YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 26

26
1Soos sneeu in die somer en reën in die oestyd,
so min pas dit dat 'n dwaas eer ontvang.
2Soos voëltjies wat verbyvlieg en nie gaan sit nie,
so gaan 'n vervloeking by jou verby as jy dit nie verdien nie.
3'n Sweep vir 'n perd, 'n toom vir 'n donkie,
en 'n lat vir 'n dwaas.
4Moenie 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier beantwoord nie;
hy sal dink jy is soos hy.
5Beantwoord 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier,
anders dink hy hy het wysheid.
6As jy 'n dwaas met 'n boodskap stuur,
kan jy net so wel nie 'n boodskap stuur nie
en aanvaar dat daar moeilikheid kom.
7'n Lam mens se bene hang nutteloos aan hom;
net so nutteloos is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas.
8Om 'n klip in 'n slingervel vas te bind,
dit is wat dit beteken om aan 'n dwaas mag te gee.
9'n Doring in 'n dronk man se hand,
so is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas.
10'n Boogskutter wat nie omgee wie hy raakskiet nie,
so is iemand wat 'n dwaas of sommer 'n verbyganger huur.
11Soos 'n hond wat na sy braaksel toe terugkom,
so is 'n dwaas wat dieselfde dwaasheid weer begaan.
12Jy sien self: vir iemand wat dink hy het die wysheid in pag,
is daar minder hoop as vir 'n dwaas.
13Die luiaard se verskoning is:
“Daar is 'n leeu in die pad!
Daar is 'n leeu in die straat!”
14'n Deur bly op sy skarnier draai;
'n luiaard bly omdraai op sy bed.
15Die luiaard steek sy hand in die skottel,
maar hy is te lui om dit terug te bring na sy mond toe.
16Die luiaard dink hy het meer wysheid
as sewe mense wat verstandige antwoorde kan gee.
17Iemand wat 'n kwaai hond sommer aan die ore pak,
so is iemand wat woedend instorm in 'n rusie wat hom nie aangaan nie.
18Soos 'n mal mens wat dodelike pyle rondskiet,
19so is iemand wat 'n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer.”
20Sonder hout bly 'n vuur nie brand nie;
sonder 'n kwaadstoker hou 'n rusie nie aan nie.
21Daar is houtskool nodig vir gloeiende kole, hout vir 'n vuur,
en 'n twissiek mens vir rusie stook.
22'n Geskinder is soos lekker kos,
mense sluk dit so maklik.
23Soos om 'n potskerf met silwer oor te trek,
so is dit om slegte bedoelings agter mooi woorde weg te steek.
24Iemand kan sy haat verbloem met wat hy sê,
maar binne hou hy by sy valsheid.
25As hy vriendelik praat, moet hom nie glo nie;
hy is vol bose bedoelings.
26Hy verberg sy haat agter 'n valse skyn,
maar van die onheil wat hy gaan doen, sal almal weet.
27Wie 'n gat vir 'n ander grawe, val self daarin;
die klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom.
28'n Leuenaar haat dié wat hy seermaak;
'n vleier bewerk 'n ander se ondergang.

Currently Selected:

SPREUKE 26: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy