YouVersion Logo
Search Icon

JOB 21

21
Job: Waarom word die goddeloses ryk en vernaam?
1Toe het Job weer gepraat:
2“Luister goed na my woorde;
so sal julle my die beste troos.
3Verdra my terwyl ek praat,
en as ek klaar gepraat het, kan julle my verder bespot.
4My klag is nie teen mense nie.
Waarom mag ek dan nie ongeduldig word nie?
5Kyk na my, dan sal julle verstom staan
en van verbasing die hand op die mond lê.
6As ek hieraan dink, skrik ek,
gaan ek aan die bewe:
7Waarom bly die goddeloses aan die lewe,
word hulle oud en ryk en vernaam?
8Hulle kinders raak gevestig rondom hulle,
hulle sien hulle nageslagte.
9Daar is vrede in hulle huise, geen vrees nie,
die straf van God tref hulle nie.
10Hulle bulle dek die koeie en slaan nie een oor nie,
hulle koeie kalf en het geen misgeboorte nie.
11Hulle laat hulle kindertjies los rondloop soos kleinvee,
hulle kleintjies baljaar vrolik rond.
12Hulle sing met begeleiding van die tamboeryn en die lier,
hulle is vrolik by die geluid van die fluit.
13Hulle slyt hulle lewens in voorspoed,
hulle gaan in vrede die doderyk binne.
14Maar tog is dit hulle wat vir God sê: ‘Laat staan ons, ons weier om u wil te ken.
15Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? Watter nut het dit om Hom te aanbid?’
16“Maar hulle voorspoed is nie in hulle eie hande nie,
daarom bly ek weg van die raad wat van goddeloses af kom.
17Hoe dikwels word die lewenslamp van die goddeloses uitgedoof,
kom 'n ramp oor hulle,
laat God in sy toorn onheil oor hulle kom?
18Hoe dikwels is hulle soos kaf voor die wind,
soos stoppels wat weggewaai word deur die stormwind?
19Spaar God dan sy rampe op vir die goddelose se kinders?
God moet hom tog straf dat hy dit self weet!
20Hy moet sy ondergang met sy eie oë sien,
hy moet self die toorn van die Almagtige ondervind.
21Wat kan sy familie hom skeel na sy dood,
as sy lewensdraad afgeknip is?
22“Sou iemand vir God iets kon leer,
vir Hom wat selfs die sterkstes regeer?
23“Die een mens sterf in sy volle krag
terwyl hy heeltemal tevrede en rustig leef,
24terwyl hy blakend gesond is
en volop murg in sy bene het.
25Die ander sterf in bitterheid
sonder dat hy voorspoed gesmaak het.
26Saam lê hulle in die graf,
altwee oortrek van die wurms.
27“Ek ken julle gedagtes,
die slim argumente waarmee julle my wil veronreg.
28Julle sê: ‘Wat word van die huis van 'n belangrike man,
van die wonings van goddeloses?’
29Het julle nie dié wat baie rondgaan, gevra nie,
het julle nie ag geslaan op wat hulle vertel nie?
30Hulle sê 'n slegte man word op die dag van onheil gered,
hy word op die dag van toorn verskoon.
31Wie spreek hom in sy gesig aan oor sy slegte gedrag,
wie vergeld hom vir wat hy gedoen het?
32“Hy word na die graf gedra,
en by die hopie grond word daar wag gehou.
33Die kluite van die graf pla hom nie.
Alle mense volg hom daarheen,
en voor hom is mense sonder tal daarnatoe.
34Hoe kan julle my dan met sinlose praatjies probeer troos?
Julle argumente is niks anders as bedrog nie.”

Currently Selected:

JOB 21: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy