YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 28

28
Offers
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Beveel die Israeliete om op die bestemde tyd die offer te bring wat My toekom, die voedsel vir my vuuroffers wat deur My aanvaar word.”
Daaglikse offers
3“Sê vir hulle: Julle moet die volgende vuuroffer vir die Here bring: twee jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek as gereelde brandoffers vir elke dag. 4Offer een lam in die môre en een teen die aand 5saam met een en 'n half kilogram meel as graanoffer, gemeng met 'n liter suiwer olie. 6Dit is die gereelde brandoffer wat al by Sinaiberg gebring is, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. 7Wanneer julle die eerste lam offer, moet julle 'n liter wyn as drankoffer vir die Here by die heiligdom uitgiet. 8Julle moet die tweede lam teen die aand offer, met dieselfde hoeveelheid meel, olie en wyn daarby as in die oggend. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”
Offers op die sabbat
9“Op die sabbat moet julle twee jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek offer, met daarby drie kilogram meel wat met olie gemeng is as graanoffer en met 'n drankoffer daarby. 10Dit is die brandoffer vir elke sabbat afgesien van die gereelde brandoffer en die drankoffer daarby.”
Maandelikse offers
11“Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here as brandoffer bring twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers, almal sonder liggaamsgebrek. 12Saam met elke bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met elke ram drie kilogram, 13en saam met elke lam een en 'n half kilogram. Dit is die brandoffer, die vuuroffer, wat deur die Here aanvaar word. 14Die drankoffer saam met elke bul is twee liter wyn, saam met elke ram een en 'n derde liter en saam met elke lam een liter. Dit is die brandoffer wat deur die jaar elke maand gebring moet word. 15Afgesien van die gereelde brandoffer met die drankoffer daarby, moet 'n bokram as sondeoffer vir My gebring word.”
Offers by die paasfees
16“Die paasfees moet op die veertiende van die eerste maand tot eer van die Here gevier word. 17Op die vyftiende van dié maand moet daar 'n fees wees. Julle moet sewe dae lank net ongesuurde brood eet. 18Op die eerste van die sewe dae moet daar 'n gewyde byeenkoms wees, dan mag julle geen gewone werk doen nie. 19Julle moet vir die Here 'n vuuroffer, 'n brandoffer bring van twee jong bulle, 'n ram en sewe jaaroud lammers, almal sonder liggaamsgebrek. 20Saam met elke bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram, 21en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram. 22Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring om vir julle versoening te doen. 23Julle moet hierdie offers bring afgesien van die gereelde brandoffers in die môre. 24So moet julle sewe dae lank elke dag 'n voedseloffer, 'n vuuroffer, bring wat deur die Here aanvaar word. Dié offers moet gebring word afgesien van die gereelde brandoffer met die drankoffer daarby. 25Ook op die sewende dag moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees, dan mag julle geen gewone werk doen nie.”
Offers by die fees van die weke
26“Sewe weke na paasfees wanneer julle die fees van die weke tot eer van die Here begin vier en die graanoffer uit die nuwe oes bring, moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees, dan mag julle geen gewone werk doen nie. 27Julle moet vir die Here as brandoffer wat deur Hom aanvaar word, twee jong bulle, 'n ram en sewe jaaroud lammers bring. 28Saam met elke bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram, 29en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram. 30Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring om vir julle versoening te doen. 31Julle moet hierdie offers bring met die drankoffers daarby, afgesien van die gereelde brandoffer en die graanoffer daarby. Julle moet sorg dat die offerdiere sonder liggaamsgebrek is.”

Currently Selected:

NUMERI 28: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy