Wees waaksaam! Staan vas in wat julle glo! Wees moedig! Wees sterk! 14Alles wat julle doen, moet in liefde geskied.
15Julle weet dat Stefanas en sy huisgesin die eerste bekeerlinge#16:15a Grondteks eerste vrug van die oes. in Suid-Griekeland#16:15b Grondteks Agaje, die gebied om Korinte in die skiereiland wat die suidelike deel van Griekeland uitmaak. was en dat hulle hulle lewe wy aan die diens van ander Christene. Ek vra julle ernstig 16dat julle hulle sal respekteer en ander soos hulle wat met groot toewyding vir die Here werk.
17Ek is so bly dat Stefanas, Fortunatus en Agaïkus hier aangekom het. Hulle het vergoed vir julle afwesigheid. 18Hulle het my gees weer opgebeur, soos ook julle s’n. Respekteer mense soos hulle.
Paulus dra groete oor
19Die gemeentes hier in die provinsie Asië#16:19 Asië was ’n Romeinse provinsie, tans die westelike deel van Turkye. groet julle hartlik in die Here, saam met Akwila en Priscilla en al die ander gemeentelede wat in hulle huis bymekaarkom.
20Al die broers en susters#16:20 Grondteks broers. hier het my gevra om julle namens hulle te groet. Groet mekaar met die soen van Christelike liefde.
21 Hier is my eie groet. Ek is Paulus, en ek skryf dit met my eie hand.
22As iemand die Here nie liefhet nie – laat hom vervloek wees#16:22a Grondteks anathema.. Kom, ons Here#16:22b Grondteks marana ta.!
23Mag die genade#16:23 Of onverdiende goedheid. van ons Here Jesus met julle wees.
24Mag my liefde met julle almal in Christus Jesus bly.

Currently Selected:

1 KORINTIËRS 16: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy