YouVersion Logo
Search Icon

JOËL 3

3
Die nasies word gestraf
1-2In daardie tyd sal Ek
al die nasies bymekaarmaak;
dit is die tyd wanneer Ek die lot van Juda
en Jerusalem sal verander.
Dan sal Ek die nasies in die Josafatlaagte afbring
en daar sal Ek hulle straf
omdat hulle my volk, Israel wat aan My behoort,
onder die nasies verstrooi het
en my land vir hulle gevat het.
3Ek sal hulle straf
omdat hulle lootjies getrek het oor my volk,
omdat hulle 'n jong seun gegee het in ruil vir 'n hoer
en jong meisies verkoop het vir wyn om te drink.
4En júlle, Tirus en Sidon en die hele gebied van die Filistyne,
wat is julle vir My?
Wil julle julle op My wreek vir wat julle aangedoen is?
As julle julle op My wil wreek, sal Ek gou optree
en julle dade op julle eie kop laat afkom.
5Julle het my silwer en my goud gevat,
julle het my kosbare skatte in julle tempels gebring.
6Julle het die mense van Juda en Jerusalem
in Griekeland gaan verkoop,
julle het hulle ver weg uit hulle gebied uit weggevat,
7maar Ek sal hulle laat uitbreek uit daardie plek uit,
die plek waarnatoe julle hulle verkoop het,
en dan sal Ek julle dade op julle eie kop laat afkom.
8Ek sal julle seuns en dogters verkoop aan die mense van Juda,
en hulle sal julle kinders verkoop aan die mense van Skeba,
'n nasie wat ver van hier af is.
Die Here het dit gesê.
9Sê vir die nasies:
“Maak julle klaar vir 'n oorlog,
roep julle dapper manne op!
Al julle soldate moet opruk en nader storm.
10Maak swaarde van julle ploegskare,
en spiese van julle snoeiskêre.
Selfs die swakke moet sê: ‘Ek is 'n dapper soldaat!’
11Maak gou en kom, al julle nasies van die omgewing.”
Laat hulle bymekaarkom,
en bring u leërmag af daarheen, Here!
12Die nasies moet aanstorm
en opruk na die Josafatlaagte toe,
want dáár sal Ek sit
om al die nasies van die omgewing te straf.
13Hulle sondes is baie:
steek die sekel in, want die oes is ryp,
kom trap, die parskuip is vol,
die wynkuipe loop oor.
14Daar is mense en nogmaals mense in die beslissingslaagte,
want naby is die dag waarop die Here sal straf
in die beslissingslaagte.
15Die son en die maan sal donker word,
die sterre sal nie meer skyn nie.
16Die Here sal uit Sion brul,
Hy sal sy stem uit Jerusalem laat hoor,
en hemel en aarde sal bewe.
Die Here is 'n toevlug vir sy volk,
'n veilige vesting vir die Israeliete.
17Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is.
Ek woon op Sion, my heilige berg.
Dan sal Jerusalem heilig wees,
vreemde nasies sal nie meer daardeur trek nie.
18Daardie dag sal daar volop wyn wees op die berge,
oorvloed melk op die heuwels.
In al die slote van Juda sal daar water loop,
'n fontein sal uit die huis van die Here borrel
en die Sittimdal natlei.
19Egipte sal van droogte vergaan,
Edom sal 'n onbewoonbare woestyn word,
want hulle het die mense van Juda wreed behandel
en onskuldige bloed vergiet in hulle land.
20Maar Juda sal sonder ophou bewoon word
en Jerusalem vir altyd.
21Ek sal my volk se sonde vergewe,
die sonde wat Ek nog nie vergewe het nie,
en Ek, die Here, sal op Sion woon.

Currently Selected:

JOËL 3: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy