YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 43

43
Die vlug na Egipte toe
1Maar toe Jeremia klaar vir al die mense alles gesê het wat die Here hulle God gesê het en wat Hy vir hulle laat weet het, al hierdie woorde, 2het Asarja seun van Hosaja, en Joganan seun van Kareag, en al die ander hooghartige manne, vir Jeremia gesê: “Jy lieg! Die Here ons God het jou nie beveel om vir ons te sê ons moenie na Egipte toe gaan om daar te gaan woon nie. 3Dit is Baruk seun van Nerija wat jou teen ons opstook om ons in die mag van die Galdeërs te laat beland sodat hulle ons kan doodmaak of ons na Babel toe kan verban!”
4Joganan seun van Kareag, die leëraanvoerders en die manskappe wou nie een die Here gehoorsaam en in Juda bly nie. 5Hulle het almal saamgevat wat van Juda oor was, wat van oral waar hulle onder die ander nasies verstrooi was, teruggekom het om in Juda te bly, 6mans, vrouens en kinders, en ook die prinsesse en al die ander wat deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan onder die sorg van Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, geplaas was, ook die profeet Jeremia en Baruk seun van Nerija. 7Joganan-hulle het die Here nie gehoorsaam nie en is na Egipte toe. Daar het hulle in Tagpanges aangekom.
Nebukadnesar sal Egipte verower
8Die woord van die Here het in Tagpanges tot Jeremia gekom: 9Vat groot klippe en begrawe hulle in die grond, in die kleivloer van die ingang na die farao se paleis in Tagpanges. Doen dit terwyl van die Judeërs jou sien. 10Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek laat my dienaar koning Nebukadnesar van Babel haal en Ek sit sy troon bo-oor dié klippe wat Ek laat begrawe het en Ek span sy troonhemel daaroor. 11Nebukadnesar sal kom en Egipte verslaan. Wie aan pes moet sterf, sal aan pes sterf; wie as gevangene weggevoer moet word, sal as gevangene weggevoer word; wie met die swaard doodgemaak moet word, sal met die swaard doodgemaak word. 12Ek sal die tempels van Egipte afbrand en Nebukadnesar sal die gode verbrand of hulle as buit saamvat. Hy sal Egipte so skoon stroop soos wanneer 'n skaapwagter luise soek in sy klere, en daarna sal hy ongehinderd vertrek. 13Hy sal die klippilare in Bet-Semes stukkend slaan, Bet-Semes in Egipte, en hy sal die tempels van Egipte afbrand.

Currently Selected:

JEREMIA 43: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy