YouVersion Logo
Search Icon

MIGA 4

4
Uit Sion kom die openbaring
1Daar kom 'n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Die volke sal daarheen stroom,
2baie nasies sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”
3Hy sal oordeel tussen baie volke,
regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon.
Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.
4Elke man sal onder sy eie wingerd sit,
ongesteurd onder sy vyeboom.
Die Here die Almagtige het dit gesê.
5Elke nasie kan maar lewe in die naam van sy god,
ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe.
6Daardie dag, sê die Here,
sal Ek dié wat kreupel is, bymekaarmaak,
sal Ek dié wat verstrooi is, vergader,
en ook dié wat Ek met rampe getref het.
7Ek sal die kreupeles die oorblyfsel maak,
die siekes 'n sterk nasie.
Ek, die Here, sal op Sionsberg oor hulle heers,
nou en vir altyd.
Hulle ken nie die plan van die Here nie
8Verlate vesting, Sionsheuwel,
die beloftes aan jou sal vervul word:
jy sal weer heers soos voorheen,
Jerusalem sal weer die hoofstad wees.
9Waarom skreeu jy so hard?
Het jy nie 'n koning nie?
Het jou raadgewer omgekom
dat kraampyne jou oorval het?
10Krul van die pyn, Sion, kry geboortepyne
soos 'n vrou in kraam!
Jy moet nou die stad verlaat,
jy moet in die oop veld gaan woon
en na Babel toe gaan.
Daar sal jy gered word,
daar sal die Here jou verlos uit die mag van jou vyande.
11Nou moet baie nasies nog eers teen jou saamstaan,
hulle sê:
“Ons sal toekyk hoe Sion verontreinig word.”
12Maar hulle ken nie die plan van die Here nie;
hulle verstaan nie wat Hy besluit het nie:
Hy het hulle soos gerwe op 'n dorsvloer bymekaargebring.
13Maak klaar en dors die gerwe, Sion!
Ek maak jou sterk:
Ek gee vir jou bronskloue
sodat jy baie nasies kan vermorsel.
Jy sal aan die Here wy wat hulle buitgemaak het,
al hulle besittings aan die Koning van die hele wêreld.
14Jy is nou vasgevang, rowerstad!
Ons word beleër!
Die vyand sal die koning van Israel
met 'n kierie op die kakebeen slaan.

Currently Selected:

MIGA 4: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy