YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 18

18
Die verdeling van die res van die land
1Die hele Israelitiese volksvergadering het in Silo bymekaargekom en die tent van ontmoeting daar opgeslaan. Die land was nou onderwerp, 2maar daar was nog sewe van die Israelitiese stamme wat nie hulle eie grondgebied ontvang het nie. 3Josua het vir die Israeliete gesê: “Hoe lank gaan julle nog talm voor julle die land in besit gaan neem wat die Here die God van julle voorvaders aan julle gegee het? 4Bring drie man uit elke stam dat ek hulle kan stuur en dat hulle die res van die land kan deurgaan en 'n beskrywing kan maak van die verskillende dele en dit vir my bring. 5Hulle moet die gebied in sewe dele verdeel. Juda behou sy gebied in die suide, en die nageslag van Josef hulle s'n in die noorde.
6“Julle moet 'n beskrywing maak van die sewe dele van die land en dit vir my bring dat ek die loting hier in die teenwoordigheid van die Here ons God kan maak. 7Die Leviete kry nie 'n deel saam met julle nie, want hulle besondere voorreg is die priesterskap in diens van die Here. Gad, Ruben en die helfte van Manasse het hulle deel oos van die Jordaan gekry waar Moses, die dienaar van die Here, dit aan hulle toegeken het.”
8Die manne het toe klaargemaak en vertrek. By hulle vertrek om 'n beskrywing van die land te maak, het Josua hulle beveel: “Gaan die land deur, maak 'n beskrywing daarvan en kom terug na my toe dat ek vir julle die loting hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here kan doen.”
9Die manne is weg en het die land deurgegaan en in 'n boek 'n beskrywing van die sewe dele opgeteken, stad vir stad. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo. 10Josua het toe die loting daar in Silo in die teenwoordigheid van die Here gedoen en die land tussen die Israelitiese stamme verdeel.
Die stamgebied van Benjamin
11Aan die families in die stam Benjamin is deur loting 'n gebied toegeken tussen dié van Juda en Josef. 12Aan die noordekant begin hulle grens by die Jordaan en dit loop dan op teen die hang noord van Jerigo, teen die berge uit weswaarts en dan loop dit tot teen die woestyn van Bet-Awen. 13Daarvandaan loop die grens oor na Lus toe, teen die hang suid van Lus, dit is Bet-El, en dan af na Atrot-Addar toe op die berg suid van Bet-Goron-Onder. 14Dan draai die grens en swaai westekant toe suid van die berg regoor Bet-Goron en loop dood by Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, 'n stad wat aan Juda behoort. Dit is die westelike grens. 15Die suidelike grens begin teenaan Kirjat-Jearim, loop wes en kom uit by Neftoagsfontein, 16en loop dan af na die voet van die berg regoor Ben-Hinnomdal, noord van Spooklaagte. Dan loop die grens met die Hinnomdal af na die hang suid van die Jebusietestad en af na Rogelfontein toe, 17draai noord en loop na Semesfontein toe, aan na Gelilot toe regoor Adummimspas en af tot by die Klip van Bohan seun van Ruben. 18Dan loop dit noord van die hang regoor die Jordaanvallei verby en af na die Jordaanvallei toe, 19noord van die hang van Bet-Gogla verby en loop dood by die noordelike punt van die Soutsee, waar die Jordaan inloop. Dit is die suidelike grens. 20Die Jordaan self vorm die oostelike grens. Dit is dan die grense rondom die grondgebied van die families in die stam Benjamin.
21Die stede van die families in die stam Benjamin is Jerigo, Bet-Gogla, Kesisdal, 22Bet-Araba, Semarajim, Bet-El, 23Awwim, Para, Ofra, 24Kefar-Ammoni, Ofni en Geba, twaalf stede met hulle buiteposte, 25verder Gibeon, Rama, Beërot, 26Mispa, Kefira, Mosa, 27Rekem, Jirpeël, Tarala, 28Sela, Elef, Jebusietestad, dit is Jerusalem, Gibea en Kirjat, veertien stede met hulle buiteposte. Dit is die besitting van die families in die stam Benjamin.

Currently Selected:

JOSUA 18: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy