YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 14

14
Profesie is nuttiger vir gemeente-opbou as praat in tale
1Lê julle toe op die liefde. Bly egter ook entoesiasties oor die gawes van die Gees, veral oor die gawe om te profeteer#14:1, 3, 4, 5 Of om God se wil aan ander oor te dra.. 2As jy in tale praat, rig jy jou nie tot mense nie, maar tot God, want mense sal jou nie verstaan nie. Deur die werking van die Gees praat jy immers diep en onbegryplike dinge. 3Maar as jy profeteer#14:1, 3, 4, 5 Of om God se wil aan ander oor te dra., bou jou woorde mense op en bemoedig en vertroos hulle. 4Iemand wat in tale praat, word self geestelik opgebou, maar die persoon wat profeteer#14:1, 3, 4, 5 Of om God se wil aan ander oor te dra., bou die gemeente op.
5Ek sou bly wees as julle almal in tale praat, maar nog blyer as julle sou profeteer#14:1, 3, 4, 5 Of om God se wil aan ander oor te dra.. Want om te profeteer, is ’n belangriker en nuttiger gawe as die spreek in tale, tensy iemand sou verduidelik wat jy sê sodat die gemeente daardeur opgebou kan word.
6Broers en susters#14:6, 20 Grondteks Broers., sê nou maar ek sou na julle toe kom en ek praat net in tale, hoe sou dit vir julle iets kon beteken? Maar as ek vir julle ’n Goddelike openbaring of ’n spesiale insig of ’n profesie sou bring, of julle sou iets besonders van my leer, dan sou dit tog sekerlik baie vir julle beteken. 7Selfs lewelose musiekinstrumente soos die fluit en die harp wys vir ons hoe noodsaaklik dit is om in verstaanbare taal te praat. Want as die note nie duidelik onderskeibaar is nie, hoe sal ons hulle melodie herken? 8En as die trompet nie ’n helder klank laat hoor nie, watter soldaat sal vir die geveg gereedmaak? 9Dieselfde geld vir julle. As julle in ’n taal praat waarvan ’n mens nie die woorde kan onderskei nie, hoe sal iemand verstaan wat julle sê? Julle sal soos mense wees wat in die wind praat.
10Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld en hulle maak almal van klanke gebruik. 11Maar as ek nie sin kan maak van die klanke nie, sal ek vir die spreker onverstaanbaar wees en die spreker sal vir my ’n brabbelaar wees. 12So moet julle ook, as julle julle toelê op die gawes van die Gees, daarop konsentreer om uit te munt in dié gawes wat die gemeente opbou.
13Daarom moet elkeen wat in tale praat, ook bid vir die gawe van verduideliking. 14Want wanneer ek in ’n taal bid, is dit my gees wat bid, maar my verstand bly onaktief.
15Wat sê dit? Ek sal albei doen. Ek sal nie net bid met my gees#14:15, 16 Of in die Gees. nie, maar ek sal ook bid in verstaanbare woorde. Ek sal nie net lofsing met my gees nie, maar ook in verstaanbare woorde. 16Want as jy God net met jou gees#14:15, 16 Of in die Gees. prys, hoe sal hulle wat onkundig is oor wat jy sê, jou lofprysing met hulle “Amen” bevestig? Hulle verstaan tog nie wat jy sê nie. 17Jy het wel voortreflik gebid, maar jou medegelowiges word nie in hulle geloof opgebou nie.
18Ek dank God dat ek meer in tale praat as julle almal. 19Maar in ’n byeenkoms van die gemeente sal ek liewer vyf verstaanbare woorde praat waaruit ander iets kan leer as tienduisend in ’n onbekende taal.
20Broers en susters#14:6, 20 Grondteks Broers., julle moenie soos naïewe kindertjies wees in julle denke oor hierdie dinge nie. Wees liewer babatjies wat die kwaad aanbetref, maar volwassenes in julle denke. 21Daar staan in die Skrif#14:21a Jes 28:11-12. dat die Here sê:
“Ek sal deur andertaliges
en deur die mond
van onbekende mense
met my eie volk praat.
Maar selfs dan sal hulle
nie na My luister nie.”#14:21b Grondteks in die wet.
22Dit beteken dus dat die praat in tale ’n teken is, nie vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges en dat profesie daarenteen nie vir ongelowiges is nie, maar vir gelowiges! 23Derhalwe, as die hele gemeente bymekaarkom en almal praat in tale en daar kom onkundiges of ongelowiges in, sal hulle nie sê julle is die kluts skoon kwyt nie? 24Maar as almal profeteer#14:24, 30 Of om God se wil aan ander oor te dra. en daar kom ongelowiges of onkundiges in en hulle word deur almal oortuig van sonde, en hulle lewens word deur almal ondersoek, 25en hulle hartsgeheime word blootgelê, dan sal hulle net daar op hulle knieë val en God aanbid en verklaar: “Werklikwaar, God is hier by julle!”#14:25 Jes 45:14; vgl Sag 8:23.
26Wel, broers en susters#14:26, 39 Grondteks broers., kom ons vat saam. As julle bymekaarkom, kom die een met ’n loflied, die ander een wil oor ’n saak onderrig gee, nog ’n ander een wil vertel van ’n openbaring wat hy of sy ontvang het, nog een wil in tale praat en ’n ander een wil dit uitlê. Goed so, maar laat alles so gedoen word dat dit tot opbou van die gemeente dien. 27As daar persone is wat in tale wil praat, gee aan twee of hoogstens drie die geleentheid om dit te doen en laat iemand dit uitlê. 28Maar as daar niemand teenwoordig is wat die praat in tale kan uitlê nie, laat hulle in die gemeentebyeenkoms stilbly en hulle tuis op hulle eie tot God rig.
29Wat die profete betref, laat twee of drie aan die woord kom en die ander dan beoordeel wat gesê is. 30Maar as iemand besig is om te profeteer#14:24, 30 Of om God se wil aan ander oor te dra. en iemand anders wat daar sit, ontvang ’n openbaring, moet eersgenoemde ophou praat. 31So kan julle almal, een na die ander, ’n beurt kry om te profeteer en almal leer uit wat gesê word, en almal aangespoor word. 32Onthou, mense wat profeteer, is in beheer van hulle gees en kan hulle beurt afwag. 33God is nie ’n God van wanordelikheid nie, maar van onderlinge harmonie#14:33a Grondteks vrede. soos dit die geval is in al die gemeentes#14:33b Die frase soos dit die geval is in al die gemeentes kan ook aan die begin van 14:34 geplaas word..
34Die vroue moet in julle gemeentebyeenkomste stilbly. Dit pas hulle nie om daar te praat nie. Hulle moet onderdanig wees soos die wet ook sê. 35As een van hulle ’n vraag wil stel, moet hulle hulle mans tuis daarna vra, want dit pas nie ’n vrou om in die gemeentebyeenkomste te praat nie.#14:35 Sommige manuskripte het 14:34-35 ná 14:40.
36Dink julle regtig dat die ware insig aangaande God se woord sy oorsprong by julle het of dat dit net by julle uitgekom het? Dan maak julle ’n groot fout. 37As jy daarop aanspraak maak dat jy ’n profeet is of dat jy ’n geestelike mens is, behoort jy te erken dat wat ek skryf, ’n opdrag van die Here is. 38Maar as jy dit ontken, sal die Here jou ook nie erken nie.#14:38 Sommige goeie manuskripte het in plaas van die voorafgaande sin maar as jy onkundig is, bly dan maar in jou onkunde.
39Dus, my broers en susters#14:26, 39 Grondteks broers., wees entoesiasties om te profeteer en moenie die spreek in tale teëgaan nie. 40Maar laat alles in goeie styl en ordelik plaasvind.

Currently Selected:

1 KORINTIËRS 14: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy