YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 59

59
God is my veilige vesting
1Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat hulle, in opdrag van Saul, Dawid se huis omsingel het om hom dood te maak.
2Red my van my vyande, my God,
beskerm my teen my teëstanders,
3red my van die mense wat onreg doen,
bevry my van hierdie moordenaars!
4Die geweldenaars lê my voor om my dood te maak,
hulle wil my aanval.
Maar ek het nie gesondig nie,
ek het nie oortree nie, Here!
5Ek is onskuldig en tog bestorm hulle my en val hulle my aan.
Kom help my tog! Kyk wat doen hulle!
6U is die Here God, die Almagtige, die God van Israel!
Gryp tog in en straf al hierdie vyandige nasies!
Moenie genade betoon aan sulke lae verraaiers nie. Sela
7Hulle kom altyd in die aand terug,
hulle grom soos honde en loop in die stad rond.
8Die skuim staan om hulle bekke,
en hulle wys hulle tande,
want hulle dink niemand hoor hulle nie.
9Maar U, Here, U lag hulle uit,
U spot met al die nasies!
10Ek wil my hoop op U gevestig hou, U, my Sterkte,
want U is my veilige vesting!
11My God sal my te hulp kom in sy trou,
God sal my laat neersien op my teëstanders.
12Moet hulle nie nou al doodmaak nie,
sodat hulle straf nie ongemerk aan my volk verbygaan nie.
Breek hulle stadig af deur u mag
en laat hulle ondergaan, Here, ons Beskermer,
13oor hulle woorde, die sonde uit hulle mond.
Laat hulle gevang word deur hulle hoogmoed,
deur die vervloekings wat hulle uitspreek,
en die leuens wat hulle praat.
14Vernietig hulle in u toorn,
wis hulle heeltemal uit.
Dan sal almal weet dat God oor sy volk Jakob en oor die hele aarde regeer. Sela
15Hulle kom altyd in die aand terug,
hulle grom soos honde en loop in die stad rond.
16Hulle dwaal rond agter prooi aan
en as hulle nie genoeg kry nie, tjank hulle.
17Maar ék sal sing van u mag,
elke môre sal ek jubel oor u trou,
want U is vir my 'n veilige vesting,
'n skuilplek in tyd van nood.
18Tot u eer wil ek sing, U, my Sterkte,
want U is my veilige vesting,
U is my troue God.

Currently Selected:

PSALMS 59: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy