YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 3

3
Kom terug!
1Die Here vra: Mag 'n man
as hy van sy vrou skei
en sy hom verlaat en 'n ander man se vrou word,
na haar toe teruggaan?
Sou die land nie vreeslik verontreinig word nie?
En jy wat by so baie minnaars geslaap het,
wil jy na My toe terugkom? vra die Here.
2Kyk op na die heuweltoppe:
waar het jou minnaars nie by jou geslaap nie?
Langs die paaie het jy vir hulle gesit en wag
soos 'n Arabier in die woestyn,
en jy het die land verontreinig met jou onsedelikheid,
met jou slegte gedrag.
3Daarom het Ek die reënbuie teruggehou
en het die vroeë reëns nie gekom nie,
maar jy het soos 'n hoer geen berou getoon nie,
jy het geweier om jou te skaam.
4En nou noem jy My skielik: “My vader,”
en sê jy: “U is my vriend vandat ek 'n kind was.
5Sal U vir altyd kwaad wees, vir altyd toornig wees?”
Dit is wat jy gesê het,
maar jy het verkeerd bly doen net waar jy kon.
6Dit was tydens die regering van koning Josia. Die Here het vir my gesê: Het jy gesien wat die ontroue Israel gedoen het? Sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom gaan ontug pleeg! 7Ek het gedink: nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My toe terugkom, maar sy het nie teruggekom nie. En haar ontroue suster Juda het dit alles aanskou.
8Toe Ek die trouelose Israel oor al haar ontrou verstoot en die skeibrief aan haar gegee het, het Ek gesien dat haar ontroue suster Juda nie afgeskrik is nie. Ook sy het gaan ontug pleeg. 9Dit was vir Israel niks om haarself en die land te verontreinig nie, sy het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van klip en hout. 10En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here.
11Toe het die Here vir my gesê: Die trouelose Israel is minder skuldig as die ontroue Juda. 12Gaan roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê:
Trouelose Israel, kom terug, sê die Here.
Ek sal nie langer vir julle kwaad wees nie,
want Ek is getrou, sê die Here,
Ek bly nie vir altyd kwaad nie.
13Erken net jou skuld,
dat jy teen die Here jou God in opstand gekom het
deur onder elke groen boom vreemde gode te gaan dien
en so aan My ongehoorsaam te wees, sê die Here.
14Kom terug, kinders wat afgedwaal het, sê die Here. Ek maak julle my eiendom. Ek sal julle vat, een uit 'n stad en twee uit 'n familie, en julle na Sion toe bring. 15Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle verstandig en met insig lei. 16Wanneer julle vrugbaar is en baie word in die land, in daardie dae, sê die Here, sal niemand meer uitroep: “Die verbondsark van die Here!” nie; dit sal nie meer in iemand se gedagte opkom nie, niemand sal dit eers meer noem of dit mis nie en niemand sal 'n nuwe maak nie. 17In daardie tyd sal hulle Jerusalem noem: “Die troon van die Here”, en al die nasies sal in Jerusalem bymekaarkom om die Naam van die Here te eer. Hulle sal nie hardkoppig bly nie. 18In daardie dae sal Juda by Israel aansluit en hulle sal saam uit die noordelike landstreek kom na die land wat Ek as besitting aan hulle voorvaders gegee het.
19Ek het gesê:
Hoe graag wil Ek jou 'n seun van My maak
en aan jou 'n lieflike land gee,
'n besitting liefliker as enigiets wat enige nasie het.
Ek het gesê: Noem My “Vader”,
en moet nooit weer van My af wegdraai nie.
20Maar soos 'n vrou wat ontrou is aan haar man,
so was julle, Israel, ontrou aan My, sê die Here.
21Hoor hoe smeek en huil die Israeliete op die heuweltoppe,
want hulle het die verkeerde pad geloop,
hulle het die Here hulle God vergeet.
22Kom terug, kinders wat afgedwaal het,
Ek wil 'n einde maak aan julle afdwaling.
Kyk, ons kom na U toe, want U is die Here ons God!
23Die lawaai op die heuwels, op die berge,
lewer niks op nie.
Die redding van Israel kom net van die Here ons God af.
24Van vroeg af al het die skandegod Baäl die vrug van ons
voorvaders se arbeid verteer, hulle kleinvee en hulle grootvee,
ook hulle seuns en hulle dogters.
25Ons wil in die aarde insink oor die skande,
ons wil wegkruip van skaamte,
want ons het teen die Here ons God gesondig,
ons en ons voorvaders,
van ons jeug af tot vandag toe.
Ons was ongehoorsaam aan die Here ons God.

Currently Selected:

JEREMIA 3: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy