YouVersion Logo
Search Icon

MIGA 6

6
1Hoor wat die Here sê:
Maak klaar, roep die berge as getuie,
laat die heuwels hoor wat jy te sê het.
2Berge, vaste fondamente van die aarde,
julle moet luister na die saak wat die Here het.
Die Here het 'n saak teen sy volk,
Hy het Israel aangekla.
3My volk, wat het Ek jou aangedoen?
Hoe het Ek jou moeg gemaak?
Antwoord My!
4Ek het jou uit Egipte gebring,
Ek het jou uit die plek van slawerny gered,
Ek het vir Moses gestuur om jou te lei,
ook vir Aäron en Mirjam.
5My volk, dink aan die planne van koning Balak van Moab,
en wat Bileam seun van Beor hom geantwoord het.
Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal,
en weet dat die Here julle die oorwinning laat behaal het.
6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek met offers na Hom toe gaan,
met jaaroud kalwers?
7Sal die Here duisende ramme aanvaar
saam met tienduisende offers van olie?
Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde,
hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding?
8Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
9Om die Here te dien, dit is wysheid.
Die Here roep die stad;
luister, leier en julle almal wat aanhou roof:
10Goddelose plek, moet Ek die verkeerde maatlyn bly verdra,
of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat?
11Moet Ek die eienaar van 'n onbetroubare weegskaal vryspreek,
een met 'n sak vol vals gewigte?
12Die stad se ryk mense pleeg geweld,
sy inwoners lieg en hulle bedrieg.
13Daarom het Ek jou begin straf;
Ek het jou begin verwoes oor jou sondes.
14Jy sal eet en nie genoeg kry nie;
jy sal honger bly.
Jy sal geboortepyne hê,
maar nie 'n kind in die wêreld bring nie.
En wanneer jy 'n kind in die wêreld bring,
gee Ek hom vir die swaard.
15Jy sal saai, maar nie oes nie,
jy sal olywe pars, maar jou nie met olie insmeer nie,
jy sal druiwe pars, maar nie wyn drink nie.
16Jy het Omri se reëlings nagekom,
gedoen wat Agab gedoen het,
hulle raad gevolg.
Daarom sal Ek jou verwoes,
Ek sal jou inwoners 'n bespotting maak.
Jy sal my volk se vernedering moet dra.

Currently Selected:

MIGA 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy