YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 12

12
Oor die regte gebruik van die gawes van die Gees
1En nou, broers en susters#12:1 Grondteks broers., kom ek by julle volgende navraag, naamlik oor die gawes van die Gees. Ek wil hê julle moet hieroor goed ingelig wees sodat julle julle gawes reg sal gebruik. 2Julle weet hoe julle destyds toe julle nog ongelowiges was, onder die aantrekkingskrag van die verskillende afgode herwaarts en derwaarts rondgesleep is – en dit nogal deur beelde wat nie ’n woord kan praat nie! 3Daarom wil ek nou hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus,” definitief nie onder die invloed van die Gees van God praat nie.
Aan die ander kant is dit net die Heilige Gees wat dit vir iemand moontlik maak om te verklaar: “Jesus is die Here.”
4Daar is ’n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees. 5En daar is ’n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here. 6Daar is talle aktiwiteite in die gemeente, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge kragtig in ons almal aktiveer.
7Elkeen van ons ontvang ’n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel.
8Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om goddelike wysheid te verkondig, aan ’n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis. 9Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees ’n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing, 10aan ’n volgende een die vermoë om wonders te verrig, aan ’n ander die gawe van profesie#12:10 Of om God se wil bekend te maak., aan nog een die vermoë om te onderskei tussen geeste, aan iemand anders die gawe van praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê. 11Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.
Die kerk is een liggaam wat uit baie ledemate bestaan, elkeen met sy eie taak
12Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam. 13Party van ons is Jode, ander Grieke, ander weer slawe en nog ander vry mense. Maar ons is almal gedoop sodat ons nou die een liggaam van Christus is. En ons is almal van die een Gees deurdrenk.
14Ja, die liggaam bestaan nie net uit een ledemaat nie, maar uit baie. 15As die voet sou sê: “Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog nie minder deel van die liggaam nie. 16En as die oor sou sê: “Omdat ek maar net ’n oor is en nie ’n oog nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog geensins minder deel van die lig-gaam nie. 17Veronderstel ’n mens se hele liggaam sou uit ’n oog bestaan – hoe sal jy dan hoor? Of as jou hele liggaam net een groot oor sou wees – hoe sou jy enigiets kon ruik?
18Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende ledemate sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind. 19As alles net een ledemaat was, dan sou daar mos geen liggaam kon wees nie! 20Ja, daar is baie lede, maar net een liggaam. 21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek kan sonder jou klaarkom” nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: “Ek kan sonder julle klaarkom” nie.
22Om die waarheid te sê, juis daardie liggaamsdele wat vir ons onbelangrik lyk, is des te meer noodsaaklik. 23En die dele van ons liggaam wat ons as minder eervol beskou, beklee ons met groter sorg. Op hierdie manier beskerm ons daardie dele waarvoor ons skaam is, vir die oë van ander, 24terwyl ons ander lede dit nie nodig het nie. God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry. 25Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar. 26As een ledemaat swaarkry, kry al die ledemate saam swaar, en as een ledemaat vereer word, juig al die lede saam.
27Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ’n noodsaaklike liggaamsdeel. 28Hier volg nou ’n lys van sommige van die “liggaamsdele” wat God aan sy gemeente gegee het: eerstens die apostels, tweedens die profete, derdens dié wat onderrig gee, dan dié wat wonders doen, dié met gawes van genesing, dié wat ander ondersteun, dié wat leiding gee, dié wat in tale praat.
29Ons is mos nie almal apostels nie. Ons is nie almal profete nie. Ons het nie almal die gawe om onderrig te gee nie. Ons het nie almal die vermoë om wonders te verrig nie. 30Ons het nie almal gawes van genesing nie. Ons kan nie almal in tale praat nie. Ons kan nie almal tale uitlê nie. 31In alle geval – konsentreer op die nuttigste gawes. Maar laat ek julle nou eers vertel waar die eintlike geheim lê.

Currently Selected:

1 KORINTIËRS 12: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy