YouVersion Logo
Search Icon

JOB 32

32
Elihu: Voor God is ek en jy gelyk
1Toe die drie vriende ophou om Job te antwoord omdat hy volgehou het dat hy onskuldig is, 2het Elihu seun van Barakel, 'n Bussiet uit die familie van Ram, kwaad geword vir Job. Elihu het kwaad geword omdat Job volgehou het dat hy reg het, nie God nie. 3Elihu was ook kwaad vir die drie vriende van Job omdat hulle Job nie reg geantwoord het nie en nie aangetoon het dat hy skuldig is nie. 4Terwyl die vriende met Job aan die praat was, het Elihu stilgebly, want hulle was ouer as hy. 5Maar toe hy merk dat die drie manne Job nie verder antwoord nie, het hy kwaad geword.
6Elihu seun van Barakel die Bussiet het begin praat:
“Ek is jonk, en julle is grysaards.
Daarom was ek huiwerig,
ek was bang om vir julle te sê wat ek weet.
7Ek het gedink: laat die ouderdom praat,
laat die ervaring sy wysheid meedeel.
8Maar dit is die gees in die mens
wat die mens insig gee,
die gees wat van die Almagtige af kom.
9Dit is nie die baie jare wat verstandig maak
en aan oumense insig gee in wat reg is nie.
10Daarom sê ek: Luister na my,
ek sal ook sê wat ek weet.
11Ek het julle laat praat,
ek het geluister na julle argumente
om te kyk of julle by die regte antwoord uitkom.
12My aandag was op julle toegespits,
maar nie een van julle het vir Job behoorlik berispe
of sy argumente weerlê nie.
13Moet nou net nie sê:
‘Ons het die wysheid gevind;
God, nie 'n mens nie, sal met Job afreken’ nie.
14Met my het Job nog nie geargumenteer nie,
en met júlle argumente sal ék hom nie pak nie.
15As die vriende verslae staan,
as hulle niks meer het om te sê nie,
as woorde hulle ontbreek,
16as hulle nie praat nie,
as hulle daar staan en verder niks sê nie,
moet ek nog langer stilbly?
17Ek wil ook 'n beurt hê om te praat,
ek wil ook sê wat ek weet.
18Ek het baie om te sê,
my gees dwing my om te praat.
19Dit kook in my
soos wanneer wyn nie klaar gegis het nie
en selfs nuwe wynsakke wil laat oopbars.
20Ek moet praat, ek moet my gemoed lug,
ek moet vir Job begin antwoord.
21Ek sal niemand voortrek nie,
ek sal vir niemand partydig wees nie.
22Partydig wees kan ek nie,
want dan sou my Maker my in 'n oogwink laat verdwyn.

Currently Selected:

JOB 32: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy