YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 7

7
Reëlings oor die skuldoffer
1“Die skuldoffer is 'n besondere gewyde gawe. Die reëlings daaroor is soos volg: 2die skuldofferdier word geslag op dieselfde plek as die brandoffer en sy bloed word rondom teen die altaar gesprinkel. 3Al die vet word aangebied: die vetstert, die vet wat die binnegoed bedek, 4die twee niertjies met die vet oor hulle teen die kruis en die lewerpunt wat saam met die niertjies verwyder word. 5Die priester verbrand dit op die altaar. Dit is 'n vuuroffer vir die Here. Dit is die skuldoffer. 6Enige manlike persoon onder die priesters mag die skuldoffer eet. Dit is 'n besondere gewyde gawe. Dit word op die gewyde plek geëet. 7Die aanwysings vir die skuldoffer is dieselfde as dié vir die sondeoffer. Dit kom die priester toe wat daarmee vir iemand versoening doen.”
Die priester se aandeel aan die brandoffer en die graanoffer
8“Waar 'n priester vir iemand 'n brandoffer aanbied, kom die vel van die offerdier die priester toe wat die offer aanbied.
9“Elke graanoffer wat in 'n oond gebak is, en dié wat in 'n bakpan of op 'n bakplaat gaargemaak is, kom die priester toe wat die offer aanbied.
10“Elke graanoffer wat met olie aangemaak is, en ook dié sonder olie, kom egter die seuns van Aäron toe, sonder voorkeur.”
Reëlings oor die maaltydoffer
11“Die reëlings oor die maaltydoffers wat vir die Here aangebied word, is soos volg: 12as iemand dit aanbied as dankoffer, bied hy saam met die dankoffer ongesuurde ringbrood aan, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, of 'n deegmengsel vir ringbrood, met olie geknie. 13Hy bied sy offer aan saam met ringbrood met suurdeeg, saam met sy maaltydoffer waarmee hy sy dank wil uitspreek. 14Hy bied een brood uit elk van hierdie offers aan as 'n spesiale gawe aan die Here. Die priester wat die bloed van die maaltydoffers sprinkel, kry die brood.
15“Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer. Dit mag nie oorstaan tot die volgende môre nie.
16“As iemand 'n offer aanbied om 'n gelofte na te kom of as hy 'n ander vrywillige offer aanbied, word die vleis dieselfde dag geëet. Wat oorbly, mag ook nog die volgende dag geëet word, 17maar wat op die derde dag nog oor is, moet verbrand word. 18As daar tog op die derde dag van die maaltydoffervleis geëet word, word dit nie meer as offer aanvaar nie en tel dit nie in die guns van die offeraar nie. Die offervleis is dan onrein, en wie daarvan eet, is skuldig.
19“Vleis wat geraak het aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie; dit moet verbrand word.
“Iemand wat rein is, mag offervleis eet, 20maar die persoon wat terwyl hy onrein is, eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet van sy volksgenote afgesny word. 21As iemand aan iets onreins van 'n mens of van 'n dier raak, aan enigiets wat afstootlik en onrein is, en so iemand eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet dié persoon van sy volksgenote afgesny word.”
Verbod op die eet van vet en bloed
22Die Here het vir Moses gesê: 23“Sê vir die Israeliete: Julle mag geen vet van beeste, skape en bokke eet nie. 24Die vet van 'n dooie dier of van 'n dier wat deur roofdiere gevang is, mag wel gebruik word, maar dit mag glad nie geëet word nie. 25Iemand wat die vet eet van 'n dier wat as vuuroffer vir die Here aangebied is, moet van sy volksgenote afgesny word.
26“Julle mag, waar julle ook al woon, geen bloed eet nie, nie van voëls of van diere nie. 27Iemand wat enige bloed eet, moet van sy volksgenote afgesny word.”
Die priesters se aandeel aan die maaltydoffers
28Die Here het vir Moses gesê: 29“Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand vir die Here 'n maaltydoffer aanbied, moet hy self uit sy maaltydoffer 'n offer aan die Here bring. 30Hy moet dit met sy eie hand as vuuroffer vir die Here bring. Hy moet die vuuroffer, die vet van die bors, saam met die bors bring en dit in die teenwoordigheid van die Here heen en weer beweeg as 'n beweegoffer. 31Die priester verbrand dan die vet op die altaar, maar die bors kom Aäron en sy seuns toe.
32“Julle moet die regterboud van die maaltydofferdier as 'n offergawe aan die priester gee. 33Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed en die vet van die maaltydoffers hanteer, het aanspraak op die regterboud as sy aandeel.
34“Die Here het die bors van die beweegoffer en die boud wat as offergawe gebring is, uit die maaltydoffers van Israel gevat en dit aan die priester Aäron en sy seuns gegee. Dit is 'n vaste instelling vir die Israeliete.
35“Dit is die aandeel van Aäron en sy seuns aan die vuuroffers van die Here, van die dag af dat hulle as priesters vir die Here gewy is. 36Die dag toe hulle gesalf is, het die Here beveel dat hulle dié gawes van die Israeliete moet ontvang. Dit is 'n vaste instelling, ook vir hulle nageslag.”
37Dit is dan die reëlings vir die brandoffer, die graanoffer, die sondeoffer, die skuldoffer, die offers by die priesterwyding en die maaltydoffers. 38So het die Here aan Moses opdrag gegee by Sinaiberg in die Sinaiwoestyn die dag toe Hy die Israeliete beveel het om vir Hom offers te bring.

Currently Selected:

LEVITIKUS 7: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy