YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 13

13
Josua kry opdrag om die land te verdeel
1Josua was al baie oud. Die Here het vir hom gesê: “Jy is al baie oud, en daar is nog 'n baie groot deel van die land wat in besit geneem moet word.
2“Onder die deel wat oorbly, is daar al die Filistynse gebiede en die hele Gesurgebied. 3Die gebied van die Sigor af teen Egipte tot by die Ekrongebied in die noorde word as Kanaänitiese gebied beskou. Dit is die gebiede van die vyf Filistynse regeerders, dié van Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron, en dit sluit die gebied van die Awwiete in.
4-5“Verder is daar die hele Kanaänitiese gebied van Teman af, die Gebalgebied van Meara af wat aan die Sidoniërs behoort, tot by Afek aan die Amoritiese grens en die hele Libanon aan die oostekant, van Baäl-Gad suid van Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.
6“Ek sal al die bewoners van die bergwêreld verdryf om vir die Israeliete plek te maak, van die Libanon af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs. Intussen moet jy hierdie gebiede as besitting aan Israel toewys soos Ek jou beveel het. 7Verdeel dus nou die land vir die nege stamme en die halwe Manassestam.”
Die Israelitiese gebied oos van die Jordaan
8Saam met die ander helfte van die Manassestam het die stamme Ruben en Gad reeds hulle besitting ontvang wat Moses aan hulle toegeken het oorkant die Jordaan, aan die oostekant. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebied aan hulle toegeken: 9van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad aan die rivier, die hele Medebahoogvlakte tot by Dibon, 10al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het, tot aan die Ammonitiese grens, 11Gilead met die gebiede Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka 12met insluiting van die hele koninkryk van Og in Basan wat in Astarot en Edreï geregeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en verdryf. 13Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka verdryf nie, en hulle woon nou nog tussen die Israeliete.
14Net aan die stam Levi het Moses nie 'n eie besitting toegeken nie. Die Leviete is offers aan die Here die God van Israel en hulle ontvang van wat Hom toekom, soos Hy hulle beloof het.
Die stamgebied van Ruben
15Aan die families in die stam Ruben het Moses die volgende gebied toegeken: 16van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, van die stad af aan die rivier, die hele hoogvlakte tot by Medeba, 17en tot by Gesbon met al sy stede op die hoogvlakte: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon, 18Jahas, Kedemot, Mefaät, 19Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg in die laagte, 20Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot, 21al die stede op die hoogvlakte, die hele koninkryk van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het. Moses het vir Sihon verslaan en ook die Midianitiese leiers Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, stamhoofde wat aan Sihon onderhorig was en in die land gewoon het. 22Die waarsêer Bileam seun van Beor is een van dié wat deur die Israeliete doodgemaak is. 23Die gebied van die stam Ruben het aan die Jordaan gegrens.
Dit was dan die besitting van die families in die stam Ruben, die stede en hulle buiteposte.
Die stamgebied van Gad
24Aan die families in die stam Gad het Moses die volgende gebied toegeken: 25Jaser, al die stede in Gilead, die helfte van die Ammonitiese gebied tot by Aroër wat regoor Rabba lê, 26van Gesbon af tot by Ramat-Mispe en Betonim, van Maganajim af tot aan die grens van Lo-Dabar, 27en in die laagte Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon, die oorblywende deel van die koninkryk van koning Sihon van Gesbon, die Jordaanstreek tot aan die Gennesaretmeer, die streek oos van die Jordaan.
28Dit was dan die besitting van die families van die stam Gad, die stede en hulle buiteposte.
Die stamgebied van die een helfte van Manasse
29Aan die families in die halwe Manassestam het Moses die volgende gebied toegeken: 30van Maganajim af die hele Basan, die hele koninkryk van koning Og van Basan, al die tentdorpe van Jaïr in Basan, sestig altesaam, 31die helfte van Gilead, en Astarot en Edreï, die koningstede van Og in Basan. Dit is wat die nakomelinge van Makir seun van Manasse ontvang het, die families in die een helfte van die nakomelinge van Makir.
32Dit is dan die gebied wat Moses toegeken het in die Moabsvlakte oorkant die Jordaan, regoor Jerigo, aan die oostekant. 33Aan die stam Levi het Moses nie 'n eie besitting toegeken nie. Hulle ontvang van wat die Here die God van Israel self toekom, soos Hy hulle beloof het.

Currently Selected:

JOSUA 13: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy