YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 19

19
Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt. 27:22-31; Mark. 15:12-20; Luk. 23:20-25)
1Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gesel. 2Die soldate het 'n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom 'n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.
4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”
5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”
6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”
7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”
8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”
11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”
12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”
13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”
15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie 'n koning nie; ons het net die keiser.”
16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.
Jesus word gekruisig
(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
19Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”
22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.
Jesus sterwe
(Matt. 27:45-56; Mark. 15:33-41; Luk. 23:44-49)
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”
29Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.
31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was 'n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.
35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En verder sê die Skrif op 'n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”
Jesus word begrawe
(Matt. 27:57-61; Mark. 15:42-47; Luk. 23:50-56)
38Hierna het Josef van Arimatea, wat 'n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat 'n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en 'n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.
41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar 'n tuin en in die tuin 'n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Currently Selected:

JOHANNES 19: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy